2011/10/29

En ek het vir eers die skêr ingegooi.

 Mei-Mei is heel tevrede met die resultate, en het aangedring daarop om haar goedkeuring te wys deur op die foto te verskyn.

Gerdi het vanoggend heeltemaal gelukkig gelyk, toe sy dit douvoordag kom haal het (sy was natuurlik bang ek wil nie hierdie baba's van my en my moeder afteken nie; sy weet baie goed hoe weerloos is ek in my nou- net-wakkergeword toestand).
Dis 'n groot kompliment as sy tevrede is- sy is 'n kwaai vrou as dit by haar man, kinders en haar Mark kom!
Julle kan dan van Donderdag af gaan kyk wat nog alles by haar Hartmark (by die Hervormde kerk in Midstream) te kope is. Ek het ook 'n voëltjie hoor fluit dat daar allerhande heerlikhede by die teetuin beskikbaar sal wees, so niemand hoef met 'n droë keel of 'n grommende maag inkopies te doen nie. As iemand meer wil weet, los vir my 'n boodskappie.

Reën




maak nog altyd 'n baldadige blywees in my wakker. Miskien omdat ek nog nie die plaaskind in my ontgroei het nie. Ek wil huppel en sing, en kaalvoet loop in die reën, my tone in die modder inwoel. Die beste wat ek hier in die stad kan doen is om straataf te plas, broekspype opgerol, met my gesig en hart na bo gedraai.
Na gistraand se buitjie voel dit asof die bietjie stowwerigheid in my gemoed ook sommer weg gewas is. Vandag skyn die son dan ook skoner, en ek voel sommer lus om 'n paar blommetjies in die grond te druk ter voorbereiding van die groot okasie. Maar helaas, dit sal moet wag , want my Lief met die groen vingers het 'n afspraak in die middel van vandag en sonder hom is 'n kwekery net 'n winkel vol plante. Ek het hom nodig as ek blomme koop, met sy kennis en entoesiasme en groot liefde vir dinge wat groei en blom. Ek sal die uitstappie dan bêre vir more, al is dit Sondag. Ek sal my leesdag vandag neem.
Van blomme gepraat. Die ander dag het ek voor my my masjien sit en verlep. Dit was warm. Nee, snikheet warm. Die waaier het tevergeefs probeer. Ek moes my Seuna by die skool gaan haal na sy rekeningkunde vraestel. Vir een keer in my lewe het ek nie omgegee om te ry nie- my kar het mos lugversorging. Met die terugkom sien ek dit toe: 'n vrou wat letterlik stop en die rose ruik. Van een bos na 'n ander draal sy. Lig een roos na 'n ander om daaraan te ruik. In die bloedige hitte, op die sypaadjie. Ek het natuurlik my rose kom ruik toe ek tuiskom, en dieselfde aand nog vir julle my mooiste roosfoto's bymekaar gesit:

2011/10/22

Ek is so effens onwillig




Om van al hierdie liefies afskeid te neem. Maar soos alle goeie dinge is die projek ook besig om ten einde te loop.

"Ahem" hoor ek iemand keel skoonmaak. "Wat dan van die trourok? Het jy nie oor 'n bietjie meer as 'n maand 'n groot okasie nie?"
Toemaar wees nie bevrees nie, die rok is gesny, en wag langs my naaimasjien. 'n Mens kan tog nie van stikwerk en afstof alleen lewe nie.



Ek moet net vir Oupatjie Uil,




die vrolike geel vinkie, 

                                                                  


'n perfekte ryp aarbei,

                                                                      

'n pienk magrietjie


En allerande ander wonderlike gare-goed wat vanself van my hekelnaald afgeval het op hulle regte plekke vaswerk. Sien julle die appel, die peer, die lemoen, die kolwyntjies, die hartjies... 'n Mens kan in een 7de Laan se tyd sommer 'n paar goedjies klaarkry:)


Ek sal vir julle die eindprodukte wys sodra ek klaar is daarmee. Ek is vreeslik lus om nog 'n paar goedjies te hekel, soos bv. 'n pienk varkie met vlerke (spesiaal vir my sus), 'n gans, 'n kuikentjie, en 'n koppie en piering. En natuurlik katjies- 'n swarte,'n gemmer,'n gryse...

En net voordat ek vanaand groet: dis hoe my matriekkind homself voorberei vir sy eindeksamen. 

(foto geplaas met toestemming van genoemde matriekleerling.)






2011/10/16

Dis vandag Ma en Pa

 se ses en veertigste huweliksherdenking.
Op 16 Oktober 1965 het hulle voor die kansel gestaan en trou beloof. Hulle het hulle belofte aan mekaar gehou, en ten spyte van derduisende duiwels my en my sussie met liefde grootgemaak.
Soos altyd, as ek sukkel om my eie woorde te vind, berroep ek my op 'n gunsteling digteres:





Huweliksherdenking
deur Eveleen Castelyn


soos 'n kloostertuin-
bidsnoer van aandblomme
oopgevou, die maan
papierwit hostie op die tong-
sit ons nou saans
in die begynhof afgesonder:
gesels oor alles
onder die son
op stoele toegerank
in 'n heuningkoek
van lig en skaduwee
en bieg
oor die afgelope
veertig jaar se liefde en pyn-
for better-for worse



2011/10/12

Uiteindelik

Kan ek vir julle wys waaraan ek so geheimsinnig gewerk het: 





'n Hussif. Ek het dit eendag raakgelees in 'n storieboek en gaan opsoek wat dit beteken.  'n Brandende begeerte het in my ontstaan om een te maak. Ek oordryf nie. My arme huismense moes na prente en foto's daarvan kyk. Hulle is onderwerp aan sketse en planne. Ek het  by Die Werksmandjie in gestrompel en uit gehuppel, of andersom, op soek na die regte stukkie materiaal, die regte kleur gare, die regte lint, die regte kantjies. Ek het my baba soos 'n jaloerse ma bewaak, en die katte wat gewoonlik oral mag lê, mag nie binne 'n meter radius daarvan gekom het nie. Dis is in sagte materiaal toegedraai, en na Melanie toe gevat om my vordering te besigtig en te bewonder. As my noointjieskind kom kuier is sy skaars gegroet voordat sy  daarna moes gaan kyk. "Kyk die rosies" het ek gemymer, kyk die ou skoenlappertjies." Maar ek dwaal af.



'n Hussif is 'n naaldwerkstelletjie wat in ou dae vir mans saamgegee is oorlog toe. Hulle moes mos ook maar knope aanwerk en some insit en skeure regmaak. Die soldate het daarna verwys as 'n 'housewife' wat in die volksmond toe 'hussif' geword het. Dit was natuurlik onopgesmuk (ek het een uit die Anglo Boere Oorlog in lewende lywe gesien by die museum by die Vrouemonument in Bloemfontein), maar dames het die handigheid daarvan besef, en vir hulleself ook daarvan begin maak. Eie aan ons vroulike aard, het hulle dit begin versier, en dit het as het ware klein kunswerkies geword. Gaan kyk gerus hier en op een van my gunsteling blogs.



Ek het die vlindertjies van organza lint en krale gemaak.










As 'n mens dit oopvou, lyk dit so:

 Aan die linkerkant is 'n sakkie (van 'n bree stuk katoenkant) vir 'n maatband, lostrekkertjie ens.
 Aan die regterkant 'n plek vir 'n skêrtjie. 'n Lussie met 'n drukkertjie aan keer dat die skêrtjie uitval.














                                                  

In die middel die vingerhoed. Ek het die houertjie gehekel, en die rosies op die punte van die toetrektoutjie borduur.
Dit vou dan nog 'n keer oop
 en daar is ringetjies waaraan sy borduurgare of lint kan vasmaak
 'n naaldeboekie van vilt

 en 'n liewe speldekussintjie.
Onder die skêrtjie is 'n koevertjie vir knopies ens.

Op die agterkant is 'n sakkie vir 'n notaboekie en pen.

Ek het 'n dun stukkie wateersel tussen die lae materiaal gesit om dit effens meer toegeeflik te maak, en organza lint om dit toe te strik. My masjien het vir my die stikwerk gedoen, en die borduurwerk het ek met die hand gedoen. Die mandjie voor-op is gehekel, en toe vasgewerk.







Ek weet nie hoeveel ure ek hieraan spandeer het nie, maar elke stekie was 'n plesier, en die eindproduk baie bevredigend. En dit is vir Ella net so 'n groot vreugde soos vir my!

Ek jeuk om nog een te maak, maar eerste dinge eerste. Die trourok en Gerdie se markgoed wag. (Gerdie is 'n vreeslike innoverende vriendin met matelose energie en ondernemingsgees. Sy hou die 3de tot die 5de November 'n handwerkmark  in die Hervormde Kerk van Midstream. Los vir my 'n boodskap as jy meer van haar Hartmark wil weet.)

2011/10/10

'n Presentjie

vir 'n spesiale vriendin.

.

 Dit is vir Ella- sy het al maande gelede verjaar, maar sy rits rond (haar manlief het afgetree) en ek maak onderbaadjies en rokke en beplan troues en probeer 'n kind deur matriek kry, so ons kuier te min. Kom ek vertel julle gou.
Ella was my seuntjieskind se speelgroepie tannie, en het een van my liefste en beste vriendinne geword. Ek het by haar 'n klomp goed geleer, o.a.
1) Dat daar wel mense op hierdie aarde is wat so mooi na jou kind kan kyk soos jyself.
2) Dat een mens twee handevol kleuters kan laat speel en leer sonder om haar stem te verhef, sonder 'n drag slae, sonder dreigemente, sonder om hulle kreatiwiteit te demp, of hulle in 'n hokkie te druk,  met 'n ferm, liefdevolle hand.
3) Dat ouderdom en vriendskap niks met mekaar te doen het nie (sy is so oud soos my liewe moeder).
So het dit gebeur:
 Toe my meisiekind skooltoe is, het haar boeta al tien-uur, na sy oggendstorie, by die hekkie vir haar gaan wag. My moederhart het geweet hy is eensaam, maar ek het my dogtertjie by my gehou tot sy skooltoe is, en ek was so bang om my jongste by 'n vreemdeling te los. So stuur ek my kommer die heelal in, en dink daaroor en wonder en gesels met ander Mammas.
Toe kom daar 'n engel op my pad, en ek kon met 'n geruste hart drie keer per week  my seuntjie vir 'n paar ure in haar sorg laat. Daardie 3-jarige seuntjie is nou in gr 12, en ek en Ella het vriende gebly. Daarom het ek, toe ek iets op die wereldwye web sien, geweet dat  ek dit vir haar gaan maak.


Maar julle moet wag totdat ek dit vir haar gegee het voordat ek julle wys:)

2011/10/06

Net voor ek nesmaak


agter my masjien, en my lappe en gare en patrone en skêre en spelde en naalde en ander naaldwerkgoed die hele spaarkamer oorneem. Só lyk dit tussen masjienwerk-projekte:   






Ek het vanoggend die 'rok-voor-voor-die-trourok' gesny, sal nou- nou daarmee begin.

(Anzelle hulle se troue is om die draai, en ek maak die rok. Gelukkig wil sy 'n rok sonder fieterjasies hê!)