31 Dec 2011

Oujaarsaande



Toe ek klein was, was oujaarsaand 'n spontane, onbeplanne makietie-aand. Baie dikwels was ons op my pa se grootword-plaas, Doringbult, waar daar altyd familie en vriende bymekaargekom het.
My oupa en ouma, en later Oom Basie, se harte en huis was altyd oop, en almal wat hulle geken het, het 'n plek gehad om heen te gaan. Die mees opwindende ding was vuurbal, wat die grootmense in die veld voor die huis gespeel het. 'n Sak is in 'n bal gerol, met 'n lang draad handvatsel. Dan is dit in diesel geweek, aan die brand gesteek, en heen en weer gegooi. Pragtig op 'n donker aand.

Toe ons getroud is, het my Lief en ek graag Vryburg toe gegaan om oujaar saam met ons ouers wat almal daar gebly het, te vier. Laataand het ons die kinders by baie gewillige oupas en oumas gelos, en die nuwejaar in gaan dans.
Maar dinge verander, en mettertyd het ons die jaar by ons eie huis uitgesien. Almal wat wou kon kom, ons kinders se maats ook. Met vonkelwyn, en musiek het ons een jaar uit en die volgende in gesien, van om en by 1998 af tot nou.
Vanaand gaan ons by passela-sus Christien en haar Engelsman braai. Ek was bietjie hartseer toe ek die lagie-slaai wat al 'n oujaarsaan tradisie geword het, maak omdat ons eie huis vanaand stil en alleen gaan wees. Maar ek is terselfedertyd diep dankbaar vir 'n stil, rustige dag wat vanjaar in my skoot geval het, en ek gryp dit met albei hande aan.

En hier is 'n gedig:

 Ballade van die nagtelike ure
deur NP van Wyk Louw

Ons liefde het uitgeblom
tussen elfuur en kwart oor twee-
hier sit ek onder die dagbreek
half-nugter eb verlee


op die koel stoeptreetjies êrens
waar ek 'n blink waterkraan sien,
in die ure van die donker dors
tussen twaalfuur en smôrrens om tien.

Om elfuur was jou liggaam
die honger en dors in my,
as jou skewe papier-kalot
ver deur die danssaal gly.

Om twaalfuur was jy 'n ligte brug,
'n hoë, gevaarlike gang
bo my klein verwildering
tussen pyn en sterwe gehang.

Om eenuur was jou hare
vir my vingers 'n bose strik,
en jou lyf soos swart stil water
en jou asem soos 'n snik.

En nou het die môre my 
oor die rand van die glas gemors
op die stoep by die kraan wat blink
in die uur van die donker dors.





30 Dec 2011

Vir oulaas.

Vandag wil ek vir oulaas nostalgies raak oor 'n jaar wat verby is, en al die vreugdes wat dit gebring het. 'k, ek kan nie ál die vreugdes opnoem nie, daar is doodgewoon te min tyd. Maar ek kan 'n paar met julle almal deel:

-My Nooientjieskind en haar Ryan het ewige trou aan mekaar gesweer.


-My Seunskind het matriek geskryf. Hier's 'n foto van Stefan en Pablo na 'n stappie. Ek kon nie 'n matriekafskeisfoto opspoor nie.



-Ou vriende het weer verskyn: Elsie, Karin en Riaan, Marietjie.

-Vriende van 'Down Under' het kom kuier: Sonja, Carmen en Rod

-My geliefdes het kom kuier en kom help met die troue: Ouma, Pa en Ma, Doortjie en Andries.

-Ek het stapels wonderlike boeke gelees: The Book Thief van Markus Zusak die roerendste.




 Hier is Dood aan die woord. Hy praat oor die wat agterbly, wanneer hy iemand kom haal:

"Which brings me to my next point. 
It's the leftover humans. 
The survivors. 
They're the ones I can't stand to look at..."










Dan in Afrikaans, Marlene Van Niekerk se Agaat. Ek is so bly ek het nie die boek gelees toe hy uitgekom het nie, want toe het ek iets lekker vir later:)

Dit is 'n verhaal van 'n ou dame met motor-neuron siekte, sterwend, en haar getroue huishoudster Agaat. Uit verskeie perspektiewe ontvou hulle storie, blatant eerlik, skokkend amper, maar tog met deernis. Die vaardigheid van Marlene is verstommend. Die boek, vir my, is te vergeleke met 'n uitstekende skildery. Op die oog af is dit steurend, jy wil amper wegkyk, maar dan sien jy die subtiele skoonheid, die sagte speling van lig, die realistiese weergee van die lewe self.







-Ek het soveel mooi liedjies ontdek. Uit eie bodem: Kurt en Laurika se Slang in die gras , Heuwels fantasties se Klein Tambotieboom  
Van ver oor die diep blou see:  die jonge Adelle se
Someone like you 

Ontslape Johnny  Cash se
 The first time ever I saw your face.

Die heerlikste koek wat ek die jaar gebak het was 'n suurlemoen roosmaryn koek. (Ek het ongelukkig nie 'n resep daarvoor nie, het dit saamgeflans uit verskeie resepte, maar ek sal dit weer bak, en dan neerskryf.)

 Die Bloemfonteinse skrywersvereniging het vir my storie 'n prys gegee!


Ek het hierdie blog begin.