9 Jan 2012

Oeps!

Het met my laaste inskrywing skandelik nagelaat om almal wat my skryfsels lees 'n gelukkige 2012 toe te wens. So hier is 'n wens uit my hart: Ek wens jou liefde, en vrede, en voorspoed en gesondheid, en mag die jaar vir jou blom!


Dankie vir elke glimlag, elke drukkie, en elke goeie wens wat jy na my kant toe stuur. Dankie dat jy geduldig is met my as ek meegvoer raak met my eie klein wereldjie, en dankie, dankie, dankie dat jy belangstel om te sien waarmee 'n  Poplap met 'n Stoflap doenig is.

 

'n Kykie deur my kamervenster.

4 Jan 2012

Elke jaar

kies ek net een nuwe voorneme. Ja, daar is 'n hele lysie om van te kies, maar mettertyd het ek geleer een is volhoubaar. Dit voorkom daardie gevoel van mislukking as jy die 4de Januarie 'n yskoue glasie wyn(jy gaan nie meer drink nie) ingooi om saam met jou bakkie chips te geniet(jy gaan nie meer peusel nie), terwyl jy nonsens kyk op TV(jy gaan jou tyd konstruktief spandeer) as jy eintlik beplan het om te oefen.
Die jaar het ek besluit om régtig beter na myself te kyk. Ek praat nie hier van ure spandeer in haarsalonne of om my naels te verf, of om nooit ooit weer my mond aan suiker te sit nie. Ek praat van kyk na myself op die eenvoudigste moontlike manier. Laat ek verduidelik:
As jy nog nuut is, as jy nog afhanklik is, as jy nog 'n baba is, skree jy oor net 'n paar redes: 

1)jy is honger of dors,
2)jy is ongemaklik,
3)jy is moeg.

Honger word met iets eenvoudigs gestil- eers jou melkies, later jou pap, nog later groente en vrugte, heel later eers sagte vleisies. Dors word geles met water, vrugtesap, of rooibostee. Ongemak word verlig met 'n droë doek, koeler kleertjies, 'n ander posisie in jou bedjie. As jy moeg is moet jy slaap. Dis al.
Van die baie dinge wat ek by my liewe moeder geleer het toe my kinders babas was, is die proses van eliminasie. Kyk (of ruik) na die doek. Gee eers water of tee, daarna kos of melk. As die keintjie nog steeds kriewel, kyk of iets hom/haar seermaak. Voel of hy dalk natgesweet is, of haar handjies dalk ysig koud is. Voel of hy koorsig is. Kortom, probeer vasstel wat die behoefte op daardie oomblik is, en voorsien daarin.
As 'n baba nog nie sy voeding gehad het nie, gaan jy hom in 'n warm kar laai, en Mall toe ry nie. As dit tyd is vir haar oggendslapie gaan jy haar  nie in 'n 'jolly jumper' stop voor 'n flitsende tv skerm nie. As dit koud is gaan jy nie vir haar die oulike pienk sandaaltjies aantrek nie, en as dit warm is gaan jy nie die dierbare truitjie met die skapies op en die mussie met die haasore vir haar aantrek nie.Om 'n baba se basiese behoeftes te ignoreer is gewoon stupid.

Maar as jy groot is, en jou ma kyk nie meer na jou nie, is dit asof 'n mens dink dit maak nie meer saak nie-
Jy is dors, dan eet jy 'n sjokolade(want jy het gedink jy is honger).
Jy is honger, dan drink jy 'n koppie koffie(Dit Is Nog Nie Tyd vir Ete nie).
Dis 36˚, maar jy is vasbeslote om jou nuwe, kleiner dennim aan te trek, met die prettige driekwartmou rokkie bo-oor.
Dis koud, maar jy gaan nie 'n trui aantrek nie, want dan kan niemand sien hoe goudbruin jou arms is nie.
Jy is moeg, maar jy gaan staan 'n uur lank in die ry by die flieks om die film te gaan kyk wat jou deftige vriendin se kunstenaars vriend aanbeveel het. Dit is mos 'ek' tyd, dan nie? Jy doén 'n slag iets vir jouself. Nie so logies nie, nê? Dis nie 'n wonder dat daar soveel grompottiges die aarde bewandel nie!

Om 'n lank storie kort te maak, hierdie jaar gaan ek regtig na myself kyk. Soos my ma laas gedoen het toe ek haar nog toegelaat het. Met liefde, begrip, toegeneentheid en aanvaarding. Met deernis. Wie weet, miskien kry ek binnekort so 'n wye glimlag in die spieël...