Twee Pond vir 'n Droom
Jy staan voor die winkelier
met 2 pond in jou hand. 2 Pond! Jy’t nog nooit so baie geld gehad nie. “Koop
goedjies wat jy nodig het vir die huis”, het jou nuwe man gesê. Nou wonder jy
hoeveel jy met twee pond kan
koop.
“Antie,
het Antie asseblief vir my bietjie meel? Pa is ...siek, en die kinders het
vandag nog niks gehad om te eet nie.”
“Pa,
het Pa die goedjies gekoop wat ek nog het?” Jy’t hoopvol gevra, maar jy kon die
honger ruik aankom in jou pa se suur asem.
“Susie,
ek het ‘n paar goedjies gebring.” Jou broers het hulle ontferm, male sonder
tal.
Nou staan jy hier, met jou
black Maraaias, en nuwe skoene, met jou hart in jou keel en 2 pond in jou hand.
Jy vra bietjie suiker. Hoeveel is oor? Die winkelier keer kleingeld uit.
“ Koffie, asseblief”. Daar is nog geld oor.
Jy kan nie somme maak nie,
want jy moes uit die skool uit om jou pa en jou jonger sussies te versorg, na
jou mammie se dood. Toe ander meisiekinders van jou ouderdom nog hop scotch
gespeel het, en onwillig trousseau borduur het.
Netnou sal jy die gordyntjie,
wat jou man vir jou in die hoek van julle kamer gespan het, wegtrek om jou
karige klere op te hang. Netnou sal jy ‘n tafeldoekie oor die tafel gooi, en
die parafienlamp daarop staanmaak sodat julle julle eerste maaltyd saam kan eet. Jou nuwe skoonma het ‘n mandjie gepak met
oorblykos van die bruiloffees.
Jy
wonder wat kan jy nog koop. Meel. Bakpoeier. Sê nou jy vergeet iets
belangriks? Jou ma is hemel toe voordat
sy jou behoorlik kon leer huishou.
Eendag sal jy jou huishouding
met ‘n ysterhand regeer. Jy sal presies weet wat is nodig om ‘n tuiste te skep. Jy sal jou nes
keurig veer met verbete vaardigheid. Niemand sal ooit honger van jou tafel af
opstaan nie, en nooit weer sal jy hoef te vra vir aalmoese nie.
Oor 'n jaar en 'n half sal jy ‘n dogtertjie ontvang. Jy sal vier jaar van nou af
‘n seuntjie he, en wanneer hy twee jaar oud is nog ‘n dogtertjie.
Jou
oudste kind sal gehoorsaam wees, teruggetrokke, stil. Eendag sal jou geliefde
skoonseun met die vonkel in sy oë haar tot die donkerste dieptes aftrek. Jy sal magteloos toekyk en doen wat jy kan. Jy sal haar opdra aan jou Here en Hy sal Sy Hand oor
haar hou.
Jou
seun sal verknog wees aan jou in so ‘n mate dat jy jou nuwe baba op vreemde
skote moet laat sit, omdat hy aandring om op joune te sit. Hy sal eendag die
mooi rooi en blou lorrie wat sy pa vir hom gekoop het omdat hy ontroosbaar was
toe jy in die hospitaal was, in die straat af gooi en skree: “Ek wil nie ‘n dônnerse
lorrie hê nie, ek wil my ma hê’. Maar hy sal
groot word, en sy pa se voorbeeld volg, en sy vrou en kinders sal niks kortkom
nie. Hy sal jou op jou oudag soos ‘n kleinood oppas.
Jou
jongste kind sal eiewys en rebels wees. Sy sal jou en jou man op julle knieë
hou, maar anderkant haar stormjare sal sy met ‘n lang man trou wat haar op die
hande dra. Jy sal saam met haar huil
omdat sy kinderloos is, en saam met haar juig wanneer sy haar hartskinders van
ander ma’s ontvang.
Jy knoop die kleingeld sorgvuldig
in jou sakdoekie toe, en wag vir die stil man met die groot hande en groter
hart, om jou te kom haal.
Eendag sal kanker hom verteer, maar jy sal onwrikbaar
staan en hom versorg en bystaan met bo-menslike krag, want jou krag sal direk
van Bo af kom, en jy sal vir geen oomblik
twyfel nie. Jy sal hom afgee aan die Hemelse Vader, maar jy sal hom nooit
vergeet nie.
Terwyl julle met ‘n perdekar,
minder as twee pond se kruideniersware, en die kis wat jou pa op Ceylon gemaak het, die toekoms inry, sal jou hart juig oor
die meetsnoere wat vir jou in lieflike plekke geval het.
Eendag sal jy sewe kleinkinders hê,
en vier agterkleinkinders. Eendag sal jy jou oudste agterkleinkind, kaalvoet sien
trou, met ‘n rooi rok aan, in haar ma se tuin.
Eendag sal jy negentig word,
met ‘n helder verstand, en goeie gesondheid, en meer mense wat jou liefhet as
waaarvan jy ooit kon droom.
En eendag sal die kleindogter wat jou naam met
trots en dankbaarheid dra, oor jou ‘n storie skryf.
Album
My Ma se troudag, 1965. Ouma staan heel regs.
By 'n onthaal in 1970/71, saam met my en Oupa
1974/1975
Op my troudag- 3 September 1988
Met Anzelle, in 1989
Met Anzelle en Stafan, 1993
My niggie Soreta se troue, 1999
Saam met al die kinders, kleinkinders, en agterkleinkinders. Soreta het ook nou 'n dogtertjie en 'n seuntjie. My neef, Hennie(voor ny die tafel) en niggie, Elize (regs agter) is ook getroud.
Daar is trouklokkies in die vooruitsig vir my Sus, Thea(3de van links) en niggie Suzanne(regs langs Ouma)
My oom Boet,is heel links), my Ma, San, is links agter Ouma, en tannie Marie skuins agter Suzanne.
Ek en ouma op haar tagtigste verjaardag
Stefan vat Ouma vir 'n dans op my 40ste verjaardag, 3 jaar gelede
Met Anzelle se trou verlede jaar













