2012/10/08

Oumablokkies van verlange


Kom ek vertel gou vir almal wat dit nog nie ken nie, my blokkieskombers-storie:


So vyf jaar gelede is my manlief Nederland toe om vir 'n jaar daar te gaan werk. Sien, hy het wanderlust, en  ék het dinamiet nodig om my te beweeg. Toe gaan hy, en ek bly. Op daardie stadium het ek oumablokkies begin hekel om al by bietjies op te gebruik.


Met hierdie het ek begin. Ek het begin met 'n kleur, en doodgewoon aangegaan met die volgende as dit op was, ongeag of die ry klaar was.


My verlange na my beterhelfte het so handuit geruk, dat dit in 'n gereelde nagtelike hekelry ontaard het, wat later sommer ook  'n helder-oordag vergryping geword het. Bietjies-wol is opgebruik, en daar is baie bolletjies wol gekoop. Ek weet nie hoeveel nie.   Julle weet mos ek ly aan rustelose hande. Selfs my ma, wat eintlik liewer brei, het begeesterd geraak, en vir my 'n klompie blokkies gehekel. Geen twee blokkies is dieselfde nie.

 




  'n Vriendin het ook vir my 'n paar blokkies gehekel, maar hare lyk almal dieselfde, so ek het net een  gebruik.




14 Rye van 15 blokkies later was die eerste 2 maande en 'n bietjie om. 'n Kombers was klaar, en ek het my man in Nederland gaan haal. Hy het besluit om nie 'n jaar te bly nie.  Want hy het ook te veel verlang.







Ek het op die ou end baie meer blokkies gehad as wat ek nodig gehad het vir my dubbelbedkombers, so ek het die begin van nog so bont kombers, as die lus my beetpak, of my man weer vir 'n ruk weggaan!



 Die kombers bly mooi, al word hy hoe gereeld gewas. Ek is nogal verbaas daaroor, want ek het soveel soorte wol gebruik, en nie alles was ewe mooi nie. Om voor die hand liggende redes moet dit gereeld wasmasjien toe!