Dis my Storie en ek hou daarby

 Ek het nie 'n graad nie
maar ek het handboeke! En deesdae internet. En 'n ma om te vra. En 21 jaar ondervinding. Daarom voel ek heeltemal gewalifiseer om my uit te spreek oor die vreugdes en verdriete van 'n tuisteskepper. Hou hierdie spasie dop. As ek jou nie raad kan gee nie, gaan ek jou waarskynlik in jou mou laat lag. Onthou- iemand wat nie uit sy eie foute leer nie, is dom. Maar iemand wat nie uit ander se foute leer nie, is plain onnosel.

Een en twintig jaar gelede
Het ek met my eersteling in my arms, dieselfde dag wat ek uit die hospitaal gekom het, eers my man afgesien werk toe, en toe my ma afgesien huistoe. Ek het my dapper gehou. Maar twee dinge het ek verseker geweet:
1) Ek gaan hierdie kind self grootmaak.
2) Ek het geen idee hoe nie.


  • Pasgebore Anzelle

  • Daar was nie omdraaikans nie. 
    Ek en die baba het saam gehuil toe almal weg is. Ek, omdat ek seer was, my borste wou bars van die melk, omdat my man moes teruggaan werktoe, omdat my ma moes teruggaan huistoe, en omdat ek myself baie jammer gekry het.
    Sy, omdat sy honger was, en nie haar klein mondjie om die tepels van die spanspekke kon kry nie, en waarskynlik omdat sy, van alle perfekte, pienk, babadogtertjies, opgeeindig het in hierdie onbeholpe wese se arms.

     Hier is my babapop 'n maand oud



    Hierdie pop in my arms kon nie in my deurmekaar pophuis gelos word, en van vergeet word nie. Die pop wou eet. Dan het sy winde gesluk. As die winde uitgevryf was, was sy weer honger, want nou nou se melkies was oor my skouer, en in my hare.
    Dan was daar nog nat en vuil doeke. Nee, ons kon nie weggooi doeke bekostig nie, genoemde doeke moes in 'n sterri nappy emmer gegooi word, en daagliks gewas word. Ek het verbete die doeke wit gehou. En voor tien in die oggend moes dit op die draad wapper as getuigskrifte van 'n goeie ma. So het ek in elk geval geglo. So dit was hoofsaaklik doeke, voedings, en winde.
    Tussendeur moes die grootmens pophuis skoon gehou word, en my en haar pa se mage vol gehou word. Wat beteken het dat daar skottelgoed gewas moes word. En dan was daar die netelige kwessie van slaap. Die baba sou salig slaap tot ek op die toilet gaan sit. Of self op die bed gaan le. Volgens die babapop was slaap vir mamma's opsioneel. En die pappa het net eenvoudig nie oor die regte toebehore beskik om alleen 'n nagskof te behartig nie. Want ons babapop het nie haar mond aan 'n kunsmatige tiet gesit nie. Ten spyte van die pa se karige gevangenisdiens salaris het ons alles op die mark probeer. Niks het gewerk nie. 'n Suster in die hospitaal kon hiervan getuig. Maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

    Die dummie insident
    het later tot groot vermaak gelei, maar op dag drie na die geboorte was dit gladnie vir my snaaks nie. Want sien, al die babas in die kraamsaal het heerlik aan hulle fopspene gesuig, behalwe myne. Ook geen byvoeding vir my prinsessie nie. Nee, sy was van dag een af 'n kospuris. Net die beste en natuurlikste is goed genoeg vir haar. (Tot vandag toe. Maar dis 'n ander storie.) So was hierdie mamma al moeg vir die preke van die baie ervare kraampersoneel oor die voordele van fopspene. En die waarskuwings dat die kleintjie die bors gaan gebruik om haar te sus. Self het ek geen probleem gehad met 'n troosfoppie nie. Maar 3 dag oue juffroutjie het duidelik haar misnoe te kenne gegee as enige iets behalwe die ware Jacob(of in die geval seker Jacoba) in haar fynproewers mondjie gedruk word. Die susters het kopskuddend een vir een opgegee. Behalwe een. Die het dit duidelik gestel dat 'n baba nie 'n se het in die saak nie. Elke keer as sy oor die bababed buk, het sy die dummie in die kniesende kleintjie se mondjie gedruk, en dit daar probeer hou. Genoemde kleintjie het haar egter nie laat intimideer nie, en dit elke keer weer uitgespoeg, met luidkeelse protes, en die uwe moes haar weer stil kry. Na die soveelste keer het ek genoeg gehad, en toe die suster by die deur kom, tref die haatlike fopspeen haar tussen die blaaie. Tot haar en my verbasing. Ek kon immers nog nooit raak gooi nie.
    met net 'n baba vir geselskap. Dit was vir ons 'n vreemde stad, ons het net een voertuig gehad, en almal om my het gewerk.

    Dit kon alleen raak met net 'n baba vir geselskap



    Daarom het ek uitgehonger vir geselskap, twee wildvreemde vroue in my huis ingenooi, en hulle amper heel oggend daar gehou. Tot vandag weet ek nie tot watter geloof hulle my wou oorhaal nie. Hulle was netjies aangetrek, 'n dame en haar skoondogter, en het Die Woord en traktaatjies saam met hulle dienlike handsakke gedra. Hulle wou my vertel van Jesus, maar is daar weg met 'n volledige verslag van my nuwe baba se groei en ontwikkeling. Ek hat daardie oggend gelukkig koekies gebak, en dadelik tee gaan maak voordat hulle kon sit. Soos my ma my geleer het. Op die plaas, en op die platteland. Die ouer dame het verstom die baba vasgehou wat ek in haar arms gedruk het. Ek weet nie of hulle al ooit in hulle diensbaarheid so 'n hartlike ontvangs gehad het nie.

    Word vervolg


    Geen opmerkings nie: