Huishoudkunde vir regte mense


'n Nota oor hierdie bladsye:
A.g.v. Paranoïa (ek is redelik seker daar is nie so 'n Afrikaanse woord nie. Vergewe my, ek sal soek na 'n beter een) het ek al die foto's wat ek hier gebruik het, verwyder. Kopiereg en al daai netelige kwessies. Ek is nie kundig genoeg om te weer watter mag ek, en watter nie, so ek sal mettertyd my eie foto's insit om die ander te vervang.

 Stap 1


Opsie 1) As dit lig is buite, en jy sit nog in jou bed, in jou slapies, met jou laptop, staan op, en maak jou bed op.
Redigeer:
O, toggie, ek probeer julle help maar soms weet ek ook nie van beter nie. Blykbaar het ons Ma's en Oumas 'n punt beetgehad met die belugting van die beddens. (Dit beteken dat jy jou beddegoed teruggooi en al die vensters wyd oopmaak), sodat die vel-olies, sweet ens. wat ons snags afskei (yuk!) kan verdamp. Al hierdie jeggie maar natuurlike dinge is voer vir huismiet en ander mikro-organismes wat ons nie wil aanmoedig nie. Hulle veroorsaak allerande allergiee en dinge en is net, wel, yuk. 

So: gooi jou beddegoed terug, maak oop die vensters, en doen eers die res van jou oggendroetine. Maar moenie vergeet nie. Sit dit op jou lysie. Bv:

1. Gooi beddegoed terug.
2. Maak vensters wyd oop. (behalwe natuurlik as dit bitterlik koud is, of jy is siek, of die arme baba slaap ewe knus,of... Gebruik jou diskressie!)
3. Gaan pieps.
4. Borsel jou tande, was, smeer roompies aan, kam jou hare, trek aan, maak jouself mooi (jy weet wat is nodig).
5. Voer die kat, hond, en/of die baba/kinders.
6. Eet 'n gesonde ontbyt
7. Gaan maak op die bed.



As jou man nog in die bed is, skud hom uit, of as jy hom jammer kry, maak jou kant op. As jou kleuters in jou bed is, en hulle slaap, los hulle eers. 

As genoemde kleuters wakker is, stuur hulle om te gaan aantrek. As jou tiener met sy lang seunskind lyf langs jou le, stuur hom om te gaan aantrek, en sy bed op te maak. As jou baba in die bed slaap, staan baie saggies op, loop op jou tone en gaan was, borsel jou tande, trek klere aan waarmee jy die deur kan oopmaak, trek gemaklike skoene aan, en maak jou mooi. Gekamde hare, room aan jou gesig en 'n bietjie lipstiffie is die minste wat jy kan doen. As die baba teen die tyd skree, maak seker hy is veilig, en maak eers klaar. Net 'n minuut, Dis al wat jy nodig het.
Opsie 2) As dit al donker buite is, gaan maak jou kombuis aan die kant. Jy kan baie verrig met die baba op jou heup(maar dit weet jy seker al as jy al vir 'n paar maande 'n ma is). As die baba slaap is dit wonderlik. Moet net nie 'n kastrol se deksel laat val nie. As die baba se pa by die huis is, kan hy hom oppas, of die kombuis vir jou doen, jou keuse. As jy kinders het en hulle is nog wakker, laat hulle minstens hulle goed kom optel. As jy tieners het, roep hulle om die skottelgoedwasser te kom uitpak. Die heel belangrikste van alles- sorg dat jou wasbak leeg is voordat jy vanaand gaan slaap. Al moet jy die vuil skottelgoed in 'n oondpan onder die wasbak bere. Maak hom skoon, en vryf hom blink. Jy gaan more oggend bly wees, glo my. Gooi dan die vuil vadoeke in die was, en haal skones uit.  As jy my nie glo nie, of wil weet hoe om jou wasbak blink te maak, gaan kyk op www.flylady.net.
Dis al vir vandag. Rome is nie in een dag gebou nie.


Stap 2

Goed. Gister het jy jou bed opgemaak, jouself aan die kant gemaak, en jou wasbak leeg en blink gemaak. Vandag is 'n heel nuwe dag. Maak weer jou bed op, en maak jouself respektabel.

 
Maak nou die toilet skoon. Ek is ernstig. Op jou nugter maag. Spuit 'n skeut skoonmaakmiddel in die toilet, gryp die toiletborsel en skrop. Vat dan 'n lap, of 'n stuk papierhanddoek of toiletpapier, en vee die rand van die toilet af, maak die sitplek skoon, en vee die deksel af. Gooi die lap in die was of die papier weg. Dit behoort jou minder as 'n minuut te neem. Behalwe as jou toilet vieslik is. Dan het jy 'n bietjie meer tyd nodig. Spoel nou die toiletborsel deeglik af. As jy 'n toe houer vir die borsel het, maak dit vol water met 'n skeut skoonmaakmiddel. As jy nie so 'n houer het nie, gaan soek een. Sny 'n plastiekbottel af as dit nodig is. Vat die blompot wat jou skoonma vir jou gegee het. Enige iets waarin jou toiletborsel pas. Moenie nou kop verloor en ry om een te gaan koop nie, skryf dit op jou lysie en doen dit as jy weer dorp toe gaan.

 

As jy in die kombuis komterwyl jy wag dat die ketel kook, pak die skottelgoedwasser uit, en pak die goed wat jy onder die wasbak gebere het in. As jy nie 'n skottelgoedwasser het nie, was die skottelgoed

Moenie moan nie, doen dit. As dit jou man of kind se beurt is, gaan roep hom. As hy nie by die huis is nie, doen dit net. Dis nie dat ek onsimpatiek of harteloos is nie, dis net dat ek weet skottelgoed kom nie vanself skoon nie, dit kry net kleintjies.
Vanaand, voor jy gaan slaap, maak weer jou wasbak leeg en blink. As daar nie weer skottelgoed is wat jy in die oond of onder die wasbak moet bere nie, gee vir jouself 'n sterretjie. As daar is, more is nog 'n dag.





Stap 3

Dis 'n blink nuwe dag: 
Jou bed is opgemaak
jy lyk ordentlik
die toilet is skoon
jou kombuiswasbak is blink en leeg.

Vandag gaan jy jou wasgoed takel. 
Maak al die vuil wasgoed bymekaar. Loop deur die huis. Glo my, vuil wasgoed kan oral wees. In die woonkamer, kombuis, of voorportaal. In die gang, jou kar of by die swembad. Laat jou kinders jou help soek. As jy nog net 'n baba het, behoort dit makliker te wees. Of is dit? Het jy in die studeerkamer gekyk, en onder die bank voor die TV? Vis alles uit. Onder die beddens ook! En in die logieste plak van almal: Die Wasgoedmandjie.
Gooi alles op een groot hoop, en sorteer. Komaan, jy weet hoe. Lig en donker. En bont as jy pedanties wil wees. Gooi die eerste bondel in die wasmasjien, en die belangrikste van alles; sit dit aan.

Nou kan jy vir 'n rukkie ontspan. Of die skreeuende baba optel. Of vir die neulende driejarige 'n storie lees. Of jou laerskoolmeisiekind se hare vleg. Of na 'n nuwe cool song luister wat jou seun vir jou wil speel. Ja, ja, ek weet ek dwaal af. 
As die wasmasjien klaar is, gooi sonder omhaal van woorde nog 'n bondel in. Gooi die nat bondel in die tuimeldroer, of sit die baba in haar stootwaentjie en gaan hang dit buite op, in die sonskyn wat die Liewe Vader verniet vir ons gee.

Was net soveel bondels as wat jy met gemak nog vandag met gemak droog, opgevou en gebere kan kry. More is nog 'n dag. Herhaal die proses todat jy alles weggewerk het, al neem dit 'n week, of al moet jy jou ma vra om die baba net vir een oggend op te pas sodat jy voor kan kom.
Wanneer jy die laaste item gebere het, slaak 'n sug van verligting. Jy't gewen! Van nou af gaan jy voor bly. 
1)Was sodra daar 'n vol bondel is, elke dag as dit moet. 2)Leer die kinders om hulle eie op te vou, en te bere. Dis nie onwettige kinderarbeid nie, maak nie saak wat jou veertienjarige se nie. 
3) En 'n goue reel vir jou eie beswil, en vir jou toekomstige skoondogter sin: As dit nie in die was is nie, word dit nie gewas nie. (behalwe die baba sin natuurlik- daarvoor is jy verantwoordelik.) Uit en gedaan. Maak nie saak of dit jou dogter se gunsteling paar skinny jeans is wat sy wil aantrek vir 'n afspraak met die gewildste ou in die skool nie. Of jou man se gelukkige golfhemp. Jy is 'n ma, nie 'n wasvrou nie! 

Stap 4
Almal moet eet. Maar in 'n harwar van doeke, bottels, vuil neusies, stukkende kniee, stukkende harte, weghol hormone, identiteitskrissise, gekrenkte ego's, om nie eers te praat van gewone dinge soos vuil wasgoed skottelgoed en ander lastighede kan 'n enkele vraag jou weghol dag totaal ontspoor- "Ma wat eet ons vanaand?"

Jou yskas bevat ewe moedswillig net melk, gemufde kaas, 2 verimpelde appels, 'n blaarslaai wat al sy eie sousie gevorm het, 'n eier en 'n halwe ui. (Daar's altyd 'n halwe ui in 'n yskas. Gaan kyk maar.)
In die vriesgedeelte is jy gelukkiger; daar is 'n paar hompe vleis onderin, kliphard gevries. Jy't nie tyd gehad om dit te label nie, nou weet jy nie of dit bees, vark skaap of donkie is nie. Daars ook 'n kwart pak gemengde groente, maar die sak was oop, en dit het gevriesbrand. (As ek jou yskas beskryf het, bestel maar vanaand pizza.) Daarom is Stap 4 om spyskaarte op te stel. Vat 'n stuk papier, deel dit in so in kolomme. So iets:


Spyskaart


Maandag
Dinsdag
Woensdag
Donderdag
Vrydag
Saterdag
Sondag
     Ontbyt
Pap,
 melk,
vrug
Roosterbrood
Eier
sap
Graankos
Jogurt
Piesang
Roosterbrood
Bone in
tamatiesous
Sap
Muesli
Jogurt
Vrugte
Mieliepap
Wors
Uie en
Tamatie
smoor
Semel
muffin
Katjie
botter
 Sap



Happie
Katjiebotter
Broodjie
Sap
Wortelmuffin
Maaskaas en
konfyt
Hambroodjie
Sap
Kaasskon
Appel
Tunamayo
Sap
Chippies
sap
Tert
Tee
Middagete
Hoender
Pasta
slaai


Worsbroodjie


Tunawrap


Gevulde
aartappels
Kaas en
Tamatie
Pizza
Hamburgers
Chips


Ete
By
Ouma


     Happie
yogurt
Sjokolade
Melk
Driehoek
Kasie
Jogurt
Melk
Skommel
Sjokolade
stafie
Ouma
poeding
  Aandete
Spur
Spagetti
bolognaise
Hoender,rys,
 groente
Varktjoppie
Koring
groente
Vis en
Chips,
slaai


Braaivleis
Slaai




Gekookte eier
Rooster
brood

Maak dan 'n lysie, volgens jou spyskaart. Doen dit elke week,  voor jy dorp toe gaan. Dit spaar sommer brandstof ook as jy alles op een slag koop.

Stap 5  
Ek is so trots op jou! Jy is mooi netjies, die beddens is opgemaak, die badkamers is skoon, jou wasbak blink , almal het skoon klere in hulle kaste. Julle wange het 'n blos op van al die gesonde kos wat nou altyd in die huis is. Gaan maak vir jou tee, vat 'n pen en papier, en maak 'n lysie van takies wat jou huis skoon, en mooi hou. 

15% Off

 

So iets:
Trek beddens skoon oor
Maak snippermandjies leeg
Gooi ou koerante en tydskrifte uit
Stof voorlangs af
Stofsuig die matte 
Vee en was die vloere
Sit dan weekliks 'n uur of twee opsy om in te spring en bg. werkies te doen, of verdeel dit soos dit jou pas. Solank dit net gedoen word! Moenie in die strik trap om alles perfek te doen nie. Ons sal later praat oor deeglik skoonmaak. Vir nou wil jy net alles onder beheer kry, en hou.
'n Goeie plan is om elke aand voor julle gaan slaap gou gou op te ruim. Jy weet waar die hope in jou huis ontstaan. Kry vir elke persoon in die huis 'n mandjie, en sit elkeen se goed daarin. As die mandjie vol is, pak dit weg, of gooi dit op die kinders se beddens uit. As hulle van die skool af kom en selfoon in die hand op die bed wil neer plof, moet hulle dit eers bêre. 
NB- Moenie fokus verloor nie- mense kom altyd eerste. tel jou baba op, plak 'n pleister, gooi koeldrank in, luister 'n cool nuwe liedjie, gee jou man 'n drukkie wanneer dit nodig is.  Vuil skottelgoed, wasgoed, vloere is altyd daar. Jou man en kinders nie.

 


Stap 6

Werk nou vir jou 'n plan uit waarvolgens jy een vertrek per week goed skoonmaak. Deel die week in vyf dae, en allokeer spesiale take soos om agter die stoof skoon te maak, of die waaier bo-op, of die ligskerms, of onder die beddens. (Ek dink jy vang dit.) Flylady het 'n gawe roetine as jy wil gaan kyk. Dit neem rerig nie lank nie, en op die manier bly jou huis  skoon.


Geen opmerkings nie: