09 Des. 2018

'n Feetjiekasteel en die bonus van my reis

Een van die voorregte daarvan om so te kuier- reis, is dat alles nie tot die dood toe beplan hoef te word nie. In Duitsland was Neuschwanstein bo aan my lys van plekke wat ek wou besoek, maar dis ver van Frankfurt af, en ons het 'n naweek daarvoor opsy gesit.



Dit was 'n nat Saterdag, maar dit was sagte reën, en ons het bespreek, so ons het in die nattigheid hierdie pad op gestap.



Ek vermoed die misreën het die kasteel selfs meer betowerend gemaak.


Koning Ludwig II was 'n alleenmens en het die kasteel gebou om weg te kom van mense af. Gaan lees oor die bou van die kasteel en die hartseer geskiedenis van die (gek) koning hier.









As 'n mens so lank wag om alles neer te pen, verdwyn baie tussen neus en ore. Veral tussen ore. My geheue is 'n geheimsinnige plek waar feit en fiksie dikwels verstrengel raak, en ek moet kophou om die twee te skei. Daar is net so baie chaos waardeur ek moet soek ...  En ook foto's wat op plekke ge-dump word waarvan ek later vergeet. En as ek hard besig is om die rowwe weergawe van 'n manuskrip voor kersfees klaar te kry, raak dit 'n yslike werk om te soek. So, ongelukkig het ek nie nou foto's van die binnekant van die kasteel om vir julle te wys nie. 'n Mens mag natuurlik nie alles afneem nie, maar iewers is foto's van die kombuis. Altyd die kombuis met my. Het dit iets te doen met my liefde vir eet?

Kyk hoe mooi is dit om die kasteel. En net voordat ons die pad ondertoe aangedurf het (baie makliker as boontoe, nodeloos om te sê) het ek warm sjokolade gehad. Herinneringe aan die kasteel sal nou altyd vir my soet en warm wees.



My beer het vir ons 'n blyplek na aan die kasteel gesoek, en toe in Oberammergau bespreek. Al wat ek van die dorpie geweet het, was dat die passiespele daar plaasvind. Wat 'n verrassing!














 Dis 'n skilderagtige dorpie in die berge en mans in lederhosen en vroue in hulle tradisionele klere laat dit voel of tyd in die dorp stil gaan staan het. Of daar altyd heelwat inwonders is wat so aantrek, en of daar een of ander geleentheid daarvoor was weet ek nie, maar dis iets wat my baie bly gemaak het. Ek sal vir seker so 'n uitrusting dra (maar ek is nie so seker of ek wil hê my beer moet lederhosen dra nie. Hy lyk wel baie goed met een van daardie hoede😉)

Daar is speelgoedmakers en Kersgoedwinkels en alles wat die kind in my se hart baie bly gemaak het.








Ek het vir my 'n paar plekkies gekry om in te bly (in my drome).



Hierdie een is oorgroei en verslete en soebat vir 'n storie:


En wat my sal altyd sal bybly van hierdie reis is die blomme. Oberammergau is geen uitsondering nie.



 Om die naweek meer onvergeetlik te maak, is dit waar ons gestop het: 'n heerlike surrealistiese eenstop. 



Ek kry nou nie foto's van die beelde (of is dit installasies?) buite nie. Binne is 'n ongelooflike verskeidenheid eet en drinkgoed wat jy op jou skinkbord laai en dan by een punt betaal. Ek het die heerlikste torte (koek met 'n romerige vulsel) geëet. Daar is ook fantastiese sitplekke. Gewonde stoele en tafels, maar ook groepies leunstoele. 






Dis die voorlaaste episode van hierdie reis. Voel vry om te vra as jy oor iets wonder, soos altyd. Groete van huis tot huis!












21 Nov. 2018

Die stad van liefde wat jou altyd bybly

“If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life it stays with you, for Paris is a moveable feast.” – Ernest Hemingway het so gesê, en ek kan dit beaam. Nadat ek my hart in Praag verloor het, het ek gedink dis nie moontlik om weer so verlief te raak op 'n stad nie, maar dit is en ek het.

Parys is alles wat ek verwag het, en nog meer, en Hemingway was reg- ek sal haar altyd met my saamdra.

Ons het in 'n op die oog af twyfelagtige woonbuurt in 'n nog meer twyfelagtige hotel tuisgegaan, en my hart was in my skoene. Sunnyside hier in Suid Afrika het by my opgekom. Besig. raserig. verslete. Maar die outdated hotel was silwerskoon, en die bestuurder so hulpvaardig as wat hy kon wees in sy effens gebrekkige Engels. Ek skud nou nog my kop as ek dink aan die komplimentêre ontbyt. Jy sit by 'n tafeltjie in die piepklein eetkamertjie, en hoop ander gaste kom sit nie by jou aan tafel nie. Dan verneem iemand wat jy wil drink, en 'n halfminuut later word jou ontbyt op 'n skinkbord voor jou neergeplak. Ontbyt wat bestaan uit 'n halwe(!) baguette, botter en konfyt. Net so op die skinkbord sonder 'n bordjie. Maar net voordat jy vir my part in jou hande huil, weet jy hoe lank is 'n baguette? En dit was vars gebak, en die gelyke daarvan het ek nog nooit hier geeet nie. En as jy my selfs net 'n bietjie ken, sal jy weet ek is 'n smulpaap, en bak self lekker brood (het ek my laat vertel 😜). En nadat ons aan die persoon wat ons bedien het wat nie 'n woord Engels praat nie, verduidelik kon kry dat ek melk benodig by my tee, was die Kaap Hollands.

(So terloops, anders as in Praag en in Rome, het ek heerlik tee gedrink. Niemand kry so 'n vies trek op die gesig en plons net voor jou 'n teesakkie in warm water nie. Dit kom ordentlik in 'n pot, al moet jy meestal vir melk vra.)

Ons was naby aan 'n metrostasie en 'n paarstoppe ver het ek uit die stasie in die helder sonskyn opgeklim, en sy was daar. Parys. Sy het haar arms om my gevou, en in my oor gefluister dat sy bly is ek is daar. Oral was blomme en musiek en straatkafee's en al die lieflikhede wat ek nog net op foto's gesien het.










As 'n mens net 'n paar dae in parys het, moet jy mooi kies wat om te besoek, en wat bêre jy vir volgende keer. Ons was vroeg aan die gang, voor die mensemassas, so ons kon die imposante Notre Dame rustig besoek.











Daarna het ons op die Seine gevaar. Jy kan enige tyd van die boot afklim enweer opklim, en dis 'n heerlike manier om 'n oorsig van die stad te kry. 



Ons het net by die Eiffel verbygevaar. Ek het altyd gedink dis nogal 'n lelike, onvriendelike struktuur en blykbaar was die Parysenaars ook aanvanklik beïndruk daarmee nie, maar van naby is dit werklik vir my mooi. Wat dink jy?



 Die Louvre bêre ek vir anderdag, want ek weet hoe sulke groot museums 'n hele dag kan insluk, maar ons is darem daar verby.


 My absolute, ononderhandelbare moet-sien was die Sacré-Cœur. Ongelukkig word foto's binne nie toegelaat nie, maar ek het vir my 'n boekie gekoop sodat ek my weer daarin kan verlustig. As ek 'n aanbeveling moet maak, sal 'n besoek aan hierdie kerk beslis bo-aan my lysie wees. Gaan net vroeg. 


Geleë in Montmartre, 'n kunstenaars dorpie,  bo-op 'n heuwel, met die ongelooflikste uitsig oor die hele Parys.





Ek sou ure lank deur die strate van Montmartre kon dwaal.



En in die tuin langs die Sacré-Cœur kon vertoef.




O ja, en hier is 'n foto van die sinkende huis. Dis daar naby die Sacré-Cœur.


En heerlikheid op onverwagte heerlikhede, in Montmartre is 'n straat vol materiaalwinkels. 'n Straat vol. En hulle het vele verdiepings. Daar is darem 'n wolwinkel ook, en ek is met buit vir my en Anzel daar weg.

Ek kan nie help om te wonder of ek dalk meer in die versoeking sou wees om te trek as my beer in parys gewerk het nie. Ek voel net so tuis daar. Al praat ek nie Frans nie. Ek sal leer. Kyk na byvoorbeeld na hierdie tuin in die hartjie van die stad. Ons het vi rons middagete gekoop en daar gaan eet. Dis nei net toeriste wat daar rondhang nie. Mense in netjies werksklere, drawwers, bejaardes, sit in die skadu en vind vrede waar daar vrede te vind is.



Dis 'n betreklike skoon stad, en anders as wat dikwels aan my vertel is, is die Parysenaars glad nie antagonisties of onwillig om te help nie. In die toeriste dele praat almal Engels, en off the beaten track probeer hulle te minste. Soos in die die restaurant waar ek en my beer ons 30ste huwelik ('n paar dae laat) gevier het. Dit was om die hoek van ons eienaardige hotel af, en 'n ongelooflike ervaring. Ons klenerin was Italiaans, het self nog Frans geleer, en het minder Engels gepraat as wat ons Frans gepraat het, maar sy het met  'n yslike glimlag 'n woordeboek gaan haal, en ons het 'n wonderlike ervaring gehad. Die restauranteienaar kon beter Engels praat, en het kom help verduidelik. En ek kan nou met oortuiging sê, die Franse mag maar dink hulle kos is die beste.






En hulle wyn. natuurlik hulle wyn, (met apologie aan die Italianers wat nie terug hoef te staan nie).

O, en kyk hierdie papawer mosaïek op die vloer:


Ons het oral lekker geëet. En behalwe nou vir bogenoemde restaurant wat so effens duurder was,  was die pryse heel billik. Spyskaarte is buite opgeplak, so jy kan kyk of jy dit kan bekostig. Daar is altyd beskostigbare eetplekke as jy net so 'n entjie van die bekende plekke af soek.

Net voordat ek jou na die Arc de triomf neem, kyk weer na 'n foto van die sinkende huis:



Toemaar, dis net 'n optiese illusie. Dis 'n heeltemal regop gebou langs 'n heuweltjie. Dit hang af van hoe jy jou kamera hou. Dit amuseer my geweldig 😄.




So aan na die Arc de triomf. Ek wys net foto's, gaan lees maar self daaroor.

 Dis 'n masiewe strukttuur, en ek het spesiaal daarby gestaan om te wys hoe groot dit is. Kyk hier onder, ek is die rooi spikkel:

 Die detail is ongelooflik.



Nadat ons daar rondgedraal het, het ons oorkant die straat by 'n restaurant sit en koffie drink. Ek kon  nie anders as om Smokie se I'll meet you at midnight te herroep nie, en ek het gekyk of ( 'n baie ouer) Jean- Claude nie steeds by 'n tafeltjie vir Louise-Marie sit en wag nie.

A summer morning on Les Champs Elyses,
The empty table in the street cafe.
The sunlight melting through an open doorway,
Jean-Claude has left to face another day. 

Gaan luister dit, jy weet jy wil. 

Dit was tyd om Parys te groet, met 'n knop in my keel en 'n dankbaar hart. We'll always have Paris, won't we?

Volgende keer maak ons 'n draai in Oberammergau. Groete van huis tot huis.