'n Brief vir jou


Liewe Kuber-vriend/ vriendin


Dankie dat jy by my blog inloer. Ek het Poplap met 'n Stoflap begin om vir my ver-weg vriende en familie te wys waarmee ek doenig is, en om sommer net stukkies van my lewe te deel.  As jy gewonder het waar ek aan die naam vir my webjoernaal kom, hier is die storie:


Ek het die naam  gekies na aanleiding van 'n artikel wat ek iewers gelees het, lank lank gelede.  Toe my nate nog nie begin lostrek het nie, en toe my stopsel nog eweredig versprei was. In die artikel is daar verduidelik dat 'n vrou, veral 'n ma en 'n huisvrou, moet besluit of sy 'n poplap wil wees of 'n vloerlap. 'n Poplap sou dan iemand wees wat mooi na haarself kyk, en baie liefies is. 'n Vloerlap sou iemand wees wat op haar laat trap, haarself verwaarloos, en heeltyd agter ander skoonmaak.  Ek het toe 'n besluit geneem. Dat ek 'n Poplap sal wees, maar een wat nie sal skroom om 'n stoflap op te tel nie. Dit werk vir my.

Deesdae het ek natuurlik meer dikwels 'n hekelpen in die hand as 'n stoflap. My kinders is groot, en die huis bly netjies. Ek hou van kook en bak ook, maar dit is baie nadelig vir my alreeds te ronde lyf as ek te veel tyd in die kombuis deurbring.  Naaldwerk is vir my 'n absolute vreugde.
As kind was hopeloos daarmee, en my ouma het op 'n dag moedeloos gesê ek moet maar liewer gaan leer, want 'n huisvrou sal ek nooit wees nie. Ouma het egter nie rekening gehou met my hardkoppigheid vasberadenheid nie. Op skool het ek vir my klere begin aanmekaarflans, want ek het nie gehou van wat ek in die winkels kon kry nie. Ek sidder as ek nou dink aan my pogings. Die goedkoopste poliëster katoen wat ek kon kry, gestik met die handmasjien wat ek met my sakgeld gekoop het. Ek was regtig nie goed daarmee nie. Ek is vroeg getroud, en het my nes begin veer. Practice really makes  perfect.
Toe ons eerste baba opdaag, was dit vir my duidelik. Ek wou nie 'n oomblik van haar grootword mis nie. Onbeholpe, maar toegewyd het ek gedoen wat vroue vir eeue al doen. Ek het na my kind gekyk, en gesorg dat sy en haar pappa gemaklik, skoon en gevoer is. Ek het min geslaap, en baie met my pop gespeel. Tussendeur het ek gebrei en gehekel en gestik. Vloere gewas, badkamer geskrop, gekook, gebak en opgeruim. Afgestof, gestofsuig en stories gelees. Ons het ons rieme dun gesny, en vergeet van luukshede. My Brombeer het ekstra werk gedoen, en ons het ons sente drie keer omgedraai.
Amper drie jaar later het ons kans gesien vir nog 'n baba. Ek was besig. Brombeer het lang ure gewerk, en ek was meestal alleen met die kleintjies, maar ek was gelukkiger as wat ek ooit kon droom. Om die wolf van die deur af te hou het ek beskuit gebak, koek gebak en gevriesde maaltye gemaak. As ek my oë toemaak, en terugdink aan daardie kwiksilwer tydperk, ruik ek varsgebakte beskuit, en hoor ek my kinders soos klokkies lag. My dae was tot oorlopens toe vol. Ek het wasgoed gewas, rose natgespuit, en saam met my kleintjies piekniek op die gras gehou. Ons het van 'n eerste huis met twee slaapkamers getrek, na 'n tweede met drie kamers. Ons het opgepak, en Nelspruit toe getrek agter Brombeer se werk aan. Drie maande later het ons gesien dit werk nie, en teruggetrek. Ons het ons vir-altyd-huis met sonnige kamers en groot bome gekoop, en ons het gebly. Ek het tussendeur geskryf, en weer opgehou.

Die kinders is skool-toe, en ek het hulle middae aangery ballet toe, musiek toe, maatjies toe. Ons het ses katte gehad, twee honde, en reekse hamsters-eers Woelmuise en toe Douwtjies. Soms, as ek nou in die voortuin stap, verbeel ek my ek sien my noointjieskind nog soos ‘n boskind onderdeur die bome tussen die blomme dwaal. Lang, los hare, wye droomrokke, kaalvoetjies. En soms verbeel ek my my seuna se plase terug onder die witstinkhout wat lankal terug omgewaai het.

Die kinders het grootgeword, my Brombeer het meer weg van die huis af gewerk, maar ek het gebly. Ek het eers meer kos gemaak en toe minder. Ses bondels wasgoed per week in my Speedqueen het verander in twee. Ses katte, toe vyf, vier, drie, twee , nou een. Twee honde, een, geen en nog een.
Deesdae is dit so stil. Die kinders is naby, maar tog so ver. Want hulle is nou volwaardige grootmense met beroepe, eie vervoer, eie lewens. Ek mis my Brombeer, en as hy hier is, voel dit meer asof hy 'n kuiergas is. 'n Baie welkom kuiergas. Ek spuit nog rose nat, maar ek hou nie meer piekniek in die tuin nie. Ek lees nog stories, maar net vir myself. Ek skryf weer, en hekel en brei en stik en borduur nog steeds. Ek is gelukkig in my vel, en tevrede met my hoekie in die wêreld. En ek is bowenal ongelooflik dankbaar dat die meetsnoere vir my in sulke lieflike plekke geval het.

Dis dan my storie. Wat is joune? Skryf vir my.
Groete van huis tot huis.
Santie











Geen opmerkings nie: