Uit my werksmandjie



Die pienk kombers

Ek weet nie hoeveel van julle 'Bollie' gelees het nie. Nie die ene in die huisgenoot nie, maar die ou kindertydskriffie. Dit het Dinsdae saam met my pa en ma van die werk af gekom, en ek kon nie wag nie. Wel as julle sou onthou,  op die middelblad was die Swape, klein karaktertjies (bietjie soos waar's Willie), en  my gunsteling swaap was Sintie. Omdat haar naam soos myne geklink het, en sy het sulke blonde vlegsels soos ek gehad. Sy het altyd met 'n laaaang stuk breiwerk gesit. Min het ek toe geweet dat ek eendag ook so lief sou word vir bolle wol!





Die kombers waarmee ek besig is. Dis om my nuwe, fuwelerige grys oorgooideken op te helder, en om my hande besig te hou terwyl ek TV kyk.

TADA !

 Ek het nie 'n patroon gehad nie-  ek het lekker dik wol gebruik- Elle Pure Gold, Chunky, en 12mm breinaalde. Het in die begin nogal onhandig gevoel met die dikke, lang breinaalde, maar het gou 'n tegniek ontwikkel: het die regterhand naald so half onder my arm vasgeknyp. (Willem en Stefan moes maar koes as ek tussen hulle sit en brei het.)
121 Steke was genoeg vir die breedte van ons dubbelbed, maar dit sou eintlik mooier wees as dit langs die kant bietjie kon oorhang. Ek het die patroon uitgewerk met drie rye kabels van 10 steke elk, en 'n mossteek diamant in die middel. Dit het so bietjie meer as drie weke se TV-kyk aande geneem, maar ek moet erken ek het in die begin nogal baie losgetrek totdat alles na my sin was.



Hier is die kussingtjie wat ek uit my lappieshouer aanmekaar geslaan het, en wat die inspirasie was agter die pienk kombers.



 En hier is die volledige prentjie van my 
 weelderige winterbed.




Anzelle se deken en gordyne

Ons het lankal die materiaal vir die oorgooideken en gordyne gekoop, maar ek het vir eers net die deken gemaak. Dit was 'n yslike werk, omdat dit so 'n groot item is. Dit pas op 'n dubbelbed, en hang tot op die vloer.


Ek het so bietjie gesukkel met die hoeke, maar verder was dit nie moeilik nie. Ek dink dis die eerste item wat ek sonder enige lostorringry gemaak het!
Ek wou die gordyne met swart voering, omdat die materiaal deurskynend was, en wit nie mooi sou lyk as agtergrond nie, maar toe onthou ek: ek het swart gordyne in my argiewe uit Anzelle se swart stadium, en daar is geen manier dat ek hulle weer sou gebruik nie. Hulle was die ideale voerings- wit aan die buitekant en swart binne. Anzelle en ryan se kamer is nou ook sommer lekker donker as hulle wil laatslaap.



En hier is my kant en klaar hopie- dis bietjie lig op die foto, maar die materiaal is 'n donker druiwe-pers. Hopelik neem Anzelle vir my 'n foto sodat ek vir julle kan wys!

2 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Hi dis nicolene hier van mdb kan j asb vir mu die patroon stuur van j gebreide kombers

Santie het gesê...

Nicolene, ek het ongelukkig nie 'n patroon nie, het dit uit my kop uit gebrei. Ek het in die post verduidelik hoeveel steke dit was, ens. Ek sou voorstel dat jy dikker wol gebruik- ek het double knit gebruik en dik penne, maar die kombers is ylerig. Ek dink chunky of dikker sal beter werk. Laat weer as ek kan help, maar onthou om jou e-pos adres by te sit.