En ander Verhale


Ek het hierdie storie jare gelde geskryf, en dit verlede jaar ingestuur vir die Bloemfonteinse skrywerskompetisie. Dit het Tweede prys gewen. Is so bly Katriena het al die jare geduldig op my rekenaar gesit en wag:) 

‘n Dag in Junie

Deur Suzi J


Vir Katriena was daar geen ander uitweg nie. En toe Sagrys op ‘n dag in Junie terugkom met die oorloggruwels nog vlak in sy oë, was daar nie woorde nie. Hoe verduidelik ‘n mens vir ‘n man dat jy verantwoordelik is vir die bar verlatenheid waar sy erfplaas eens was?

Katriena het besluit sy sál nie die kakies die plesier  gee om dit wat sy vir Sagrys oppas, te vernietig nie. Daarom het sy self die plek brandgesteek toe rookpaddastoele  al nader kom. Die drommetjies paraffien leegemaak en die vuurhoutjies getrek. Gekyk hoe die gulsige vlamme 80 jaar verswelg. Dit was nie maklik  nie, die kliphuis wóu bly staan, maar die dak het gewillig gebrand en die balke was swaar.  Van die trotse mure moes swig. Net karige geraamtes was in die puin oor, spoke van hulle kort lewe saam. Die raamwerk van hulle koperkatel, swart en sinister in hulle kamer, die pootjiesbad in die badkamer wat Sagrys spesiaal vir haar gebou het, die koolstoof.
Die hekke het sy lankal oopgegooi, sodat die vee pad kan vat. Daar was immers  nie veel oor na herhaalde eise van beledigende rooibaadjies nie.

Weke tevore, toe die gerugte van die plundery haar bereik het, het sy moeisaam ‘n paar stukke huisraad in die sederkiste in die ou, halftoegegooide put laat sak. Haar Ouma se teestel, toegdaai in doilies, melkdoeke en meelsak vadoeke, en kussingslope. Haar Singer wat nog spinternuut was. Van Sagrys se moeder se silwerware. Komberse, beddegoed. Dinge wat ‘n nes uitveer, ‘n huis ‘n tuiste maak. Sy’t die geroeste sinkplaat teruggeskuif, dit met grond beddek, ‘n paar los klippe daaroor gerol.
Hulle nie veel gehad nie, hulle is maar kort tevore getroud. Die plaas met die ou huis het wel na Sagrys se kant toe gekom na sy ou moeder se heengaan, maar sy susters het meeste van die huisraad geërf.

Met ‘n bondeltjie klere,’n paar komberse en ‘n knapsakkie proviand het sy op die stoep gaan sit, gewag dat Gods water oor Gods akker gaan.
Toe die soldate die werf binnery was daar net die smeuling, ‘n roetswart murasie, en  die vrou met die dowwe oë. “What in heaven’s name happened here?” Katriena het nie eens opgekyk nie. “Answer me” Katriena het net voor haar bly tuur, doer in die verte in.
“Lets leave her. She’s clearly not all there. What harm can she do?”
“No, we’re taking her. By now you should know how cunning these Boer wretches are.” Die Verslae figuur het soos ‘n marionet op die wa geklim. Naglank nie ‘n woord gepraat het nie.
Die volgende oggend is sy weer hardhandig van die wa afgelaai toe sy net willoos bly sit het. Vreemde vroue het haar op die oop vragmotor, later die trein soos ‘n kind aan die hand gelei. Vroue wat self bang was, wie self verneder is. In die kamp eers het sy begin beheer neem, want sy het geweet dat sy nie meer alleen was nie.
           
Nou staan sy skuldig voor hom, kind op die heup, en sy het nie woorde om die waansin te verduidelik nie.
            “Here, Katriena, ek dag jy’s dood…” Sy oë flets blou na die maer kind op haar heup. “Ek dag jy’s dood . Maar nou’s jy twéé.”
            ‘n Glimlaggie beur teen die groewe om haar mond. Teer vee  sy oor die kleintjie se blonde krulle, druk sy haar neus in sy vuil nekkie. “Hy het laas winter aangekom, sommer so maklik. Daardie laaste nag wat jy hier aangedoen het ...’ Sy kyk blosend weg. “Self wis ek niks van hom nie, totdat ek begin wys het.” Die trots lê bloot in haar oë. “Gideon is so sterk soos jy, Sagrys.” Daar trek ‘n rilling deur haar skraal lyf. “Die koue…en ek het amper geen melk vir hom gehad nie. Die dat ek nie van sy aankom geskryf het nie. Ek het nie gedink hy gaan dit maak nie.Kindertjies het nie oorleef nie, veral nie babas nie.” Sy skud haar kop effens, asof sy die beelde van die toegerolde bondeltjies wat saans by die tente uitgesit  is, kon wegskud.  “Maar die Liewe Vader het sy hand oor ons gehou. Hy wóu dat ek iets het om vir jou terug te gee.”
Daar is nattigheid in Sagrys se oë. Hy vat versigtig aan die kind se haartjies, streel sy wysvinger oor die hol wangetjie.
“Gideon. Na my pa.” Hy proe-proe aan die naam, draai dit om en om in sy mond. “Gideon.” Die kleintjie kyk hom reguit en onbeskroomd aan, vat met ‘n maer handjie na sy baard. As hy wyd en onbevange glimlag wys vier wit tandjies, keep sy wangetjies waar daar kuiltjies sal wees as hy genoeg goeie kos kry.  Sagrys draai sy gesig bewoë weg, so asof hy bang is die kind sien in sy oë wat hy alles gesien het, en wat hy alles moes doen om vandag hier te staan. Om hulle vou die stilte van die dor vlaktes. Onder hulle voete brokkel die oorblyfsels van  geslagte se swoeg en sweet. Al wat adem is ‘n verslete man, ‘n verslane vrou en ‘n ondervoede kind.

Katriena sit die kleintjie in ‘n skadukolletjie neer, maak vir hom ‘n hopie van ronde klippertjies, wys hom hoe om ‘n paadjie in die sand te trek met ‘n stukkie boombas Hy begin dadelik ‘n kraaltjie pak, hou sy handjie uit vir die kleidiertjies in sy ma se voorskotsak. Hy is nog breekjonk maar wil al plaas bou. Uit niks wil hy ‘n boerderytjie begin, want in sy hartjie weet hy ‘n mens kán.
            ‘n Glimlag breek trots deur die stof, die roet wat veeemde skadu’s oor Katriena se gesig maak. Vlug van begrip het Gideon  in die kamp by die groter kinders geleer van plase en diere. Vaal seuns met yslike kniekoppe het, en gebarste kaal voete het vir hom diertjies aangedra wat hulle uit klei gemaak het. Self het hy tog net perde gesien, en ‘n paar brandsiek beeste anderkant die doringdraad. Praat kan hy nog skaars, eintlik net Mammamama, maar hy kan maak soos ‘n skaap, ‘n bees, ‘n vark, ‘n hond, ‘n hoender, ‘n gans.

Verwonderd kyk Sagrys na sy vrou en kind. Berigte te velde was min, onakkuraat. Die laaste maande was daar ook geen meer briewe nie. Hy het die ergste verwag toe niemand iets van haar weet nie, toe hy verneem hoeveel omgekom het in die doodskampe. Toe hy haar nie op die stasie kry nie, was sy hart swaar. Maar sy is tog hier. Sy jong bruidjie. Dat sy met hom, ‘n man van agt en dertig, getrou het, was alreeds vir hom ‘n wonderwerk. Die stil jong meisie met die dik, blink vlegsels. Wie se sagte wit hande vir niks verkeerd staan nie. Sy nooientjie uit die Vrystaat.
Daar was nooit baie woorde tussen hulle nie, maar respek en vertroue, en liefde. Smiddae was daar ‘n gekookte ete op ‘n gedekte tafel. ‘n Koel kamer waarvan sy die gordyne dig getrek het teen die somerhitte, sodat hy in koeligheid‘n halfuurtjie kon skuinslê. Saans as hy huistoe kom, was daar  warm waswater, skoon klere. Na ‘n ete van vars brood, en biltong of kouevleis, het hy haar help afdek.Daarna het sy woordeloos die Famieliebybel uit die boonste laai gehaal en vir hom aangegee. Later, as hy die kers doodgeblaas het en haar sagte vroue lyf teen hom vastrek het hy weereens dankie gesê dat die  meetsnoere wat vir hom in sulke lieflike plekke geval het. Hulle liefde was van die begin af diep, hulle geloof dieper.

Lank kyk en kyk hulle net, rugge teen die leë sinkdam. Die vrou met die yl vlegsel wat voor die oorlog dik en blink was. Die man met die ruie donker baard wat voor die oorlog nog nie grys was nie. Hulle bly kyk, so asof hulle hoop om tog iets te gewaar. ‘n Verwaarloosde werfkat miskien, of ‘n weglê hen. Maar daar is net niks.
           
Haar keel voel dik van gestolde trane, maar sy weet die waarheid moet uit. Sy skud die vaal vlegsel agtertoe, stryk oor die voos gewaste blou rok., vee oor haar wang met die punt van haar voorskoot. Haar stem is hees, asof die woorde lê en roes het, toe sy eindelik praat. “Ek  het ‘n vreeslike ding gedoen, my man.”
Hy trek haar teen hom vas. Voor die oorlog was sy maar skaars twintig, was haar stem helder, haar oë skaam. “Óórlog is ‘n vreeslike ding, Katriena. Wat ons gedoen het was maar gevolge…”
Beurend uit sy arms val sy hom in die rede: “Jy verstaan nie.”
Sy blik volg hare oor die dorheid. Sy stoot haar kappie af. “Dis ek wat…Hierdie is alles my eie handewerk, Sagrys. Ek kon net nie toelaat dat hulle…Ek wou nie dat hulle die genot hê om alles te vernietig nie.”  Sy bly aangedaan stil, haar wange is nat.
            Die Sagrys trek haar terug in sy arms. Dit vat lank vir die regte woorde om deur die warboel van emosies te dring. “ Hier is niks nie, Katrien.”
Teer vee hy ‘n haarsliert weg wat aan die nattigheid op haar wang klou. “Maar die Vader se Genade is genoeg om mee te begin. Hierdie niks is myne en joue en Gideon s’n.”
            Hulle oë ruk eers los van mekaar toe die kind aan haar roksoom pluk, ‘n vervormde aartappel vir haar aangee wat hy uit die grond by die dam losgewoel het.

Einde
           
1567 woorde

No comments: