Ek was baie lanklaas hier, ek weet, ek weet.
Presies 'n jaar gelede het ek 'n kans gewaag en 'n manuskrip gepos. Dit is goed deur Lapa ontvang, en een boek het twee geword.
So 'n skrywery behels: dink 'n storie uit, sit agterstewe op stoel neer, skryf elke dag 'n stuk totdat die storie klaar is en jy genoeg woorde het. Lees, verander, lees, verander, totdat jy tevrede is. Stuur weg. Wag. As die manuskrip aanvaar word, skryf oor- maak veranderinge en verbeteringe. Lees. Verbeter. Lees. Totdat jy tevrede is, of jou sperdatum aanbreek. Stuur weer weg. Wag. Maak nog veranderinge en verbeteringe. Herhaal die proses totdat die uitgewer tevrede is. Wag. Lees die bladproewe. So ja. Fluit fluit, hierdie storie is uit.
Die eerste een verskyn Maart op die rakke. Dis 'n ou storie.
Die (fourtysomething) heldin kom agter haar man het 'n dwalende oog, en voete van klei. Sy is verneder en gebroke, en vlug na haar strandhuis (sy het baie probleme maar gewig en geld is nie deel daarvan nie, gelukkige sy). Daar ontmoet sy 'n ou liefde, en vind troos. Maar teruggekom by die huis wil haar man haar terughê. Hy het nie veel ander foute nie, en sy het hom nog lief. Maar het sy hom nog lief genoeg om hom alles te vergewe? Dis kortweg waaroor die storie gaan. Jy gaan nie jou naels daaroor opkou nie, maar jy sal jou moontlik kan vereenselwig met Jessica wat 'n gewone vrou en ma soos ek en jy is, en gewone dinge doen soos ons.
Sou jy jou man in so situasie kon vergewe? Of het jy? As jy jou storie met my wil deel, doen dit gerus. Gebruik die e-pos onder aan as jy dit privaat wil hou.
Die tweede boek is 'n opvolg, pas klaar, en ek wag vir die bladproewe.
Ek het darem nie vir maande aaneen net geskryf nie. Ek wys julle volgende week wat ek alles geknutsel het.
Groete van huis tot huis.