Ek het hierdie storie jare gelede geskryf, en dit verlede jaar ingestuur vir die Bloemfonteinse skrywerskompetisie. Dit het Tweede prys gewen. Is so bly Katriena het al die jare geduldig op my rekenaar gesit en wag:)
‘n Dag in Junie
Vir Katriena was daar geen ander uitweg nie. En toe
Sagrys op ʼn dag in Junie terugkom met die oorloggruwels nog vlak in sy oë, was
daar nie woorde nie. Hoe verduidelik ʼn mens vir ʼn man dat jy verantwoordelik is
vir die bar verlatenheid waar sy erfplaas eens was?
Katriena het besluit sy sál nie die kakies die
plesier gee om dit wat sy vir Sagrys oppas, te vernietig nie. Daarom het
sy self die plek brandgesteek toe rookpaddastoele al nader kom. Die
drommetjies paraffien leegemaak en die vuurhoutjies getrek. Gekyk hoe die
gulsige vlamme 80 jaar verswelg. Dit was nie maklik nie, die kliphuis wóu
bly staan, maar die dak het gewillig gebrand en die balke was swaar. Van
die trotse mure moes swig. Net karige geraamtes was in die puin oor, spoke van
hulle kort lewe saam. Die raamwerk van hulle koperkatel, swart en sinister in
hulle kamer, die pootjiesbad in die badkamer wat Sagrys spesiaal vir haar gebou
het, die koolstoof.
Die hekke het sy lankal
oopgegooi, sodat die vee pad kan vat. Daar was immers nie veel oor na
herhaalde eise van beledigende rooibaadjies nie.
Weke tevore, toe die gerugte van
die plundery haar bereik het, het sy moeisaam ‘n paar stukke huisraad in die
sederkiste in die ou, halftoegegooide put laat sak. Haar Ouma se teestel,
toegdaai in doilies, melkdoeke en meelsak vadoeke, en kussingslope. Haar Singer
wat nog spinternuut was. Van Sagrys se moeder se silwerware. Komberse, beddegoed.
Dinge wat ʼn nes uitveer, ʼn huis ʼn tuiste maak. Sy’t die geroeste sinkplaat
teruggeskuif, dit met grond beddek, ‘n paar los klippe daaroor gerol.
Hulle nie veel gehad nie, hulle
is maar kort tevore getroud. Die plaas met die ou huis het wel na Sagrys se
kant toe gekom na sy ou moeder se heengaan, maar sy susters het meeste van die
huisraad geërf.
Met ‘n bondeltjie klere, ’n paar komberse en ʼn
knapsakkie proviand het sy op die stoep gaan sit, gewag dat Gods water oor Gods
akker gaan.
Toe die soldate die werf binnery
was daar net die smeuling, ʼn roetswart murasie, en die vrou met die dowwe
oë.
“What in heaven’s name happened here?”
Katriena het nie eens opgekyk nie.
“Answer me!”
Katriena het net voor haar bly tuur, doer in die verte in.
“What in heaven’s name happened here?”
Katriena het nie eens opgekyk nie.
“Answer me!”
Katriena het net voor haar bly tuur, doer in die verte in.
“Lets leave her. She’s clearly
not all there. What harm can she do?”
“No, we’re taking her. By now you should know how
cunning these Boer wretches are.”
Sy het soos ʼn marionet op die wa geklim. Naglank nie ʼn woord gepraat het nie.
Sy het soos ʼn marionet op die wa geklim. Naglank nie ʼn woord gepraat het nie.
Die volgende oggend is sy weer
hardhandig van die wa afgelaai toe sy net willoos bly sit het. Vreemde vroue
het haar op die oop vragmotor, later die trein, soos ‘n kind aan die hand gelei.
Vroue wat self bang was, wie self verneder is. In die kamp eers het sy begin
beheer neem, toe sy geweet het dat sy nie meer alleen was nie.
Nou staan sy skuldig voor hom, kind op die heup, en
sy het nie woorde om die waansin te verduidelik nie.
“Here, Katriena, ek dag jy’s dood…” Sy oë flets blou na die maer kind op haar
heup. “Ek dag jy’s dood. Maar nou’s jy twéé.”
ʼn Glimlaggie beur teen die groewe om haar mond. Teer vee sy oor die
kleintjie se blonde krulle, druk sy haar neus in sy vuil nekkie. “Hy het laas
winter aangekom, sommer so maklik. Daardie laaste nag wat jy hier aangedoen het
...’ Sy kyk blosend weg. “Self wis ek niks van hom nie, totdat ek begin wys
het.” Die trots lê bloot in haar oë. “Gideon is so sterk soos jy, Sagrys.” Daar
trek ‘n rilling deur haar skraal lyf. “Die koue… en ek het amper geen melk vir
hom gehad nie. Die dat ek nie van sy aankom geskryf het nie. Ek het nie gedink
hy gaan dit maak nie. So baie het nie oorleef
nie, veral nie babas nie.” Sy skud haar kop effens, asof sy die beelde van die
toegerolde bondeltjies wat saans by die tente uitgesit is, kon
wegskud. “Maar die Liewe Vader het sy hand oor ons gehou. Hy wóu dat ek
iets het om vir jou terug te gee.”
Daar is nattigheid in Sagrys se
oë. Hy vat versigtig aan die kind se haartjies, streel sy wysvinger oor die hol
wangetjie.
“Gideon. Na my pa.” Hy proe-proe
aan die naam, draai dit om en om in sy mond. “Gideon.” Die kleintjie kyk hom
reguit en onbeskroomd aan, vat met ʼn maer handjie na sy baard. As hy wyd en
onbevange glimlag wys vier wit tandjies, keep sy wangetjies waar daar kuiltjies
sal wees as hy genoeg goeie kos kry. Sagrys draai sy gesig bewoë weg, so
asof hy bang is die kind sien in sy oë wat hy alles gesien het, en wat hy alles
moes doen om vandag hier te staan. Om hulle vou die stilte van die dor vlaktes.
Onder hulle voete brokkel die oorblyfsels van geslagte se swoeg en sweet.
Al wat adem is ʼn verslete man, ʼn verslane vrou en ‘n ondervoede kind.
Katriena sit die kleintjie in ‘n skadukolletjie
neer, maak vir hom ‘n hopie van ronde klippertjies, wys hom hoe om ‘n paadjie
in die sand te trek met ‘n stukkie boombas Hy begin dadelik ‘n kraaltjie pak,
hou sy handjie uit vir die kleidiertjies in sy ma se voorskootsak. Hy is nog
breekjonk maar wil al plaas bou. Uit niks wil hy ‘n boerderytjie begin, want in
sy hartjie weet hy ‘n mens kán.
‘n Glimlag breek trots deur die stof, die roet wat veemde skadu’s oor Katriena
se gesig maak. Vlug van begrip het Gideon in die kamp by die groter
kinders geleer van plase en diere. Vaal seuns met yslike kniekoppe het, en
gebarste kaal voete het vir hom diertjies aangedra wat hulle uit klei gemaak
het. Self het hy tog net perde gesien, en ‘n paar brandsiek beeste anderkant
die doringdraad. Praat kan hy nog skaars, eintlik net Mammamama, maar hy kan maak
soos ‘n skaap, ‘n bees, ‘n vark, ‘n hond, ‘n hoender, ‘n gans.
Verwonderd kyk Sagrys na sy vrou en kind. Berigte
te velde was min, onakkuraat. Die laaste maande was daar ook geen meer briewe
nie. Hy het die ergste verwag toe niemand iets van haar weet nie, toe hy
verneem hoeveel omgekom het in die doodskampe. Toe hy haar nie op die stasie
kry nie, was sy hart swaar. Maar sy is tog hier. Sy jong bruidjie. Dat sy met
hom, ‘n man van agt en dertig, getrou het, was alreeds vir hom ‘n wonderwerk.
Die stil jong meisie met die dik, blink vlegsels. Wie se sagte wit hande vir
niks verkeerd staan nie. Sy nooientjie uit die Vrystaat.
Daar was nooit baie woorde
tussen hulle nie, maar respek en vertroue, en liefde. Smiddae was daar ʼn
gekookte ete op ʼn gedekte tafel. ʼn Koel kamer waarvan sy die gordyne dig getrek
het teen die somerhitte, sodat hy in koeligheid‘n halfuurtjie kon skuinslê.
Saans as hy huistoe kom, was daar warm waswater, skoon klere. Na ʼn ete
van vars brood, en biltong of kouevleis, het hy haar help afdek. Daarna het sy
woordeloos die Famieliebybel uit die boonste laai gehaal en vir hom aangegee.
Later, as hy die kers doodgeblaas het en haar sagte vroulyf teen hom vastrek
het hy weereens dankie gesê dat die meetsnoere wat vir hom in sulke
lieflike plekke geval het. Hulle liefde was van die begin af diep, hulle geloof
dieper.
Lank kyk en kyk hulle net, rugge
teen die leë sinkdam. Die vrou met die yl vlegsel wat voor die oorlog dik en
blink was. Die man met die ruie grys baard wat voor die oorlog nog donker
was. Hulle bly kyk, so asof hulle hoop om tog iets te gewaar. ʼn
Verwaarloosde werfkat miskien, of ʼn weglê hen. Maar daar is net niks.
Haar keel voel dik van gestolde trane, maar sy weet
die waarheid moet uit. Sy skud die vaal vlegsel agtertoe, stryk oor die voos
gewaste blou rok, vee oor haar wang met die punt van haar voorskoot. Haar stem
is hees, asof die woorde lê en roes het, toe sy eindelik praat. “Ek het ʼn
vreeslike ding gedoen, my man.”
Hy trek haar teen hom vas. Voor
die oorlog was sy maar skaars twintig, was haar stem helder, haar oë skaam.
“Óórlog is ʼn vreeslike ding, Katriena. Wat ons gedoen het was maar gevolge…”
Beurend uit sy arms val sy hom
in die rede: “Jy verstaan nie.”
Sy blik volg hare oor die dorheid. Sy stoot haar
kappie af. “Dis ek wat… Hierdie is alles my eie handewerk, Sagrys. Ek kon net
nie toelaat dat hulle… Ek wou nie dat hulle die genot hê om alles te vernietig
nie.” Sy bly aangedaan stil, haar wange is nat.
Die Sagrys trek haar terug in sy arms. Dit vat lank vir die regte woorde om
deur die warboel van emosies te dring. “ Hier is niks nie, Katrien.”
Teer vee hy ʼn haarsliert weg wat
aan die nattigheid op haar wang klou. “Maar die Vader se Genade is genoeg om
mee te begin. Hierdie niks is myne en joue en Gideon s’n.”
Hulle oë ruk eers los van mekaar toe die kind aan haar roksoom pluk, ʼn
verwronge aartappel vir haar aangee wat hy uit die grond by die dam losgewoel
het.
Einde
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking