Dit was 'n nat Saterdag, maar dit was sagte reën, en ons het bespreek, so ons het in die nattigheid hierdie pad op gestap.
Ek vermoed die misreën het die kasteel selfs meer betowerend gemaak.
Koning Ludwig II was 'n alleenmens en het die kasteel gebou om weg te kom van mense af. Gaan lees oor die bou van die kasteel en die hartseer geskiedenis van die (gek) koning hier.
As 'n mens so lank wag om alles neer te pen, verdwyn baie tussen neus en ore. Veral tussen ore. My geheue is 'n geheimsinnige plek waar feit en fiksie dikwels verstrengel raak, en ek moet kophou om die twee te skei. Daar is net so baie chaos waardeur ek moet soek ... En ook foto's wat op plekke ge-dump word waarvan ek later vergeet. En as ek hard besig is om die rowwe weergawe van 'n manuskrip voor kersfees klaar te kry, raak dit 'n yslike werk om te soek. So, ongelukkig het ek nie nou foto's van die binnekant van die kasteel om vir julle te wys nie. 'n Mens mag natuurlik nie alles afneem nie, maar iewers is foto's van die kombuis. Altyd die kombuis met my. Het dit iets te doen met my liefde vir eet?
Kyk hoe mooi is dit om die kasteel. En net voordat ons die pad ondertoe aangedurf het (baie makliker as boontoe, nodeloos om te sê) het ek warm sjokolade gehad. Herinneringe aan die kasteel sal nou altyd vir my soet en warm wees.
My beer het vir ons 'n blyplek na aan die kasteel gesoek, en toe in Oberammergau bespreek. Al wat ek van die dorpie geweet het, was dat die passiespele daar plaasvind. Wat 'n verrassing!
Dis 'n skilderagtige dorpie in die berge en mans in lederhosen en vroue in hulle tradisionele klere laat dit voel of tyd in die dorp stil gaan staan het. Of daar altyd heelwat inwonders is wat so aantrek, en of daar een of ander geleentheid daarvoor was weet ek nie, maar dis iets wat my baie bly gemaak het. Ek sal vir seker so 'n uitrusting dra (maar ek is nie so seker of ek wil hê my beer moet lederhosen dra nie. Hy lyk wel baie goed met een van daardie hoede😉)
Daar is speelgoedmakers en Kersgoedwinkels en alles wat die kind in my se hart baie bly gemaak het.
Ek het vir my 'n paar plekkies gekry om in te bly (in my drome).
Hierdie een is oorgroei en verslete en soebat vir 'n storie:
En wat my sal altyd sal bybly van hierdie reis is die blomme. Oberammergau is geen uitsondering nie.
Om die naweek meer onvergeetlik te maak, is dit waar ons gestop het: 'n heerlike surrealistiese eenstop.
Ek kry nou nie foto's van die beelde (of is dit installasies?) buite nie. Binne is 'n ongelooflike verskeidenheid eet en drinkgoed wat jy op jou skinkbord laai en dan by een punt betaal. Ek het die heerlikste torte (koek met 'n romerige vulsel) geëet. Daar is ook fantastiese sitplekke. Gewonde stoele en tafels, maar ook groepies leunstoele.
Dis die voorlaaste episode van hierdie reis. Voel vry om te vra as jy oor iets wonder, soos altyd. Groete van huis tot huis!