Na 'n gewik en geweeg het ek besluit dis tyd om Poplap met 'n Stoflap blog te ruste te lê. Soveel het verander sedert ek my gedagtes hier begin neerpen het.
-My kinders is uit die huis uit.
-My man bly nou in Duitsland, en ons het 'n pendelhuwelik. (Oukei, sedert Covid is dit net hy wat pendel, ek bly tuis.)
-Ons katte het almal uitgesterf, en nou is net Pablo oor. Ek wil nie 'n nuwe katjie kry nie, want ek wil mos nog reis. Eendag, weer.
-My skryfloopbaan het vlerke gekry. Daar staan nou sewe boeke met my eie naam op op my rak, en binnekort verskyn die agste een.
Ek is lank reeds nie meer 'n poplap met 'n stoflap nie. Ek is meer gereeld 'n poplap met 'n skootrekenaar of 'n
hekelpen, of breinaalde of naaimasjien.
Dit het stil geword om my. Maar net voordat jy my jammer kry, ek geniet die stilte. Ek kan myself hoor dink. (En soms hoor praat, maar daaroor praat ons nie hier nie.) Ek verlang soms na die holderstebolderjare, maar ek koester die vrede wat ek nou in my lewe het. Die reëlmaat waarmee my dae verloop, die feit dat ek alleen in beheer is van my tyd. 'n Stil lewe wat miskien vir iemand anders vervelig en eentonig mag lyk, is vir my veilig en gerusstellend.
Ek verwelkom kuiers, natuurlik, en ek die mense wat ek lief het verstaan my kluisenaarsiel. Die mense wat ek lief het weet watter beproewing baie mense en geraas en flikkerende ligte en stampe en stote vir my is. Ek sal nie hier uitbrei oor my skete en ellendes nie. Maar ek het vrede gemaak daarmee. Dis hoe dit is. Dis miskien hoe dit altyd vir my gaan wees.
Maar ek dwaal af. Eintlik wil ek net koebaai sê, vir eers. Dankie vir my getroue lesers. Dankie dat julle hier kom loer het al het ek vir 'n paar jaar niks gepos nie. Dankie vir julle belangstelling en aanmoediging en deernis en empatie. Sonder lesers is skrywers niks.
Ek is in ʼn nuwe fase van my lewe, en
ek dink dis gepas dat ek ʼn nuwe blog begin. Hou hierdie spasie dop, ek sal die skakel
hier pos. Die son sak oor Poplap, maar dit kom binnekort elders op.
Groete van huis tot huis.