12 Okt. 2011

Uiteindelik

Kan ek vir julle wys waaraan ek so geheimsinnig gewerk het: 





'n Hussif. Ek het dit eendag raakgelees in 'n storieboek en gaan opsoek wat dit beteken.  'n Brandende begeerte het in my ontstaan om een te maak. Ek oordryf nie. My arme huismense moes na prente en foto's daarvan kyk. Hulle is onderwerp aan sketse en planne. Ek het  by Die Werksmandjie in gestrompel en uit gehuppel, of andersom, op soek na die regte stukkie materiaal, die regte kleur gare, die regte lint, die regte kantjies. Ek het my baba soos 'n jaloerse ma bewaak, en die katte wat gewoonlik oral mag lê, mag nie binne 'n meter radius daarvan gekom het nie. Dis is in sagte materiaal toegedraai, en na Melanie toe gevat om my vordering te besigtig en te bewonder. As my noointjieskind kom kuier is sy skaars gegroet voordat sy  daarna moes gaan kyk. "Kyk die rosies" het ek gemymer, kyk die ou skoenlappertjies." Maar ek dwaal af.



'n Hussif is 'n naaldwerkstelletjie wat in ou dae vir mans saamgegee is oorlog toe. Hulle moes mos ook maar knope aanwerk en some insit en skeure regmaak. Die soldate het daarna verwys as 'n 'housewife' wat in die volksmond toe 'hussif' geword het. Dit was natuurlik onopgesmuk (ek het een uit die Anglo Boere Oorlog in lewende lywe gesien by die museum by die Vrouemonument in Bloemfontein), maar dames het die handigheid daarvan besef, en vir hulleself ook daarvan begin maak. Eie aan ons vroulike aard, het hulle dit begin versier, en dit het as het ware klein kunswerkies geword. Gaan kyk gerus hier en op een van my gunsteling blogs.



Ek het die vlindertjies van organza lint en krale gemaak.










As 'n mens dit oopvou, lyk dit so:

 Aan die linkerkant is 'n sakkie (van 'n bree stuk katoenkant) vir 'n maatband, lostrekkertjie ens.
 Aan die regterkant 'n plek vir 'n skêrtjie. 'n Lussie met 'n drukkertjie aan keer dat die skêrtjie uitval.














                                                  

In die middel die vingerhoed. Ek het die houertjie gehekel, en die rosies op die punte van die toetrektoutjie borduur.
Dit vou dan nog 'n keer oop
 en daar is ringetjies waaraan sy borduurgare of lint kan vasmaak
 'n naaldeboekie van vilt

 en 'n liewe speldekussintjie.
Onder die skêrtjie is 'n koevertjie vir knopies ens.

Op die agterkant is 'n sakkie vir 'n notaboekie en pen.

Ek het 'n dun stukkie wateersel tussen die lae materiaal gesit om dit effens meer toegeeflik te maak, en organza lint om dit toe te strik. My masjien het vir my die stikwerk gedoen, en die borduurwerk het ek met die hand gedoen. Die mandjie voor-op is gehekel, en toe vasgewerk.







Ek weet nie hoeveel ure ek hieraan spandeer het nie, maar elke stekie was 'n plesier, en die eindproduk baie bevredigend. En dit is vir Ella net so 'n groot vreugde soos vir my!

Ek jeuk om nog een te maak, maar eerste dinge eerste. Die trourok en Gerdie se markgoed wag. (Gerdie is 'n vreeslike innoverende vriendin met matelose energie en ondernemingsgees. Sy hou die 3de tot die 5de November 'n handwerkmark  in die Hervormde Kerk van Midstream. Los vir my 'n boodskap as jy meer van haar Hartmark wil weet.)

10 Okt. 2011

'n Presentjie

vir 'n spesiale vriendin.

.

 Dit is vir Ella- sy het al maande gelede verjaar, maar sy rits rond (haar manlief het afgetree) en ek maak onderbaadjies en rokke en beplan troues en probeer 'n kind deur matriek kry, so ons kuier te min. Kom ek vertel julle gou.
Ella was my seuntjieskind se speelgroepie tannie, en het een van my liefste en beste vriendinne geword. Ek het by haar 'n klomp goed geleer, o.a.
1) Dat daar wel mense op hierdie aarde is wat so mooi na jou kind kan kyk soos jyself.
2) Dat een mens twee handevol kleuters kan laat speel en leer sonder om haar stem te verhef, sonder 'n drag slae, sonder dreigemente, sonder om hulle kreatiwiteit te demp, of hulle in 'n hokkie te druk,  met 'n ferm, liefdevolle hand.
3) Dat ouderdom en vriendskap niks met mekaar te doen het nie (sy is so oud soos my liewe moeder).
So het dit gebeur:
 Toe my meisiekind skooltoe is, het haar boeta al tien-uur, na sy oggendstorie, by die hekkie vir haar gaan wag. My moederhart het geweet hy is eensaam, maar ek het my dogtertjie by my gehou tot sy skooltoe is, en ek was so bang om my jongste by 'n vreemdeling te los. So stuur ek my kommer die heelal in, en dink daaroor en wonder en gesels met ander Mammas.
Toe kom daar 'n engel op my pad, en ek kon met 'n geruste hart drie keer per week  my seuntjie vir 'n paar ure in haar sorg laat. Daardie 3-jarige seuntjie is nou in gr 12, en ek en Ella het vriende gebly. Daarom het ek, toe ek iets op die wereldwye web sien, geweet dat  ek dit vir haar gaan maak.


Maar julle moet wag totdat ek dit vir haar gegee het voordat ek julle wys:)

06 Okt. 2011

Net voor ek nesmaak


agter my masjien, en my lappe en gare en patrone en skêre en spelde en naalde en ander naaldwerkgoed die hele spaarkamer oorneem. Só lyk dit tussen masjienwerk-projekte:   






Ek het vanoggend die 'rok-voor-voor-die-trourok' gesny, sal nou- nou daarmee begin.

(Anzelle hulle se troue is om die draai, en ek maak die rok. Gelukkig wil sy 'n rok sonder fieterjasies hê!)

22 Sep. 2011

'n Stukkie gedig

"want êrens êrens is dit lente
en 'n aarde draai ruikerig ryk
en klam soos 'n vrug
(en daar's vinke in die vye)

waar so sê die mense
god sy lakens neerlê om te bleik
bloei die wit sneeu aan die bome
maar wat kan dit ons skeel
met ons vingers soos
muise in die kaas van
ons drome van koejawels en
dae
en
goed?

want êrens beef die lente
en 'n aarde draai ruikerig warm
en ryp soos 'n vrug
(en daar's vinke in die vye)"

Aangehaal uit Breyten Breytenbach se 'vir wilhelm'





Stefan het die foto's in ons tuin geneem waaruit ek hierdie lente-collage gemaak het.

























16 Sep. 2011

My hart het nie net plek vir een kat nie



maar dit mag dalk so lyk. Want sien, al behoort ons huis aan twee katte, is ek Soekie se mens, al is sy Stefan se kat.



 En Stefan is Mei-Mei se mens, al het sy oorspronklik aan Willem behoort. Dis ingewikkeld, maar katmense behoort te verstaan. So, waar ek is, is Soekie, daarom is sy op amper al my foto's.
Maar dit beteken nie Mei-Mei het nie 'n plekkie in my



 

handsak





boekrak 

fotoboks







(geredigeer- Mei-Mei was gladnie beindruk met hierdie inskrywing nie. In haar eie woorde:
Volgende keer sal ek toestemming vra, jammer:(