03 Mrt. 2012

Beloftes maak skuld

Siende dat Anzelle laasjaar op haar verjaardag getroud is, het ek nie vir haar verjaarkoek gebak nie, maar het belowe om dit op 'n later stadium te doen.As daar een ding is wat daardie noointjieskind van my nooit sal vergeet nie, is dit die belofte van koek!
 Die woorde: 'What are little girls made of... sugar and spice and all things nice' is sekerlik met my kind in gedagte geskryf. So, ek het my rekenaar nadergetrek, "Red Velvet Cake" geGoogle, en my resepteboeke gefynkam, uiteindelik my voorskoot aangestrik en 'n koek gebak. Dit was pragtig, en nog lekkerder as wat dit gelyk het. Klam, met 'n sjokolade-smakie, en perfek gerys.



Die grootste gedeeltes van die resep kom uit 'Koeke ter viering van Liefde en Lewe' van Callie Maritz en Mari-Louise Guy.  Ek het die hoeveelheid kakao in die oorspronklike resep vermeerder, omdat ek dit nie kon proe nie, en miskien so 'n bietjie meer kleursel ingegooi. Die Roomkaasversiering kom ook uit hulle boek, en is een van daai resepte wat ek al uit my kop uit ken, so gereeld maak ek dit.


Rooi Fluweel Koek 















Verhit die oond tot 180
Berei 3 laagkoekpanne

Bestanddele:

350g meel
300g suiker
5ml koeksoda
75ml kakao
5ml sout
250ml karringmelk
2 eiers
375ml kookolie
5ml asyn
25ml rooi koekleursel
5ml vanielje

Klits eiers, suiker, olie, karringmelk, koekkleursel, asyn en vanielje saam
Sif kakao, meel, koeksoda, bakpoeier en sout saam
Meng nat en droee bestanddele
Verdeel eweredig in die drie panne
Bak vir so 40 min
(Hier kom nie bakpoeier in nie!)



(Ek het die koeklae in die vrieskas gesit voordat ek dit versier het. Dit help gewoonlik dat die koek nie soveel krummel nie.)

Versier met Roomkaas versiering

250ml Roomkaas
250g sagte botter
280g Versiersuiker
5ml vanielje  

Meng tot glad, versier die dieprooi fluweelkoek daarmee.
 NB die koek op die foto in die resepteboek is ook met rooi roosblare versier. Dis Pragtig, maar maak seker die rose is nie gifstowwe gespuit nie, en dat dit goed gewas is voordat jy dit gebruik.

22 Feb. 2012

Ek het heerlik gespeel


 met al my wolle en krale en gare, en vir Melanie 'n persent gemaak vir haar verjaardag, vir haar spiksplinternuwe huis.




Ek het blommetjies gehekel 













 
 

en blare, en stingeltjies


 dit alles vasgestik op materiaal

en versier met krale, knope en gare
 


en twee vriendelike kussingtjies gemaak.
 







04 Feb. 2012

'n Kaalvoet bruid met 'n rooi rooi rok




Anzelle






'n  Droomkamer om in aan te trek











Ietsie geleen.










Anzelle se Verjaardagrosie

























Trouskoene







'n Prentjie


Sê net Ja









Ons gesin



 























































Hierdie pragtige boonste foto's is deur Antoinette geneem.

Die volgende foto's is deur Willem, Ryan en Ryan se pa geneem: 





'n Tafel in die tuin














Blomme





Geskenkekis


Gekleurde papierlanterns.



Feetjiekoek
Anzelle se mocha-speserykoek.
.





Perfekte skuimpie-sampioene.


















Dit was geheel en al 'n selfdoen troue. Anzelle en Ryan wou dit klein en persoonlik hou. Ek het die rok gemak, en Anzelle het die koek gebak. Ons het tafels gehuur, en dit aan ons lang buitetafel gelas. Ons het 10 stoele by Gerdi geleen, en die res uit ons huis bymekaargemaak. Nog 'n vriendin, Marietjie het die blomme vir ons gedoen, en ons het lang wit tafeldoeke ook by Gerdi geleen. Pasella-Ma Christine het toegelaat dat ek in haar doilie-laai snuffel, vir gehekelde doilies wat ons vir plekmatjies gebruik het. 
Ons het bome vol stringe liggies (hulle werk met batereie), papierlanterns, en flesse met kerse gehang. Ek en Willem het die pasteie gemaak, en ouma, ma en sussie het hand bygesit met die bykosse. Pasella sussies en Ma het vir snoephappies gesorg. My ma en Sussie het die tafels gedek terwyl ek Anzelle se hare en grimering gedoen het. Stefan en twee vriende was kelners. ons swaers het die lanterns ens aangesteek. 
Ek het Anzelle se hare en grimering gedoen, en Willem het die huwelik seremonie gedoen.



09 Jan. 2012

Oeps!

Het met my laaste inskrywing skandelik nagelaat om almal wat my skryfsels lees 'n gelukkige 2012 toe te wens. So hier is 'n wens uit my hart: Ek wens jou liefde, en vrede, en voorspoed en gesondheid, en mag die jaar vir jou blom!


Dankie vir elke glimlag, elke drukkie, en elke goeie wens wat jy na my kant toe stuur. Dankie dat jy geduldig is met my as ek meegvoer raak met my eie klein wereldjie, en dankie, dankie, dankie dat jy belangstel om te sien waarmee 'n  Poplap met 'n Stoflap doenig is.

 

'n Kykie deur my kamervenster.

04 Jan. 2012

Elke jaar

kies ek net een nuwe voorneme. Ja, daar is 'n hele lysie om van te kies, maar mettertyd het ek geleer een is volhoubaar. Dit voorkom daardie gevoel van mislukking as jy die 4de Januarie 'n yskoue glasie wyn(jy gaan nie meer drink nie) ingooi om saam met jou bakkie chips te geniet(jy gaan nie meer peusel nie), terwyl jy nonsens kyk op TV(jy gaan jou tyd konstruktief spandeer) as jy eintlik beplan het om te oefen.
Die jaar het ek besluit om régtig beter na myself te kyk. Ek praat nie hier van ure spandeer in haarsalonne of om my naels te verf, of om nooit ooit weer my mond aan suiker te sit nie. Ek praat van kyk na myself op die eenvoudigste moontlike manier. Laat ek verduidelik:
As jy nog nuut is, as jy nog afhanklik is, as jy nog 'n baba is, skree jy oor net 'n paar redes: 

1)jy is honger of dors,
2)jy is ongemaklik,
3)jy is moeg.

Honger word met iets eenvoudigs gestil- eers jou melkies, later jou pap, nog later groente en vrugte, heel later eers sagte vleisies. Dors word geles met water, vrugtesap, of rooibostee. Ongemak word verlig met 'n droë doek, koeler kleertjies, 'n ander posisie in jou bedjie. As jy moeg is moet jy slaap. Dis al.
Van die baie dinge wat ek by my liewe moeder geleer het toe my kinders babas was, is die proses van eliminasie. Kyk (of ruik) na die doek. Gee eers water of tee, daarna kos of melk. As die keintjie nog steeds kriewel, kyk of iets hom/haar seermaak. Voel of hy dalk natgesweet is, of haar handjies dalk ysig koud is. Voel of hy koorsig is. Kortom, probeer vasstel wat die behoefte op daardie oomblik is, en voorsien daarin.
As 'n baba nog nie sy voeding gehad het nie, gaan jy hom in 'n warm kar laai, en Mall toe ry nie. As dit tyd is vir haar oggendslapie gaan jy haar  nie in 'n 'jolly jumper' stop voor 'n flitsende tv skerm nie. As dit koud is gaan jy nie vir haar die oulike pienk sandaaltjies aantrek nie, en as dit warm is gaan jy nie die dierbare truitjie met die skapies op en die mussie met die haasore vir haar aantrek nie.Om 'n baba se basiese behoeftes te ignoreer is gewoon stupid.

Maar as jy groot is, en jou ma kyk nie meer na jou nie, is dit asof 'n mens dink dit maak nie meer saak nie-
Jy is dors, dan eet jy 'n sjokolade(want jy het gedink jy is honger).
Jy is honger, dan drink jy 'n koppie koffie(Dit Is Nog Nie Tyd vir Ete nie).
Dis 36˚, maar jy is vasbeslote om jou nuwe, kleiner dennim aan te trek, met die prettige driekwartmou rokkie bo-oor.
Dis koud, maar jy gaan nie 'n trui aantrek nie, want dan kan niemand sien hoe goudbruin jou arms is nie.
Jy is moeg, maar jy gaan staan 'n uur lank in die ry by die flieks om die film te gaan kyk wat jou deftige vriendin se kunstenaars vriend aanbeveel het. Dit is mos 'ek' tyd, dan nie? Jy doén 'n slag iets vir jouself. Nie so logies nie, nê? Dis nie 'n wonder dat daar soveel grompottiges die aarde bewandel nie!

Om 'n lank storie kort te maak, hierdie jaar gaan ek regtig na myself kyk. Soos my ma laas gedoen het toe ek haar nog toegelaat het. Met liefde, begrip, toegeneentheid en aanvaarding. Met deernis. Wie weet, miskien kry ek binnekort so 'n wye glimlag in die spieël...