1) Ek kan lekkerder kos maak as die meeste restaurante. Ja ek weet dis nie vreeslik beskeie om dit te noem nie, maar hierdie is 'n eerlike blog, en feite is feite.
(hierdie is gort risotto met geroosterde groente, pampoensaad en feta.)
Maar ek hou nog steeds daarvan om te gaan uiteet, want
a) dan hoef ek nie agterna op te ruim nie en
b) my man moet bly sit terwyl ons wag vir ons kos, want hy kan nie by Mimmo's of by die Spur gou gaan bossies uittrek, of 'n stuk hout gaan saag nie.
2) Ek sukkel om my aandag by een ding te bepaal. Op enige gegewe tydstip het ek
- breiwerk, hekelwerk, borduurwerk en masjienwerk. Soms selfs meer as een projek in elke kategorie.
- minstens 10 kortverhale in wording, en twee halfgeskryfde boeke.
- 'n hoop boeke in my bedkassie wat ek gelyktydig lees.
My bedkassie op die oomblik
3)Ek hou van notaboeke, en ek skryf daagliks allerhande dinge neer. Ek het o.a.
-'n
Joernaal waarin ek goed skryf wat ek kan lees as ek oud is, of as ek wonder waar is die tyd heen.
-'n Boekie waarin ek
aanhalings neerskryf, en stukkies uit boeke wat vir my treffend is. Ek het al 'n paar volgeskryf.
-'n Dankbaarheidjoernaal waarin ek my
seëninge tel.
-'n Notaboek waarin ek enigeiets skryf wat in my kop kom. Soms is dit
wroeginge, soms net onsamehangende gedagtes, sommer enige-iets wat in my kop kom. Dis soort van terapie. Ek het al 'n hele bondel daarvan. Dis saam vasgebind met 'n nota daarop wat se moenie lees nie, verbrand. En ek weet enige-iemand wat dit waag om dit te lees sal nooit weer dieselfde wees nie.
-'n Boekie waarin ek my vreemde
drome neerskryf, maar ek doen dit nie so gereeld nie. Toe ek klein was het my oupa Thys elke liewe oggend vir my gevra wat het ek gedroom. Dan vertel hy vir my wat het hy gedroom, ook.
My drome is, wel,
plain weird. Dis beter om dit neer te skryf as om ander mense daarmee te verveel. Die enigste persone wie ek ken wat lyk of hulle dit wil hoor, is pasella sus Stephanie, en my sussie, Doortjie! My man en dogter verduur dit gelate. My seun rol sy oë en sê 'Ag vader tog' en verklaar my dan, (kenner op die gebied van die menslike psige wat hy is), as ek klaar vertel het, as '
severely disturbed'.
-'n
Lysieboek waarin ek goed opskryf wat ek moet doen.
-'n Luukse boekie vir
gedigte wat vir my mooi is.
En ek dink ek kort 'n boekie waarin ek kan opskryf waarvoor al die boekies is (grappie).
My skryfboeke
4) Al die grimering wat besit pas in die een laai. (My liewe vriendin Elsie was erg verbaas hieroor, en toe ek ander daaroor uitvra, het ek besef ek is redelik uniek wat dit aanbetref. Ek vermoed my sus se mooimaakgoed wat sy in haar handsak met haar saamdra, sal nie eers daarin pas nie.)
My grimering
5) Soms gaan daar weke om wat hierdie poplap nie naby 'n stoflap kom nie. Want ek raak maklik hierin verlore:
Watter 5 dinge oor jouself wil jy met my deel? Toe, ons is almal vriende hier- vertel maar!