14 Apr. 2012

Ek was besig besig besig

♩ ♪ ♫ ♬ ek was  vreeslik, vreeslik besig, ek was besig besig besig om te werk♩ ♪ ♫ ♬...


Onthou julle nog die liedjie oor die mier wat ons gesing het toe ons klein was? Ek was só bedrywing, maar nie soos julle miskien sou dink met my stoflap en besem, of my koekroller en panne, of selfs met my stapels boeke en penne en rekenaar nie. Ek was besig met my gunsteling penne, my hekelpenne! Ek het 'n hele tuin gehekel, sommer net omdat ek beter is met wol blomme as met regte blomme, en my siel het 'n behoefte gehad aan iets fleurigs. 




 

  Hierdie klein ou blommetjies is so vinnig, jy kan 'n hele bedding vol maak terwyl jy 7de laan se kyk.




Hierdie groei teen iets wat ek binnekort sal onthul.


En geen blomtuin is volledig sonder 'n voëltjie nie! Dié outjie het hartjie vlerkies, maar my kamera vaardighede laat veel te wense oor. 

Net voordat julle dink ek speel net, hier is iets deusaam ook. Ek het hierdie vervelige bruinerige ou t-hemp, wat perfek by een van my gunsteling rompe pas:


Sien, totaal oninspirerend. En die hals is heeltemal te laag. My skugter boesem moet wegkruip vir al wat dit werd is as ek dit aan het. Toe bedink ek 'n plan. 


 

Dis sommer vinnig om die kragie te hekel, en ek het 'n ou knoop met die selfde gare toegehekel. Nou moet ek dit nog net vaswerk, dan het ek 'n nuwe uitrusting.
  

So gesê, so gedoen. Ek sal binnekort die kat uit die sak laat oor sommige van die boonste blomme.

06 Apr. 2012

Sommer 'n lysie


Ek het gistraand laat gou 'n lysie gemaak van al die dingetjies wat daagliks in die kombuis gedoen moet word sodat daar nie dispute in ons huis onstaan nie. Almal se huisreëls en roetines is natuurlik uniek, maar ek deel graag ons sin, as iemand dalk hande in die hare nie weet waar om te begin nie.



Hier is vroeëre medewerkers in my kombuis.

Die enetjie met die lang poniestert en 'a woman's work is never done' uitdrukking het nou haar eie kombuis, en die engeltje met die goue krulle is nou my (karig) betaalde kombuis-assistent. Hy is welliswaar nie meer so entoesiasties soos op die foto nie, maar studente is arm en geld is geld:)

En hier is die beloofde lysie:


Kombuisroetine

1.    Maak klein wasbakkie vol warm water.

2.    Ruim werksoppervlakte een op ‘n keer op
     - vuil skottelgoed by skottlegoedwasser
-         bêre los goed

3.    Pak skottelgoedwasser, sit aan as dit vol is.

4.    Maak oppervlakte skoon en droog.

5.    Neem skille-emmertjie uit- spoel uit indien nodig (Ons het 'n kompos-hoop)

6.    Was oorblywende skottelgoed.

7.    Droog skottelgoed af en pak weg.

8.    Pak skottelgoedwasser uit as dit klaar is.

9.    Vee kombuisvloer.

10.           Neem asdromsak uit as dit vol is.

11.           Maak wasbakke en krane skoon en droog.

12.           Hang vuil vadoeke buite om droog te word, en haal skones uit.

24 Mrt. 2012

Uit my wolmandjie


Ek het maande gelede al 'n dogtertjie 'n kat belowe. Sy is uiteindelik klaar. Ek kon nie 'n patroon vind wat my geval nie, en het toe maar geimproviseer.  Ek moet nou net naastenby neerskryf wat ek gedoen het, want ek sal sekerlik weer so een aandurf.  Daar is meer foto's van die plesierigheid hier, op my ander blog.

20 Mrt. 2012

Eendag op 'n reendag


 Laasweek het die Liewe Heer dit goedgedink  om vir my 'n afdag te gee. Donderdag is mos wasdag hier by my, en toe reën dit! Ek het 'n tuimeldroeër ('n oue; het hom gekoop net voor my noointjieskind se geboorte) maar ek gebruik dit net wanneer dit nie anders kan nie. 'n Goeie vriendin het onlangs 'n ouma geword, toe trek ek my wolmandjie nader, en hekel en hekel en brei, die hele Donderdagmiddag om, en sommer Vrydagoggend ook.



 Hierdie foto's is nie vreeslik mooi nie, dis met my selfoon-kamera geneem, maar julle kan darem 'n idee kry. Die mussies lyk baie klein, maar dis vir 'n slinternuwe babatjie.



 'n Ligpienke met 'n strik

 'n Liggroene met 'n gelukkige geel blom en 'n oorgtrekte knoop;

En een in kuikentjie-geel met 'n yslike blom.


Die model vir hierdie foto's is Amy, my pragtige porselein baba-pop. Ja, ek is 'n ou poplap wat nog popspeel, en ek is nie skaam om dit te noem nie. 

Dit was 'n absolute plesier om hierdie mussies te knutsel, en ek is baie bly ek het nog baie dogtertjies in my lewe van alle ouderdomme, sodat ek nog 'n paar kan maak.

09 Mrt. 2012

5 Dinge

1) Ek kan lekkerder kos maak as die meeste restaurante. Ja ek weet dis nie vreeslik beskeie om dit te noem nie, maar hierdie is 'n eerlike blog, en feite is feite.


(hierdie is gort risotto met geroosterde groente, pampoensaad en feta.)

Maar ek hou nog steeds daarvan om te gaan uiteet, want
a) dan hoef ek nie agterna op te ruim nie en
b) my man moet bly sit terwyl ons wag vir ons kos, want hy kan nie by Mimmo's of by die Spur gou gaan bossies uittrek, of 'n stuk hout gaan saag nie.

2) Ek sukkel om my aandag by een ding te bepaal. Op enige gegewe tydstip het ek
-  breiwerk, hekelwerk, borduurwerk en masjienwerk. Soms selfs meer as een projek in elke kategorie. 
-  minstens 10 kortverhale in wording, en twee halfgeskryfde boeke.
- 'n hoop boeke in my bedkassie wat ek gelyktydig lees.


 My bedkassie op die oomblik
3)Ek hou van notaboeke, en ek skryf daagliks allerhande dinge neer. Ek het o.a.

-'n Joernaal waarin ek goed skryf wat ek kan lees as ek oud is, of as ek wonder waar is die tyd heen.
-'n Boekie waarin ek aanhalings neerskryf, en stukkies uit boeke wat vir my treffend is. Ek het al 'n paar volgeskryf.

-'n Dankbaarheidjoernaal waarin ek my seëninge tel.

-'n Notaboek waarin ek enigeiets skryf wat in my kop kom. Soms is dit wroeginge, soms net onsamehangende gedagtes, sommer enige-iets wat in my kop kom. Dis soort van terapie. Ek het al 'n hele bondel daarvan. Dis saam vasgebind met 'n nota daarop wat se moenie lees nie, verbrand. En ek weet enige-iemand wat dit waag om dit te lees sal nooit weer dieselfde wees nie.

-'n Boekie waarin ek my vreemde drome neerskryf, maar ek doen dit nie so gereeld nie. Toe ek klein was het my oupa Thys elke liewe oggend vir my gevra wat het ek gedroom. Dan vertel hy vir my wat het hy gedroom, ook.
My drome is, wel,  plain weird. Dis beter om dit neer te skryf as om ander mense daarmee te verveel. Die enigste persone wie ek ken wat lyk of hulle dit wil hoor, is pasella sus Stephanie, en my sussie, Doortjie! My man en dogter verduur dit gelate.  My seun rol sy oë en sê 'Ag vader tog' en verklaar my dan, (kenner op die gebied van die menslike psige wat hy is), as ek klaar vertel het, as 'severely disturbed'.  

-'n Lysieboek waarin ek goed opskryf wat ek moet doen.

-'n Luukse boekie vir gedigte wat vir my mooi is.

En ek dink ek kort 'n boekie waarin ek kan opskryf waarvoor al die boekies is (grappie).


 My skryfboeke

 4) Al die grimering wat besit pas in die een laai. (My liewe vriendin Elsie was erg verbaas hieroor, en toe ek ander daaroor uitvra, het ek besef ek is redelik uniek wat dit aanbetref. Ek vermoed my sus se mooimaakgoed wat sy in haar handsak met haar saamdra, sal nie eers daarin pas nie.)


 My grimering

5) Soms gaan daar weke om wat hierdie poplap nie naby 'n stoflap kom nie. Want ek raak maklik hierin verlore:






Watter 5 dinge oor jouself wil jy met my deel? Toe, ons is almal vriende hier- vertel maar!