Pa
Deur die ou alkohol-walms
verby die reuk van te veel sigarette
beur Old Spice
en vars grond
jy op jou ouboet se bitter erfgrond
jy wat genadebrood eet
maar uitdeel,
bly uitdeel wat jy kan
en anderkant wanhoop
duskant moedverloor
groei jy geil wortels
en texas grano
en patats (wat jy nog saamgebring het uit die stad)
tussen al die vergeet van name
en plekke
en mense wat jy eens geken het
onthou jy al die woorde
van Four Walls
en al die akoorde
van eergister se liedjies
wat draai in jou gedagtes.
My pa het ten spyte van sy eie sabotasie 70 gehaal. Hy het 'n paar jaar terug ophou drink, maar gebruik van tyd tot tyd nog te veel pille en hy rook soos 'n skoorsteen. Sy humorsin het ge heel en al behoue gebly, en hy werk nog soos 'n esel. Ek hoop net die windpompie wat hy nou al twee jaar lank vir my maak is voor hom klaar!
Waar ek my knutselry en mymerings met die wye wêreld deel. Sharing my musings and makings.
06 Mei 2012
21 Apr. 2012
Die aap uit die mou
Ek het verlede week belowe ek sal wys waat 'n klomp van my hekelblomme groei. Dit groei hier:
rondom 'n gehekekelde sak
Voor
agter
Dit het bobbels (ek weet nie of daar so 'n woord in Afrikaans bestaan nie) aan die punte van die toetrek toutjie,
en 'n vrolike voering,
sodat klein goedjies nie uitglip nie.

Die handsakkie het 'n geheklede bandjie:

en 'n hartjie-knopie wat dit toehou:

Die voëltjie
en die blommetjie
kan afhaal, sodat Lisa dit op 'n truitjie of hoedjie of so-iets ook kan sit. Dis met sulke klein plastiek speldjies vas:
Die speldjies is eintlik steek-merkers maar hulle werk uitstekend vir goedjies op kinders se truitjies of mussies ens. want hulle is onder andere nie skerp nie en hulle maak stewig toe.
Dis dan my storie van vandag. Ek is besig met 'n knippery en 'n stikkery en 'n breiery (my stoflap lê verlate in 'n laai en my besem sug in die besemkas) maar daarvan vertel ek julle volgende week.
14 Apr. 2012
Ek was besig besig besig
♩ ♪ ♫ ♬ ek was vreeslik, vreeslik besig, ek was besig besig besig om te werk♩ ♪ ♫ ♬...
Onthou julle nog die liedjie oor die mier wat ons gesing het toe ons klein was? Ek was só bedrywing, maar nie soos julle miskien sou dink met my stoflap en besem, of my koekroller en panne, of selfs met my stapels boeke en penne en rekenaar nie. Ek was besig met my gunsteling penne, my hekelpenne! Ek het 'n hele tuin gehekel, sommer net omdat ek beter is met wol blomme as met regte blomme, en my siel het 'n behoefte gehad aan iets fleurigs.
Onthou julle nog die liedjie oor die mier wat ons gesing het toe ons klein was? Ek was só bedrywing, maar nie soos julle miskien sou dink met my stoflap en besem, of my koekroller en panne, of selfs met my stapels boeke en penne en rekenaar nie. Ek was besig met my gunsteling penne, my hekelpenne! Ek het 'n hele tuin gehekel, sommer net omdat ek beter is met wol blomme as met regte blomme, en my siel het 'n behoefte gehad aan iets fleurigs.
Hierdie klein ou blommetjies is so vinnig, jy kan 'n hele bedding vol maak terwyl jy 7de laan se kyk.
Hierdie groei teen iets wat ek binnekort sal onthul.
En geen blomtuin is volledig sonder 'n voëltjie nie! Dié outjie het hartjie vlerkies, maar my kamera vaardighede laat veel te wense oor.
Net voordat julle dink ek speel net, hier is iets deusaam ook. Ek het hierdie vervelige bruinerige ou t-hemp, wat perfek by een van my gunsteling rompe pas:
Sien, totaal oninspirerend. En die hals is heeltemal te laag. My skugter boesem moet wegkruip vir al wat dit werd is as ek dit aan het. Toe bedink ek 'n plan.
Dis sommer vinnig om die kragie te hekel, en ek het 'n ou knoop met die selfde gare toegehekel. Nou moet ek dit nog net vaswerk, dan het ek 'n nuwe uitrusting.
So gesê, so gedoen. Ek sal binnekort die kat uit die sak laat oor sommige van die boonste blomme.
06 Apr. 2012
Sommer 'n lysie
Ek het gistraand laat gou 'n lysie gemaak van al die dingetjies wat daagliks in die kombuis gedoen moet word sodat daar nie dispute in ons huis onstaan nie. Almal se huisreëls en roetines is natuurlik uniek, maar ek deel graag ons sin, as iemand dalk hande in die hare nie weet waar om te begin nie.
Die enetjie met die lang poniestert en 'a woman's work is never done' uitdrukking het nou haar eie kombuis, en die engeltje met die goue krulle is nou my (karig) betaalde kombuis-assistent. Hy is welliswaar nie meer so entoesiasties soos op die foto nie, maar studente is arm en geld is geld:)
En hier is die beloofde lysie:
Hier is vroeëre medewerkers in my kombuis.
En hier is die beloofde lysie:
Kombuisroetine
1.
Maak klein wasbakkie
vol warm water.
2. Ruim werksoppervlakte een op ‘n keer op
- vuil skottelgoed by skottlegoedwasser
-
bêre los goed
3. Pak skottelgoedwasser, sit aan as dit vol is.
4. Maak oppervlakte skoon en droog.
5. Neem skille-emmertjie uit- spoel uit indien nodig (Ons het 'n kompos-hoop)
6. Was
oorblywende skottelgoed.
7. Droog skottelgoed af en pak weg.
8. Pak skottelgoedwasser uit as dit klaar is.
9. Vee kombuisvloer.
10.
Neem asdromsak
uit as dit vol is.
11.
Maak wasbakke
en krane skoon en droog.
12.
Hang vuil vadoeke buite om droog te word, en haal skones
uit.
24 Mrt. 2012
Uit my wolmandjie
Ek het maande gelede al 'n dogtertjie 'n kat belowe. Sy is uiteindelik klaar. Ek kon nie 'n patroon vind wat my geval nie, en het toe maar geimproviseer. Ek moet nou net naastenby neerskryf wat ek gedoen het, want ek sal sekerlik weer so een aandurf. Daar is meer foto's van die plesierigheid hier, op my ander blog.
Teken in op:
Plasings (Atom)
















