14 Sep. 2015

Rome

“Yes, I have finally arrived to this Capital of the World! I now see all the dreams of my youth coming to life… Only in Rome is it possible to understand Rome.” Johann Wolfgang von Goethe , Duitse skywer 1749-1832)


Dis 'n grys, klam dag in Rome. Die koeler weer is welkom, want tot nou toe was dit regtig warm. Nie die droë hitte van daar waar ek vandaan kom nie, daardie hitte wat alles verskroei nie, maar 'n digte, vogtige hitte, soos hoogsomer in Durban. Die humiditeit is dikwels 97% . Die hoogte bo seespieël hier wissel van 13 meter by die Pantheon, en 139 m by die piek van Monte Mario. Ek het gesukkel om gewoond te raak aan die hitte, siende dat ek 'n boorling is van Vryburg digby die Kalahari, en het grootgeword  in die dorre Wes Transvaal, op Schweizer- Reneke. Waar ons nou in Centurion woon, is die weer lieflik, en die vog in die lug (meestal) net reg. Maar ek dwaal af. Julle het nie 'n weerverslag kom lees nie.

Ek is geen Goethe nie, maar ek verstaan presies wat hy bedoel. Ek sal alles wat ek sien, en ervaar  met julle probeer deel. Ek is ver van my woordeboeke af en 'n bietjie lui, so ek gaan die Italiaanse name gebruik. As jy die regte vertaling het, en dit wil deel, laat gerus vir my 'n boodskap. Ek leer graag.

Ons het die 29ste Augustus hier geland, op 'n Saterdag, betyds om die stert van die Somer te vang. Die Sondag een van die oopbustoere gedoen, sodat ek 'n oorsig kon kry van die stad.
Later, na die busrit, het ons so 'n bietjie rondegloop. My Brombeer werk al vir 'n rukkie hier, so hy is 'n ware aanwins as toergids.

Piazza del Popolo



Hierdie is Piazza del Popolo, die plein van die mense. Voor spoorvervoer bestaan het sou dit  reisigers se eerste blik op Rome wees, en dit was ook waar  openbare teregstellings gedoen is.

Basilica Santa Maria del Popolo


 

Die  Basilica of Santa Maria del Popolo is aan die noordelike kant van die plein, en 'n indrukwekkende versameling kunswerke van o.a. Raphael, Bernini, en Carravagio kan hier besigtig word.Die kerk is hier gebou in 1099, vergroot in 1235, en verander tussen 1472 en 1477, en dei fasade soos dit nou lyk is gebou tussen 1655 en 1660.

Maar dis vervelige feite. Hier is foto's. Onthou ek  plaas wat vir my spesifiek mooi is, nie wat noodwendig histories belangrik is of van besondere waarde is nie:







 dan een van die drie Carravagios's wat hier hang:

 
En kyk na die loodglas venster bokant die skildery!

Tweelingkerke

 
Die tweelingkerke, Santa Maria dei Miracoli, gebou in 1681 en Santa Maria in Montesanto, gebou in 1679, is ook op hierdie plein.



'n Obelisk 

 
In die middel van die plein staan een van die alomteenwoordige obeliske, die een die tweede hoogste in Rome. Ek kon nie 'n mooi foto daarvan kry nie, want hulle is besig met restourasie. Hierdie een is die eerste een wat Rome toe gebring is uit Egipte, 10 BC, deur Keiser Augustus oor wie ek julle later nog meer sal vertel.

En, uiteindelik, Gelato


Ek het nie 'n foto van my eerste Gelato nie, maar die plesier daarvan is nog duidelik in my geheue. Pistachio was dit, en dis alles wat almal wat al in Italië was, my belowe het.

Wat is die verskil tussen Gelato en roomys, vra jy my? Gelato is immers die Italiaanse woord vir roomys. Moenie jou laat flous nie. Gelato is nie roomys nie. Dis 'n gevriesde heerlikheid, ja, maar roomys soos ons dit ken, beslis nie. Ek gaan nie die verskille hier bespreek nie, maar jy kan self hier  gaan lees.
'n Mens moet mooi kies voordat jy 'n gelateri kies, maar ek het gelukkig obsessief daaroor gelees, en ek het geweet waarna om te soek:

1) Gelato in velkvryestaalbakke wat met deksels toegemaak word. Nie die indrukwekkende gekleurde wolke wat hoog gestapel staan nie. Die rede is eenvoudig: In hierdie hitte sal daardie berge roomys smelt as dit nie vol verdikkingsmiddels en lug is nie.  Die ware jakob is in toe, verkoelde bakke.
2) Kleur. Natuurlik. Helder blou is nie natuurlik nie. Nooit nie. Pistachio neute is vaalgroen, nie helder paddagroen nie. En piesangs is nie helder geel nie. Tensy as hulle die Gelato van die piesangskil maak, in welke geval jy dalk tweemaal moet dink.
 
As jy hierdie riglyne volg wag daar vir jou 'n heerlike flirtasie. Persoonlik hou ek die meeste van die klapper. Dit kos tussen 2 en 3 €, en ek dink dis elke € werd.

 Maar selfs minder goeie Gelato is lekker in Italië, het ek my laat vertel.


Ek sal more verder vertel. Groete van huis tot huis!

19 Jun. 2015

Koek!

My liefste moeder het die negende Junie sewentig geword. Ek en my sussie het besluit om ir haar 'n ete te gee. Sy sal nooit so  iets ir haarself doen nie. Altyd bereid om ander te help, altyd selfopofferend, toegewyd, maar sy skuif haar eie behoeftes altyd op die agterplaat. So, ek en my sus het in 'n spanpoging gesorg vir die gepaste viering van hierdie mylpaal in ons moeder se lewe. Dis die minste wat ons kon doen.
Wat ek eintlik wil wys is die koek. Ek het maande terug op Facebook 'n breiwerkkoek gesien, en geweet: dis die een vir my altyd breiende ma. Het ure spandeer om resepte te soek, en planne te beraam vir versiering.
Voordat julle dink dit was 'n heldedaad van my kant af, dit was 'n louter vreugde. Ek het vroeër jare graag gebak, maar my noointjieskind het gou baie vaardiger as ek geraak, en ons huis se bakkery oorgeneem. Die dogtertjie wat op haar stoeltjie alles wat ek in die kombuis doen dopgehou het, kon meng en klits en roer (en mors) lank voordat sy skooltoe is. Ek weet nie hoe oud sy was toe sy haar eerste koek alleen gebak het nie, maar sy was skaars in die skool. Ek het opsy gestaan dat sy kan verbykom. Sy het haar eie troukoek gebak, 'n troukoek vir vriende, en meer verjaardagkoeke as wat ek kan tel. Gaan kyk hier an haar besondere troukoek.  Maar haar ouma se koek het ek vir myself toegeëien. Anzelle was aan die ander kant van die telefoonlyn om geduldig raad te gee, want ek is verroes, en nie naastenby op hoogte van die ongelooflike moontlikhede nie. Dis wat ek uitgerig het:

 

Ek het twee koeke gebak- 'n Duitse sjokoladekoek, en 'n wit fluweelkoek. Die sjokoladekoek het 'n vulsel gehad van geroosterde klapper en neute, en die wit koek 'n vulsel van mascarpone en wit klapper. So baie klapper want my liefste moeder is mal oor daardie malvalekkers met die klapper om. Ek het die koeke gebak en gevries, en die vulsels voor die tyd gemaak, asook die allerlieflikste bedekking van Switserse botteroom.
Die versierings was die grootste pret. Dis soos om klei te speel. Ek was nie dapper genoeg om my fondant self te maak nie, dié het ek liewer by die bakwinkel klaar gekoop. Ons het laas Vrydag al die koekgoed, die gevriesde pot goulash en bottels komkommerslaai in die kar gelaai en die pad gevat plaastoe na daar waar ek vandaan kom. Going back west. Saterdag het ek my ma uit die eetkamer verban, en die koek aanmekaar gesit. Ek het die twee koek afsonderlik versier, en dit met 'n laag waspapier tussenin opmekaar gestapel, en versier en versier en versier.



 Bolletjies wol. Lekker wol.

 'n Stuk breiwerk oor die kant drapeer. Het ongelukkig nie 'n nabyskoot daarvan gerky nie.


 En baie knopies.

Met die sny van die koek het ek eenvoudig die groter versierings afgehaal (waarvan drie en negentigjarige ouma Susie saamgeneem het ouetehuis toe) en die koeke van mekaar af gehaal. Die waspapier het 'n bietjie klam geword en hier en daar vasgesit, maar dit maak nie saak nie. Die koekpolisie was gelukkig nie daar nie.


Ma was tevrede.

Ook goed ek het voluit gegaan. Toe ek vra oor ander spesiale koeke, was daar vir my ma net twee- vir haar een en twintigste verjaardag, en vir haar troue. Dit was ander tye waarin sy grootgeword het. Maar dis nooit te laat nie.

Groete van huis tot huis!

10 Jun. 2015

Hallo!

Ek het jou omtrent lanklaas gesien. Geen verskonings nie- my tweede boek is al lankal klaar en verskyn eersdaags op die rakke. Dis 'n opvolg op Gelyke Kans. So lyk sy:



Vir 'n paar maande was ek weer net 'n poplap met 'n stoflap (en soos altyd, 'n hekelpen) maar ek het verlede week 'n nuwe boek begin skryf. Heerlik, so in die sonnetjie. Ek is op die oomblik weer my weeklikse huishulp kwyt, en dis verstommend hoeveel tyd  klein goedjies opvreet. Stadig maar seker kom ek darem weer in 'n roetine, en ek is van plan om in die toekoms  meer hier met jou te kom kuier.

Wat in die maande tussenin gebeur het:

My brombeer was weg, terug, weg, terug. Jy weet hoe dit met sy werk gaan. Volgende week gaan hy weer vir 'n maand of so weg. My gekerm dat hy minstens winters hier moet wees sodat ek agter sy wye beerrug kan slaap, het op dowe ore geval. Maar ek kla nie te hard nie. Sy werk sit brood op die tafel, en te danke daaraan kan ek my passies uitleef.
Ons het nuwe kaste in ons aantrekkamer laat insit. Dit was 'n taak van epidermiese proporsies om twintig jaar se opgaargoed uit ons ou kaste te kry, om nie eens te praat van binnedring van my spasie en die verskriklike stof nie. Maar dis nou gedoen, en dit lyk pragtig. Ek sal 'n foto wys sodra die mure geverf is.
Uiteindelik het ons ook ons klein badkamer laat oordoen, wat 'n nog groter gedoente as die kaste  was. Maar dit was ook die stof en graas werd. Ons moet nog 'n blinder vir die venster paat maak, en 'n rak of twee opsit, dan wys ek vir jou hoe dit lyk.
Verder het ek geknutsel en gelees en so bietjie geskryf.

Hier is 'n paar knutselgoed uit my wolmandjie. Natuurlik het ek nie alles afgeneem nie, dit kry soms huise voordat ek daaraan dink.  Ek plaas nie vandag die skakels nie, maar laat weet my as jy na een van die patrone op soek is, dan soek ek dit.







Die diertjies is na kindertjies by 'n plek van veiligheid. 


 Drupmatjies. Ek weet nie hoeveel ek al hiervan gehekel het nie.




My pa se eetstoeltjie het 'n nuwe kabelkussing gekry (hierdie een het nie 'n patroon nie),




 die langbeenstoeltjie het 'n sitplekoortreksel gekry (ook uit my kop uit gehekel),


en ek het 'n nuwe rusplek vir my voete gehekel (geen patroon).




 'n Vriendin se gastetoilet se gordyntjie. Ek het dit van 'n prentjie afgehekel, so daar is ongelukkig nie 'n patroon nie.


My nuutste projek in wording.

Dis dan my storie vir vandag. Groete van huis tot huis!



06 Feb. 2015

'n Boek of twee

Ek was baie lanklaas hier, ek weet, ek weet.

Presies 'n jaar gelede het ek 'n kans gewaag en 'n manuskrip gepos. Dit is goed deur Lapa ontvang, en een boek het twee geword.

So 'n skrywery behels: dink 'n storie uit, sit agterstewe op stoel neer, skryf elke dag 'n stuk totdat die storie klaar is en jy genoeg woorde het. Lees, verander, lees, verander, totdat jy tevrede is. Stuur weg. Wag. As die manuskrip aanvaar word, skryf oor- maak veranderinge en verbeteringe. Lees. Verbeter. Lees. Totdat jy tevrede is, of jou sperdatum aanbreek. Stuur weer weg. Wag. Maak nog veranderinge en verbeteringe. Herhaal die proses totdat die uitgewer tevrede is. Wag. Lees die bladproewe. So ja. Fluit fluit, hierdie storie is uit.


Die eerste een verskyn Maart op die rakke. Dis 'n ou storie.

Die (fourtysomething) heldin kom agter haar man het 'n dwalende oog, en voete van klei. Sy is verneder en gebroke, en vlug na haar strandhuis (sy het baie probleme maar gewig en geld is nie deel daarvan nie, gelukkige sy). Daar ontmoet sy 'n ou liefde, en vind troos. Maar teruggekom by die huis wil haar man haar terughê. Hy het nie veel ander foute nie, en sy het hom nog lief. Maar het sy hom nog lief genoeg om hom alles te vergewe? Dis kortweg waaroor die storie gaan. Jy gaan nie jou naels daaroor opkou nie, maar jy sal jou moontlik kan vereenselwig met Jessica wat 'n gewone vrou en ma soos ek en jy is, en gewone dinge doen soos ons.

Sou jy jou man in so situasie kon vergewe? Of het jy? As jy jou storie met my wil deel, doen dit gerus. Gebruik die e-pos onder aan as jy dit privaat wil hou.

Die tweede boek is 'n opvolg, pas klaar, en ek wag vir die bladproewe.

Ek het darem nie vir maande aaneen net geskryf nie. Ek wys julle volgende week wat ek alles geknutsel het.



Groete van huis tot huis.