22 Sep. 2015

'n Dag in Toskane

Ek val sommer met die deur in die huis. Dis hoe die Toskaanse platteland lyk:



Montepulciano


Ons het eerste aangedoen by Montepulciano, 'n heuweldorp, nie te ver van Siena af nie.



Dis 'n prentjiedorpie wat uit die Middeleeue dateer, deurspek met Renaissance paleise, stokou kerke, sjarmante pleine, kronkelstraatjies en versteekte hoekies.

 

Dis hoog genoeg om 'n wonderlike panoramiese uitsig op die vallei daaronder te hê.



Die dorp is 'n gewilde toeriste bestemming vol interessante kaas, delikatesse, en kunswinkeltjies, en natuurlik die alomteenwoordige leerwinkels.




Stukke Romeinse en Etruskiese kuns ingemessel in die buitemure van die Bocelli Paleis.


 O, en hier is 'n foto van my en my beer met die vallei agter ons, sodat julle kan sien hierdie is nie een van my wilde verbeeldingsvlugte nie.



Sant'Antimo Klooster

Vanaf Montepulciano is ons na 'n klooster, Sant’Antimo, waar ons betyds was om Gregoriaanse kerksang van vier monnike te hoor in 'n baie onopgesmukte kerk vol vrede.






Wingerde van Montalcino

Ons het middagete by 'n wyn en olyf-landgoed geëet, waar ons verskeie wyne kon proe, saam met eg Toskaanse geregte.







Pienza

Hiervandaan is ons na Pienza. Pous Pius die Tweede is hier gebore, en die Pienza beteken die Stad van Pius. Toe Pius as Pous verkies is in 1458 het hy 'n versugting gehad om sy geboortedorp in 'n Utopia te verander, in 'n gemeenskap wat in harmonie en vrede kan saamleef. Hiervoor het hy argitek Bernardo Rossellino in diens geneem. Die konstruksie van die dorp, bo-op die antieke dorpie waar Pius gebore is,  het in 1459 begin, en het vier jaar geneem om te voltooi. Na die ontydige dood van Pous Pius het die dorp grotendeels onveranderd gebly.



 


In die nou klipstrate sit winkel-eienaars op stoeltjies wat maar vir my ongemaklik lyk voor hulle winkels en kuier met hulle bure.

 

Prentjie -mense in prentjiestrate tussen potte blomme teen ou ou geboue wat ek nooit kan vergeet nie.



 

Dit voel asof daar 'n stukkie van my in elke dorpie agterbly. Dis miskien waar, maar  wat my soveel ryker maak, is dat ek 'n stukkie van elke plek met my saamneem.

Tot volgende keer. Groete van huis tot huis.

15 Sep. 2015

Engelse tee in Rome

Die Spaanse trappe is natuurlik op die lys van plekke om in Rome te sien. My beer het gepoog om my soontoe te neem, maar sonder sukses. Ek het viervoet vasgesteek toe ek die massas mense op die trappe gewaar. 'n Ander dag, het ek myself belowe, en geflikflooi om by die lieflike teekamer reg langs die trappe te gaan tee drink.



 Ons kon 'n maaltyd by 'n ander plek eet vir die prys van die tee en die kolwyntjie. Babingtons is baie oud, en baie baie duur. Maar voordat jy my oordeel, wil ek net sê: 'n silwer teepot met 'n katjie op die deksel.



Dis al. Nee, ek wil ook noem dat die teelepel versier is met 'n katjie. Die silwer teelepel. En die koppies is fyn en liggroen. I rest my case. Nee, wag. Ek het nie nodig om myself te verdedig omdat ek Italië swymel oor 'n Engelse teekamer nie. Dis my blog die. En ek hou van tee.



Die storie agter die storie is dat twee Engelse susters in 1893 Rome besoek het, en tee was net by apteke beskikbaar. Net by apteke! Asof dit medisyne is ... Toe maak hulle maar 'n tee-en leeskamer oop. Die lieflike plek het die twee wêreldoorloë oorleef, en die res is, soos hulle sê, is geskiedenis. Hierdie is ongelukkig die enigste foto's, maar ek sal teruggaan soontoe, spesiaal om vir julle nog foto's te neem.
Die kelnerinne dra syskouse, netjiese skoene, bloese en rompe, en hulle hare is ewe netjies in bollas. Baie prim en proper, totdat die hoofdame haar rug draai, dan giggel hulle soos bakvissies oral oor die wêreld, en praat oor kêrels. Dink ek, want ek verstaan nie Italiaans nie.
Hier is 'n volledige artikel, met baie mooi foto's.

Villa Borghese Gardens


As julle minder oor tee en meer oor Rome wil sien, stap saam met my deur die tuine van Villa Borghese bo-kant Piazza del Popola.  Ek gaan net foto's wys. Gaan lees gerus meer oor die tuine hier. Dis propvol geskiedenis, en ek beoog om die kunsmuseum volgende week te besoek.




Goethe, skrywer en staatsman


Digter, skrywer en dramaturg Pushkin







 









 

Dis dan my storie vir vandag. Rome is nie in een dag gebou nie, nie in een dag besigtig nie, en beslis nie in een dag oor geskryf nie.  Ek was intussen op met die Spaanse trappe, maar een inskrywing op 'n keer. More vertel ek julle van ons dag in Toskane. Groete van huis tot huis!


14 Sep. 2015

Rome

“Yes, I have finally arrived to this Capital of the World! I now see all the dreams of my youth coming to life… Only in Rome is it possible to understand Rome.” Johann Wolfgang von Goethe , Duitse skywer 1749-1832)


Dis 'n grys, klam dag in Rome. Die koeler weer is welkom, want tot nou toe was dit regtig warm. Nie die droë hitte van daar waar ek vandaan kom nie, daardie hitte wat alles verskroei nie, maar 'n digte, vogtige hitte, soos hoogsomer in Durban. Die humiditeit is dikwels 97% . Die hoogte bo seespieël hier wissel van 13 meter by die Pantheon, en 139 m by die piek van Monte Mario. Ek het gesukkel om gewoond te raak aan die hitte, siende dat ek 'n boorling is van Vryburg digby die Kalahari, en het grootgeword  in die dorre Wes Transvaal, op Schweizer- Reneke. Waar ons nou in Centurion woon, is die weer lieflik, en die vog in die lug (meestal) net reg. Maar ek dwaal af. Julle het nie 'n weerverslag kom lees nie.

Ek is geen Goethe nie, maar ek verstaan presies wat hy bedoel. Ek sal alles wat ek sien, en ervaar  met julle probeer deel. Ek is ver van my woordeboeke af en 'n bietjie lui, so ek gaan die Italiaanse name gebruik. As jy die regte vertaling het, en dit wil deel, laat gerus vir my 'n boodskap. Ek leer graag.

Ons het die 29ste Augustus hier geland, op 'n Saterdag, betyds om die stert van die Somer te vang. Die Sondag een van die oopbustoere gedoen, sodat ek 'n oorsig kon kry van die stad.
Later, na die busrit, het ons so 'n bietjie rondegloop. My Brombeer werk al vir 'n rukkie hier, so hy is 'n ware aanwins as toergids.

Piazza del Popolo



Hierdie is Piazza del Popolo, die plein van die mense. Voor spoorvervoer bestaan het sou dit  reisigers se eerste blik op Rome wees, en dit was ook waar  openbare teregstellings gedoen is.

Basilica Santa Maria del Popolo


 

Die  Basilica of Santa Maria del Popolo is aan die noordelike kant van die plein, en 'n indrukwekkende versameling kunswerke van o.a. Raphael, Bernini, en Carravagio kan hier besigtig word.Die kerk is hier gebou in 1099, vergroot in 1235, en verander tussen 1472 en 1477, en dei fasade soos dit nou lyk is gebou tussen 1655 en 1660.

Maar dis vervelige feite. Hier is foto's. Onthou ek  plaas wat vir my spesifiek mooi is, nie wat noodwendig histories belangrik is of van besondere waarde is nie:







 dan een van die drie Carravagios's wat hier hang:

 
En kyk na die loodglas venster bokant die skildery!

Tweelingkerke

 
Die tweelingkerke, Santa Maria dei Miracoli, gebou in 1681 en Santa Maria in Montesanto, gebou in 1679, is ook op hierdie plein.



'n Obelisk 

 
In die middel van die plein staan een van die alomteenwoordige obeliske, die een die tweede hoogste in Rome. Ek kon nie 'n mooi foto daarvan kry nie, want hulle is besig met restourasie. Hierdie een is die eerste een wat Rome toe gebring is uit Egipte, 10 BC, deur Keiser Augustus oor wie ek julle later nog meer sal vertel.

En, uiteindelik, Gelato


Ek het nie 'n foto van my eerste Gelato nie, maar die plesier daarvan is nog duidelik in my geheue. Pistachio was dit, en dis alles wat almal wat al in Italië was, my belowe het.

Wat is die verskil tussen Gelato en roomys, vra jy my? Gelato is immers die Italiaanse woord vir roomys. Moenie jou laat flous nie. Gelato is nie roomys nie. Dis 'n gevriesde heerlikheid, ja, maar roomys soos ons dit ken, beslis nie. Ek gaan nie die verskille hier bespreek nie, maar jy kan self hier  gaan lees.
'n Mens moet mooi kies voordat jy 'n gelateri kies, maar ek het gelukkig obsessief daaroor gelees, en ek het geweet waarna om te soek:

1) Gelato in velkvryestaalbakke wat met deksels toegemaak word. Nie die indrukwekkende gekleurde wolke wat hoog gestapel staan nie. Die rede is eenvoudig: In hierdie hitte sal daardie berge roomys smelt as dit nie vol verdikkingsmiddels en lug is nie.  Die ware jakob is in toe, verkoelde bakke.
2) Kleur. Natuurlik. Helder blou is nie natuurlik nie. Nooit nie. Pistachio neute is vaalgroen, nie helder paddagroen nie. En piesangs is nie helder geel nie. Tensy as hulle die Gelato van die piesangskil maak, in welke geval jy dalk tweemaal moet dink.
 
As jy hierdie riglyne volg wag daar vir jou 'n heerlike flirtasie. Persoonlik hou ek die meeste van die klapper. Dit kos tussen 2 en 3 €, en ek dink dis elke € werd.

 Maar selfs minder goeie Gelato is lekker in Italië, het ek my laat vertel.


Ek sal more verder vertel. Groete van huis tot huis!