21 Nov. 2018

Die stad van liefde wat jou altyd bybly

“If you are lucky enough to have lived in Paris as a young man, then wherever you go for the rest of your life it stays with you, for Paris is a moveable feast.” – Ernest Hemingway het so gesê, en ek kan dit beaam. Nadat ek my hart in Praag verloor het, het ek gedink dis nie moontlik om weer so verlief te raak op 'n stad nie, maar dit is en ek het.

Parys is alles wat ek verwag het, en nog meer, en Hemingway was reg- ek sal haar altyd met my saamdra.

Ons het in 'n op die oog af twyfelagtige woonbuurt in 'n nog meer twyfelagtige hotel tuisgegaan, en my hart was in my skoene. Sunnyside hier in Suid Afrika het by my opgekom. Besig. raserig. verslete. Maar die outdated hotel was silwerskoon, en die bestuurder so hulpvaardig as wat hy kon wees in sy effens gebrekkige Engels. Ek skud nou nog my kop as ek dink aan die komplimentêre ontbyt. Jy sit by 'n tafeltjie in die piepklein eetkamertjie, en hoop ander gaste kom sit nie by jou aan tafel nie. Dan verneem iemand wat jy wil drink, en 'n halfminuut later word jou ontbyt op 'n skinkbord voor jou neergeplak. Ontbyt wat bestaan uit 'n halwe(!) baguette, botter en konfyt. Net so op die skinkbord sonder 'n bordjie. Maar net voordat jy vir my part in jou hande huil, weet jy hoe lank is 'n baguette? En dit was vars gebak, en die gelyke daarvan het ek nog nooit hier geeet nie. En as jy my selfs net 'n bietjie ken, sal jy weet ek is 'n smulpaap, en bak self lekker brood (het ek my laat vertel 😜). En nadat ons aan die persoon wat ons bedien het wat nie 'n woord Engels praat nie, verduidelik kon kry dat ek melk benodig by my tee, was die Kaap Hollands.

(So terloops, anders as in Praag en in Rome, het ek heerlik tee gedrink. Niemand kry so 'n vies trek op die gesig en plons net voor jou 'n teesakkie in warm water nie. Dit kom ordentlik in 'n pot, al moet jy meestal vir melk vra.)

Ons was naby aan 'n metrostasie en 'n paarstoppe ver het ek uit die stasie in die helder sonskyn opgeklim, en sy was daar. Parys. Sy het haar arms om my gevou, en in my oor gefluister dat sy bly is ek is daar. Oral was blomme en musiek en straatkafee's en al die lieflikhede wat ek nog net op foto's gesien het.










As 'n mens net 'n paar dae in parys het, moet jy mooi kies wat om te besoek, en wat bêre jy vir volgende keer. Ons was vroeg aan die gang, voor die mensemassas, so ons kon die imposante Notre Dame rustig besoek.











Daarna het ons op die Seine gevaar. Jy kan enige tyd van die boot afklim enweer opklim, en dis 'n heerlike manier om 'n oorsig van die stad te kry. 



Ons het net by die Eiffel verbygevaar. Ek het altyd gedink dis nogal 'n lelike, onvriendelike struktuur en blykbaar was die Parysenaars ook aanvanklik beïndruk daarmee nie, maar van naby is dit werklik vir my mooi. Wat dink jy?



 Die Louvre bêre ek vir anderdag, want ek weet hoe sulke groot museums 'n hele dag kan insluk, maar ons is darem daar verby.


 My absolute, ononderhandelbare moet-sien was die Sacré-Cœur. Ongelukkig word foto's binne nie toegelaat nie, maar ek het vir my 'n boekie gekoop sodat ek my weer daarin kan verlustig. As ek 'n aanbeveling moet maak, sal 'n besoek aan hierdie kerk beslis bo-aan my lysie wees. Gaan net vroeg. 


Geleë in Montmartre, 'n kunstenaars dorpie,  bo-op 'n heuwel, met die ongelooflikste uitsig oor die hele Parys.





Ek sou ure lank deur die strate van Montmartre kon dwaal.



En in die tuin langs die Sacré-Cœur kon vertoef.




O ja, en hier is 'n foto van die sinkende huis. Dis daar naby die Sacré-Cœur.


En heerlikheid op onverwagte heerlikhede, in Montmartre is 'n straat vol materiaalwinkels. 'n Straat vol. En hulle het vele verdiepings. Daar is darem 'n wolwinkel ook, en ek is met buit vir my en Anzel daar weg.

Ek kan nie help om te wonder of ek dalk meer in die versoeking sou wees om te trek as my beer in parys gewerk het nie. Ek voel net so tuis daar. Al praat ek nie Frans nie. Ek sal leer. Kyk na byvoorbeeld na hierdie tuin in die hartjie van die stad. Ons het vi rons middagete gekoop en daar gaan eet. Dis nei net toeriste wat daar rondhang nie. Mense in netjies werksklere, drawwers, bejaardes, sit in die skadu en vind vrede waar daar vrede te vind is.



Dis 'n betreklike skoon stad, en anders as wat dikwels aan my vertel is, is die Parysenaars glad nie antagonisties of onwillig om te help nie. In die toeriste dele praat almal Engels, en off the beaten track probeer hulle te minste. Soos in die die restaurant waar ek en my beer ons 30ste huwelik ('n paar dae laat) gevier het. Dit was om die hoek van ons eienaardige hotel af, en 'n ongelooflike ervaring. Ons klenerin was Italiaans, het self nog Frans geleer, en het minder Engels gepraat as wat ons Frans gepraat het, maar sy het met  'n yslike glimlag 'n woordeboek gaan haal, en ons het 'n wonderlike ervaring gehad. Die restauranteienaar kon beter Engels praat, en het kom help verduidelik. En ek kan nou met oortuiging sê, die Franse mag maar dink hulle kos is die beste.






En hulle wyn. natuurlik hulle wyn, (met apologie aan die Italianers wat nie terug hoef te staan nie).

O, en kyk hierdie papawer mosaïek op die vloer:


Ons het oral lekker geëet. En behalwe nou vir bogenoemde restaurant wat so effens duurder was,  was die pryse heel billik. Spyskaarte is buite opgeplak, so jy kan kyk of jy dit kan bekostig. Daar is altyd beskostigbare eetplekke as jy net so 'n entjie van die bekende plekke af soek.

Net voordat ek jou na die Arc de triomf neem, kyk weer na 'n foto van die sinkende huis:



Toemaar, dis net 'n optiese illusie. Dis 'n heeltemal regop gebou langs 'n heuweltjie. Dit hang af van hoe jy jou kamera hou. Dit amuseer my geweldig 😄.




So aan na die Arc de triomf. Ek wys net foto's, gaan lees maar self daaroor.

 Dis 'n masiewe strukttuur, en ek het spesiaal daarby gestaan om te wys hoe groot dit is. Kyk hier onder, ek is die rooi spikkel:

 Die detail is ongelooflik.



Nadat ons daar rondgedraal het, het ons oorkant die straat by 'n restaurant sit en koffie drink. Ek kon  nie anders as om Smokie se I'll meet you at midnight te herroep nie, en ek het gekyk of ( 'n baie ouer) Jean- Claude nie steeds by 'n tafeltjie vir Louise-Marie sit en wag nie.

A summer morning on Les Champs Elyses,
The empty table in the street cafe.
The sunlight melting through an open doorway,
Jean-Claude has left to face another day. 

Gaan luister dit, jy weet jy wil. 

Dit was tyd om Parys te groet, met 'n knop in my keel en 'n dankbaar hart. We'll always have Paris, won't we?

Volgende keer maak ons 'n draai in Oberammergau. Groete van huis tot huis.

'n Perfek geleë hertogdom

My seuna het vir ses maande in Luxemburg gewoon en gewerk, net lank genoeg dat ons nog by hom kon gaan kuier voordat hy teruggetrek het hierheen. Ek is bly hy het 'n goeie ervaring gehad daar in die vreemde, maar ek is baie bly hy is terug.

Luxemburg is 'n beeldskone klein landjie, knus tussen België, Duitsland en Frankryk. Die inwonders praat Duits, Frans en Luxemborgies. Ek was net 'n paar dae daar, so ek kan nie veel sê nie, maar ek het die mense hoflik en geduldig gevind, en daar is 'n rustige vreedsaamheid wat my bekoor, maar wat dalk dié wat opwinding soek, sal verveel.

Luxemburgstad 

Die stad is soos die meeste wêreldstede 'n vermenging van nuut en oud. Die ou deel is deurdrenk duer geskiedenis en die geboue is baie kenmerkend- swart dakke en natuurlike kleure, netjies en statig. 
















Vianden

Ons is vir 'n daguitstappie Vianden toe. Die pad wat ons gery het was op 'n paar plekke senutergend- ons het onder andere deur 'n woud gery op 'n smal paadjie met presies genoeg spasie vir een voertuig. Wat 'n mens doen as daar 'n kar uit die ander rigtig kom weet ek nie. Daar is geen plek om pad te gee nie, die bome is aan weerskante is te naby. Maar ons was blykbaar stoksielalleen op daardie pad. En toe kom ons op die juweel af:



Die dorp lê in 'n vallei langs die rivier.





Ons is met kabelstoele (is dit 'n woord? Dis letterlik twee stoele wat aan 'n kabel opkatrol word) op 


 oor die rivier, oor die hoofweg.

 
                                                                          Op op



na die kasteel. 

 

Ek was beangs, en het met bewerige bene bo afgeklim. Maar dit was die benoudheid werd, want die uitsig van bo af is asemrowend. Ons het daar bo iets geëet en is weer af. Dit was minder skrikwekkend. Veral toe 'n vrou met haar groot hond doodluiters by ons verby ry. Nie die vrou of die hond was bang nie. Hulle het dit duidelik al voorheen gedoen.  Ons het nie 'n foto geneem, nie, want nie ek of my beer is dapper genoeg om onnodig oor te leun nie. 



Ek het eers later gelees daar is 'n museum met geskrifte van Victor Hugo (die skrywer van onder andere Les Miserable en The hunchback of Notre Dame). 

En hier is foto's van my en my beer, ons van ons drie met die pragtige dorpie in die agtergrond.




Image may contain: 3 people, including Stefan van der Merwe and Santie van der Merwe, people smiling, eyeglasses, closeup and outdoor


So as jy nog nie daar was nie, weet jy nou hoe lyk die allerlieflike Luxemburg. Van hier af neem ek julle saam na die stad van liefde. Groete van huis tot huis.







 




20 Nov. 2018

Mymering oor 'n reis

Ek is al lankal terug by die huis, en die herinneringe aan my reis vervaag, maar voordat ek volstoom begin met my nuwe boek, wil ek darem die wonderskoonheid van al die plekke deel.

In die drie weke wat ek weg was, het dit herfs geword in Europa, en toe ek terugkom by die huis was die Lente in volle blom. Die beste van twee wêrelde. Maar tog, in my gedagtes het Koos Doep se Najaar in die vreemde bly speel.
 
https://www.youtube.com/watch?v=s2lmjp4RUKM

Ek geniet dit om my grense vir 'n rukkie te skuif, en ek waardeer die geleenthede wat ek kry, maar my hart hunker baie gou weer na my kinders, my huis, my goed, mý wêreld. Ek sal nooit sê nooit nie, maar kanse dat ek ooit sal wíl emigreeg, is baie skraal. Maar terug na die wondere aan die ander kant van die Atlantiese oseaan (dit is mos die Atlantiese oseaan? Help my reg as ek verkeerd is). Ek sal dit in verskillende posts doen sodat julle nie verveeld raak nie:

Frankfurt

Ek begin met Frankfurt, wat vir my so 'n bietjie soos 'n weeskind voel, omdat dit is waar ons dikwels land, maar voordat ons haar 'n kans gee, vertrek ons na 'n volgende bestemming. Langen, waar my brombeer woon, is 'n klipgooi van Frankfurt af, twintig minute per trein (vir nuwe lesers, dis my beterhelfte, en hy is meer dikwels 'n heuningbeer en 'n knuffelbeer, maar die gromdeel het oorgebly uit ons vroeër jare saam, toe hy so ietwat meer grommig was).
Wat my veral beïndruk het, is hoe kompak Frankfurt vir toeriste is. Die meeste besienswaardighede en winkels val binne 'n 2km radius.

 Die hoofstasiegebou



Römer
Die oudste deel van die stadsaal.


Die ou stad






Natuurlik het ek die Goethe huis besoek. Die enkele jaar wat ek op universiteit was,  het ek Duits geneem en ek was verlief op sy gedigte. Watter sentimentele student word nie deur Erlkönig geroer nie? "Er hält im Armen das ächzende kind, erreichtden hof mit Mühe und Not; ine seinem Armen das Kind war tot."
Die huis waarin hy groot geword het en waarna hy dan ook sporadies teruggekeer het, het nie teleurgestel nie. Dis ongelukkig verwoes in die Tweede Wêreldoorlog, maar dit is  gerestoureer en gemeubileer getrou aan hoe dit voorheen was, en is 'n lieflike voorbeeld van hoe wel-af mense in die agtiende eeu geleef het. (Goethe se pa was 'n regsgeleerde en sy ma was die dogter van 'n burgemeester.)  Ek plaas sommer 'n klomp foto's- miskien is jy net so gefassineer deur ander se huise as wat ek is. 








Hier onder is ek in Goethe se ma se sitkamer:




I'll be mother😉. Die sitkamer:






Eetkamer 



 En natuurlik die biblioteek.


 Ek sou baie graag by hierdie lessenaar wou sit terwyl ek my volgende boek skryf. Met pen op papier, natuurlik.


En die hart van die huis, hoewel ek twyfel of die Goethe familie veel tyd daarin spandeer het.





Die ander verrassing wat Frankfurt vir my ingehou het, was die Städel museum. 

 

Baie groot name is daar te sien, en daar is 700 jaar se kunsskatte onder een dak te sien. Ek wil my verstout om te sê dat dit my gunsteling museum tot dusver is. Miskien omdat dit stiller was, en miskien daarom  vir my ruimer gevoel het as bv die Rijkmuseum in Amsterdam, Akedemia en Ufiizi in Floraans, en die Vatikaan, Dis asof ek nie net die kunswerke gesien het nie, maar dit in my diepste wese ervaar het. Die ou meesters is daar, onder andere Rembrandt Vermeer, en Botticelli. Dan ook Manet, Monet, Renoir. Van Gogh, Picasso, Matisse. You get the picture (haha). Dis 'n fantastiese museum, en as jy kuns lief het en jou in Frankfurt bevind, gaan kyk. Ek het net 'n paar foto's om te wys. en afgesien van die Monet, kan ek nie die besonderhede onthou nie, ek was net te oorweldig.




( Ek kan myself skop dat ek nie 'n aantekening gemaak het van die kunstenaar nie (dis nie een wat ek ken nie), maar hierdie is vir my een van die mooistes. Dis 'n man wat rustig sit en lees, en ek sou so graag 'n afdruk daarvan in my huis wou hang. Maar ek sal terug Städel toe as ek weer vir my beer gaan kuier, en weer kyk.)



Claude Monet, The Luncheon



Dis Frankfurt soos ek dit onthou. Ek kan ongelukkig nie die geluide en geure weergee nie. Maar ek kan sê is ek hou van die atmosfeer, en ek hou van die kos.

Volgende keer neem ek jou Luxemburg toe. Groete van huis tot huis!


06 Sep. 2018

Briefie uit 'n vreemde land.

Ek kuier by my wandelende beer in Duitsland. Om weer saans agter sy rug in te kruip is hemels. Die dorpie waar hy woon, Langen, is 'n klipgooi van Frankfurt af. Die woonstelletjie waarin hy bly is byna byna te klein vir twee, maar hy is 'n mak beer en ek is tevrede as ek 'n plek het waar ek kan lees en hekel, so ons kom heel goed klaar. Ons het die lieflikste uitsig, en elke kwartier lui die kerkklok.



Laasnag toe ek opstaan om 'n draai te loop, hang die sekelmaan so reg in ons venster, asof sy spesiaal vir my geraam is. Ek het gedink ek gaan haar nooit hier sien nie, met die bewolkte weer en die gebou en bome en so.

Hier onder in die straat is 'n supermark, bakkerye, wegneemeteplekke, restaurante en alles wat ons nodig het, en in die straat af die allerlieflikste wolwinkel, Die Wolstation, dus alles wat ek self nodig het. Die ou deel van die dorpie is 'n prentjie, en oral tuimel blomme uit potte. Ek sal nog meer foto's neem, maar hier is solank 'n paar.





Volgende keer deel ek foto's van Frankfurt. Groete van huis tot huis.