06 Mei 2012

Vir my pa op sy sewentigste verjaardag

Pa


Deur die ou alkohol-walms
verby die reuk van te veel sigarette
beur Old Spice
en vars grond


jy op jou ouboet se bitter erfgrond
jy wat genadebrood eet
maar uitdeel,
bly uitdeel wat jy kan


en anderkant wanhoop
duskant moedverloor
groei jy geil wortels
en texas grano
en patats (wat jy nog saamgebring het uit die stad)


tussen al die vergeet van name
en plekke 
en mense wat jy eens geken het
onthou jy al die woorde
van Four Walls
en al die akoorde
van eergister se liedjies
wat draai in jou gedagtes.




My pa het ten spyte van sy eie sabotasie 70 gehaal. Hy het 'n paar jaar terug ophou drink, maar gebruik van tyd tot tyd nog te veel pille en hy rook soos 'n skoorsteen. Sy humorsin het ge heel en al behoue gebly, en hy werk nog soos 'n esel. Ek hoop net die windpompie wat hy  nou al twee jaar lank vir my maak is voor hom klaar!

Geen opmerkings nie: