16 Jan 2013

Ou dinge in 'n nuwe jaar


Julle het seker gedink ek het die stoflap ingegooi, op my besem geklim en gegaan. Ek het so lanklaas iets geskryf! Die laaste paar maande van 2012 was vir my so 'n effense beproewing, want sien, ek het my lang toon gebreek nadat ek in die donker in die kis by die voetenend van ons bed vasgeloop het.


Sien, die een. So 'n geelhout kis van Brombeer se voorgeslagte af.

Ek het dadelik geweet dis nie sommer 'n ou stampie nie. My tone het somer so skuins gestaan, weg van die groottoon af. Die x-strale het dit bevestig. Die toon is mors af, nie net gekraak nie. Dit het te naar gelyk. Kyk hier.  (Net nie op jou nugter maag nie.)
 
 


 Dit was BAIE seer. Dit was blou tot op my voetsool. Kompleet gelyk asof ek in moerbeie getrap het. Die foto's is eers 'n week of twee later geneem.  Kan niks daaraan doen nie, net vasdraai aan die toon langsaan, en so min moontlik gewig daarop sit. Soos julle almal teen die tyd seker vermoed, hierdie poplap is nie baie lig nie nie, en sit nie graag stil nie.
Ses weke het die dokter wat toe op diens was, gesê. Agt weke later gaan huil ek toe by my eie dokter. Ek is het 'n pyn in die toon! Nog steeds! Dis al twee maande! Sy laat neem weer x-stale- dit heg, maar stadig. Geduld, sê sy, is wat ek moet hê, en gee simpatiek vir my nog 'n paar pynpilletjies. Wat nie werk nie.
Maar geduld was toe die antwoord, want ek kan uiteindelik sê, nou, na meer as tien weke, voel dit beter. Die toon lyk nog soos 'n chipolata worsie, maar darem 'n bleke, nie 'n bloue nie. Ek kan met my vol gewig daarop trap sonder om te gil, maar ek kan nog nie strek nie. Vir hoë goed roep ek maar my Seuna, of Brombeer, wat darem nog hier rond is, en heel gewillig is.

Maar net om die treurmare op 'n vroliker noot af te sluit: Kyk wat het ek alles gehekel terwyl ek so rondgesit het.


Dis die bommetjies wat my badkamergordyn geword het. Seuna vind dit hartseer dat ek soveel moeite gedoen het. Hy sê ek moes nie. 'Moeder', sê hy, ' u moes moes nie. Regtig nie'.
Ounooi, wat darem gespaar is van die gebruik van die badkamer sedert sy haar eie nessie het, sê "geen kommentaar".  Ek dink sy is oorweldig deur die absolute baldadigheid van 'n blomgordyn. Ek het die patroon hier gekry.



Verder het ek 'n stel lappies gehekel om onder warm borde op my tafel te sit. Ek het dit met 'n dubbel draad gehekel, ongelukkig uit my kop uit.


Toe het ek vir my 'n katoen truitjie gehekel, uit hierdie boek. Die knope is nog nie aangewerk nie, en die inspekteur is nog nie heeltemal tevrede nie:


Tussendeur het ek in November 'n boek geskryf.   Ek het deelgeneem aan die jaarlikse uitdaging om 'n boek van 50 000 woorde in November te skryf. Dit was 'n ervaring- om te sien dat dit heeltemal moontlik is (teen ongeveer 1600 woorde per dag, wat my so tussen 'n uur en twee ure neem), en om deur al die prosesse te gaan om 'n storie op papier te kry. Uiteindelik het ek 'n storie geskryf met 'n einde! Ek moet dit nog net verwerk, en dan voorle aan uitgewewers.

'n Paar maande gelede het ek begin met 'n kombersie vir die voetenend van my bed, en toe belangstelling verloor. Ek het die blokke opgediep, nog 'n paar gehekel, dit toe aanmekaar gehekel, en fraaie fraiings aangesit.

 

Dis van die sagste wol, Elle se Cuddly, en ek kan nie wag vir 'n koel dag om onder hom te le en lees nie.


Die laaste van my projekte was hierdie pragtige engeltjies- ek kan nie eens onthou hoeveel van hulle ek gehekel het nie. Hulle is so dierbaar, en dis so vinnig om hulle te maak, dat almal wat in Desember by my gekuier het, met 'n engel huistoe is. Daar is darem nog 'n paartjies oor:



Ek het die patroon hier gekry.

Fluit fluit, my storie vir vandag is uit!

2 comments:

Anonymous said...

Sjoe, dit was omtrent 'n besige einde van die jaar! Ek en Belinda het altyd 'n fight oor my engeltjie, want sy wil dit in my kamer sit en ek wil dit op die sideboard sit (tot dusver wen ek). Die bakamergordyn is baie mooi!

Anonymous said...

Jammer ek het nie Desember gekuier nie.......engeltjie gemis......lifde en lekker hekel...