19 Jun. 2015

Koek!

My liefste moeder het die negende Junie sewentig geword. Ek en my sussie het besluit om ir haar 'n ete te gee. Sy sal nooit so  iets ir haarself doen nie. Altyd bereid om ander te help, altyd selfopofferend, toegewyd, maar sy skuif haar eie behoeftes altyd op die agterplaat. So, ek en my sus het in 'n spanpoging gesorg vir die gepaste viering van hierdie mylpaal in ons moeder se lewe. Dis die minste wat ons kon doen.
Wat ek eintlik wil wys is die koek. Ek het maande terug op Facebook 'n breiwerkkoek gesien, en geweet: dis die een vir my altyd breiende ma. Het ure spandeer om resepte te soek, en planne te beraam vir versiering.
Voordat julle dink dit was 'n heldedaad van my kant af, dit was 'n louter vreugde. Ek het vroeër jare graag gebak, maar my noointjieskind het gou baie vaardiger as ek geraak, en ons huis se bakkery oorgeneem. Die dogtertjie wat op haar stoeltjie alles wat ek in die kombuis doen dopgehou het, kon meng en klits en roer (en mors) lank voordat sy skooltoe is. Ek weet nie hoe oud sy was toe sy haar eerste koek alleen gebak het nie, maar sy was skaars in die skool. Ek het opsy gestaan dat sy kan verbykom. Sy het haar eie troukoek gebak, 'n troukoek vir vriende, en meer verjaardagkoeke as wat ek kan tel. Gaan kyk hier an haar besondere troukoek.  Maar haar ouma se koek het ek vir myself toegeëien. Anzelle was aan die ander kant van die telefoonlyn om geduldig raad te gee, want ek is verroes, en nie naastenby op hoogte van die ongelooflike moontlikhede nie. Dis wat ek uitgerig het:

 

Ek het twee koeke gebak- 'n Duitse sjokoladekoek, en 'n wit fluweelkoek. Die sjokoladekoek het 'n vulsel gehad van geroosterde klapper en neute, en die wit koek 'n vulsel van mascarpone en wit klapper. So baie klapper want my liefste moeder is mal oor daardie malvalekkers met die klapper om. Ek het die koeke gebak en gevries, en die vulsels voor die tyd gemaak, asook die allerlieflikste bedekking van Switserse botteroom.
Die versierings was die grootste pret. Dis soos om klei te speel. Ek was nie dapper genoeg om my fondant self te maak nie, dié het ek liewer by die bakwinkel klaar gekoop. Ons het laas Vrydag al die koekgoed, die gevriesde pot goulash en bottels komkommerslaai in die kar gelaai en die pad gevat plaastoe na daar waar ek vandaan kom. Going back west. Saterdag het ek my ma uit die eetkamer verban, en die koek aanmekaar gesit. Ek het die twee koek afsonderlik versier, en dit met 'n laag waspapier tussenin opmekaar gestapel, en versier en versier en versier.



 Bolletjies wol. Lekker wol.

 'n Stuk breiwerk oor die kant drapeer. Het ongelukkig nie 'n nabyskoot daarvan gerky nie.


 En baie knopies.

Met die sny van die koek het ek eenvoudig die groter versierings afgehaal (waarvan drie en negentigjarige ouma Susie saamgeneem het ouetehuis toe) en die koeke van mekaar af gehaal. Die waspapier het 'n bietjie klam geword en hier en daar vasgesit, maar dit maak nie saak nie. Die koekpolisie was gelukkig nie daar nie.


Ma was tevrede.

Ook goed ek het voluit gegaan. Toe ek vra oor ander spesiale koeke, was daar vir my ma net twee- vir haar een en twintigste verjaardag, en vir haar troue. Dit was ander tye waarin sy grootgeword het. Maar dis nooit te laat nie.

Groete van huis tot huis!

6 opmerkings:

Unknown het gesê...

Ek is so bly jy het Anzelle se troukoek getag, ek het daardie inskrywing gemis en nou kon ek dit vir Belinda ook wys.

Глазурь het gesê...

Very good article!

Unknown het gesê...

Cute :) x
http://brightdreamerz.blogspot.co.uk/

Glennis het gesê...

interesting

Anoniem het gesê...

Oh my goodness - that is so beautiful!

Louisette het gesê...

Wow , wonderfull, groetjes uit Belgie