23 Sep. 2015

Plekke vir gode en katte.

“Rome is the city of echoes, the city of illusions, and the city of yearning.” Giotto di Bondone (Italiaanse skilder en argitek. Oorlede 1337)

Daar is nog net 'n paar dae oor van my vakansie. Nog so baie om te sien, en so min tyd. Daar is soveel wat ek wil vertel, maar dis so moeilik om stil te sit. Natuurlik verlang ek al huis toe. Ek dink ek het begin verlang voordat ek van die vliegtuig afgeklim het. Dis maar hoe ek is. 'n Huishen met 'n hart wat oorloop van dankbaarheid dat ek wel die geleentheid het om my grense te verskuif. En nog meer dankbaarheid dat ek 'n plek het om na terug te keer. Dat ek êrens kan kuier, maar dat ek tuis behóórt.

Vandag gaan ek net foto's plaas, met kort(erige) beskrywings. Ek het gister te lank gesit, en betaal vandag die prys daarvoor.

Die Panteon


Die woord Pantheon beteken losweg  'vir die gode', en  Marcus Agrippa het dit tydens die heerskappy van Keiser Augustus (27 BC – 14 AD)*  blykbaar tot eer van verskeie gode laat bou.


 Sedert die sewende eeu word dit as katolieke kerk gebruik.





Tweeduisend jaar later is die koepel van die Panteon nog steeds die grootste onversterkte koepel te wêreld. 


Op 'n ligte noot: onthou jy ons ouers het baie gesê iets sal gebeur wanneer die perde horings kry? 'n Perd het horings gekry in Rome. Gehekelde horings.


*Later meer oor Keiser Augustus

Largo di Torre Argentina 


(Ofte wel die katkolonie, en die plek waar Julius Caesar gesterf het.)
  
 

Van alle plekke wat ek in Rome beleef het, lê hierdie een my die naaste aan die hart. Hoekom? Al wat ek hoef te sê is 'katte'.  




Hier is ruïnes van 'n antieke plein en verskeie tempels. Die eerste tempel is in die derde of vierde eeu BC gebou. Dit is na bewering hier waar Julius Caesar 23 keer gesteek is, en  ontnugter gevra het 'et tu, Brute?' voordat hy gesterf het. Natuurlik is sy laaste woorde, en of hy hoegenaamd iets gesê het, debatteerbaar. Maar jy is nie hier vir 'n Geskiedenisles nie, en ek behoort betaal te word om liewer nie Geskiedenis oor te dra nie. 





'n Skematiese voorstelling hoe die plek toentertyd gelyk het:



Terug na vandag. Die ruïne is nou 'n veilige hawe vir katte, en die allerliefste dierasies lê oral tussen die brokstukke rond, salig onbewus van al die intrige wat in vervloë tye daar afgespeel het.  





Gaan lees hier meer.

Genoeg vir vandag. More vertel ek julle van 'n dorpie bo-op 'n berg.
Groete van huis tot huis!

 

 

4 opmerkings:

Hetta Scholtz het gesê...

Is die katte mak? Kan jy hulle streel? Ek het nooit geweet die Pantheon word nog as 'n kerk gebruik nie. Het net van die gebou geleer en dat dit 'n monument is maar afgelei. Natuurlik ons "reformatoriese historici" wat nie van die Katolieke wil praat nie.Ek onthou toe ek klein was was enige iets kommunisties en "paaps"groot sondes.

Santie het gesê...

Hetta, die katte is mak, maar die skuiling is nie altyd oop vir die publiek nie. Ek kon ongelukkig nie een van hulle vryf nie. Hulle is pragtig versorg, en dit maak my bly om net aan hulle te dink. En ja, daar word dienste in die Panteon gehou, en dit is dan toe vir die publiek.

Anoniem het gesê...

nice one..........................

Alicelovehandmade het gesê...

Beautiful pictures!