20 Aug. 2012

Augustus Blues

Ai, ek dink Augustusmaand is die maand waarvan ek die minste hou. Wispelturig, soos 'n vrou. Jy dink net dis nou amper lente, dan val die kwik, en jy gryp klappertand na al die warmgoed wat jy al wou wegpak. En die wind waai, alles is vol stof en ek tel elke nare siekwordding wat ek die winter vrygespring het, op.
Maar net voordat ek windverwaaid in 'n hopie gaan sit, sien ek dit- die eerste groen takkies en bome wat begin bot- beloftes van somer. Ek skep moed, en begin uitsien na groot lente skoonmaak, en vrolike ligte rokke, en voete in sandale. Vir oulaas skil ek lemoene, en eet dit in 'n sonkol, en woel saans knus onder my sagte komberse in, agter my Lief se rug.

Hier is die projek waarmee ek hier besig was:




My vriendin, Ella het vreeslik baie van hierdie vrolike sak gehou, toe hekel ek vir haar ook een. Ek het besluit om vir haar 'n volledige blomtuin te maak met voëltjies


en liewenheersbesies




 en al. Die liewenheersbesie is 'n rooi bobbeltjie, met krale vir kolle, en 'n ronde knopie vir 'n koppie.


Op die oomblik is ek besig om 'n nuwe kombersie vir my somerbed te hekel, met die sagste wol in pastelkleure.


 



11 Jul. 2012

Ek hiberneer

Die koue kom nog doer aan, dan gryp ek al my wolle, my bibmandjie en verskoon myself van die meeste sosiale bedrywighede. Soggens doen ek vinnig alles wat ek moet doen, en maak my dan tuis in 'n sonkol met 'n handwerkie en 'n luister- boek. Op die oomblik luister ek na David Copperfield van Dickens, en werk aan 'n heerlike projek, wat vir nog 'n rukkie geheim moet bly.

Hier is my nes. Die eerlike weergawe, sonder dat ek eers netjies gemaak het. Dis in ons spaarkamer wat eintlik meer dikwels my werkkamer is. As enige- iemand nuuskierig is oor hoe die res lyk, los vir my 'n boodskappie, dan sal ek vir julle wys.



Verlede maand het ek vir almal wat belangstellend gelyk het, mussies gehekel. Ek het nie 'n foto geneem van die eerste een wat ek vir 'n vriendin se dogter, Marli, 11, gehekel het nie, maar hier is die ander. Die twee pragtige dogtertjies behoort aan nog 'n vriendin, Tianca.


Carli (7)

 Mia (omtrent 14 maande)


 
 Tianca sin

 Al drie.


Nina (14,  Marli se sussie)  sin.

Ek het die patroon vir die mussies hier gekry, en veranderinge gemaak soos dit nodig was. Vir Nina se mussie het ek my eie kop gevolg.


 En waarmee ek tans besig is.


Nou gaan ek eers spring om al my middagwerkies te doen en voorbereidings te tref vir aandete. Voordat my Brombeer van die werk af kom en ek weer in die versoeking is om my hande aan die saligheid te belowe.

28 Jun. 2012

'n Baie ou poppie

Jare gelede het een van my dierbare tannies haar ou poppie vir my gegee.

 Genoemde tannie is diep in haar sestigs, so dit sou veilig wees om te reken die poppie kom uit die laat 1940's, of vroeg 1950's. Agter op sy ruggie( dit lyk vir my soos 'n seuntjie) staan "Rosebud Made in England  Patents pending"


Toe ek hom gekry het, was die rekkie wat sy koppie, armpies, en beentjies aanmekaar hou, stukkend. Ek het hom so stukkend weggepak, en toe die anderdag besluit dis nou tyd vir hom om iewers te pronk. Toe prakseer ek 'n nuwe rek.


Ek weet nie of julle kan sien nie, maar sy skouertjie is ook stukkend, en iemand(my Oupa?) het hom probeer regmaak, deur die plastiek te smelt, of so lyk dit. Dit het nie gewerk nie, maar die hakie waarmee die koppie aan die rekkie haak, is heel suksesvol op die manier reggemaak. My rekkie is amateuragtig, en nie styf genoeg nie, so sy kop, arms of bene val gedurig af, maar dit maak hom baie beweeglik, en baba- agtig.


Ek het vir hom 'n broekie

 'n truitjie


en 'n kappie gebrei.


Ek kon nie 'n patroon vir sy grootte vind nie, maar die 'n boere-dogter maak 'n plan, en hy is heel tevrede. Ek het nog nie vir hom die perfekte plekkie nie, hy trek maar oral rond. Die katte hou ook van hom.


 Mei-Mei


 Soekie

 Ek soek nou dringend vir die knapie 'n mooi outydserige naam. Enige voorstelle?



20 Jun. 2012

Van drake en dinge

Hallo daar! Ek's Knersus.


     Wag so bietjie... hoekom sit ek so hoog?!



 Netnou val ek hier af! En ek kan nie eintlik vlieg nie, nie met hiérdie vlerke nie.


 

Dis beter. Vastigheid onder my pote.


Maar nou voel ek so laag.


 Oeps-se-daisy. Op...op...op. Gelukkig het ek vastrap pote.




 Kom ons probeer weer. 
Hallo! My naam is Knersus. Ek is 'n gelukkige voorstedelike draak.


  
Toemaar, moenie bang wees nie. Ek is 'n vegetariër. Ek sal niemand opvreet nie.

  
Kyk. Woltande. Wolnaels. 
Ek het in tant Wolletjies se wolmandjie uitgebroei. 'n Klein dogtertjie vir wie tant Wolletjies baie lief is, het een jaartjie oud geword. Ek het by haar gaan bly om haar op te pas. Ek het haar mooi opgepas en sy vir my.


Ek het nog al my vlerke, al my naels en al my tande. Kyk maar. En ek is nog pienk van plesier. 
My dogtertjie het ook nog al haar naels, en hare, al verloor sy soms van haar tandjies. Sy kry altyd weer nuwes.




Hier is sy. Belinda.  Sy is nou agt jaar oud, en baie baie lief, en baie baie slim. (Julle sal nie haar tandjies kan sien nie, al glimlag sy so mooi. Tant Wolletjies moet liewer brei as foto's neem.)

Ek is nou moeg. Ek gaan nou saam met Belinda en haar Mamma en haar Pappa terug huistoe. Lekker slapies almal daar in blog-land!


04 Jun. 2012

Ek pleit lui

Ek het lank laas met julle gesels. Sien, 'n blog inskrywing behels :
 1) iets om met julle te deel
2) die regte woorde daarvoor
3) en foto's om dit meer opwindend te maak

Met die iets om met julle te deel, het ek geen probleem nie- as daar niks besonders in my lewe gebeur het nie, is daar altyd my ewige wol-woelinge.
 Die regte woorde is ook nie 'n probleem nie. Daar warrel altyd woorde deur my kop, en ek moet net die regtes vang.
Foto's, daarenteen, kan soms so bietjie van 'n tameletjie wees. Sien, ek gebruik my seunskind se kamera (ek het nog nie my eie nie!) want dit is maklik om te gebruik, en lê sommer hier rond, reg vir die gryp, en kliek. Ons kamera, dis nou myne en my Brombeer sin, moet egter sorgvuldig gebêre word na gebruik, en dan weer met ewe veel sorg opgediep word as ek wil foto's neem. Te veel moeite, dus. So, as my seunskind se kamera nou gerieflik binne bereik is, en as die batereie gelaai is, neem ek na hartelus amateur-agtige foto's om vir julle te wys wat gaan aan in my kolletjie son. Die groot uitdaging nou is om die foto's af te laai en blog- vriendelik te maak, en dan die regte woorde te vind. En dit is presies waar my inherente luiheid die stok in die speke is.

Maar hier is ek nou, met al die vereistes van 'n nuwe inskrywing:

Belinda se Poncho

Belinda is my pasella-sus, Stephanie se dogtertjie, en dis heerlik om vir haar iets te brei. 'n Paar jaar gelede het ek vir haar 'n veelkleurige poncho gebrei waarvan sy vreeslik baie hou, toe vra sy asseblief nog een.


(Hierdie is 'n kleiner weergawe van hare; ek vir drie vreskillende dogtertjies sulkes gebrei, met ander afwerkings, maar naastenby dieselfde kleure.)

Sy het die wol self uitgesoek, en ek het dit met  7.5mm naalde gebrei.

 

Ek wou nog vir julle wys hoe om dit te doen, maar toe ek weer sien, was dit kant en klaar:( Skryf maar vir my 'n briefie as julle wil weet hoe om 'n poncho van twee gebreide reghoeke te maak!)

 


Ek het twee blomme gehekel, en op speldjies vasgewerk sodat sy dit kan rondskuif, of op iets anders ook kan gebruik.


En hier is tevrede Belinda, knus en warm.



Hou hierdie blog dop- binnekort verskyn hier 'n storie van 'n draak!