28 Jun. 2012

'n Baie ou poppie

Jare gelede het een van my dierbare tannies haar ou poppie vir my gegee.

 Genoemde tannie is diep in haar sestigs, so dit sou veilig wees om te reken die poppie kom uit die laat 1940's, of vroeg 1950's. Agter op sy ruggie( dit lyk vir my soos 'n seuntjie) staan "Rosebud Made in England  Patents pending"


Toe ek hom gekry het, was die rekkie wat sy koppie, armpies, en beentjies aanmekaar hou, stukkend. Ek het hom so stukkend weggepak, en toe die anderdag besluit dis nou tyd vir hom om iewers te pronk. Toe prakseer ek 'n nuwe rek.


Ek weet nie of julle kan sien nie, maar sy skouertjie is ook stukkend, en iemand(my Oupa?) het hom probeer regmaak, deur die plastiek te smelt, of so lyk dit. Dit het nie gewerk nie, maar die hakie waarmee die koppie aan die rekkie haak, is heel suksesvol op die manier reggemaak. My rekkie is amateuragtig, en nie styf genoeg nie, so sy kop, arms of bene val gedurig af, maar dit maak hom baie beweeglik, en baba- agtig.


Ek het vir hom 'n broekie

 'n truitjie


en 'n kappie gebrei.


Ek kon nie 'n patroon vir sy grootte vind nie, maar die 'n boere-dogter maak 'n plan, en hy is heel tevrede. Ek het nog nie vir hom die perfekte plekkie nie, hy trek maar oral rond. Die katte hou ook van hom.


 Mei-Mei


 Soekie

 Ek soek nou dringend vir die knapie 'n mooi outydserige naam. Enige voorstelle?



2 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Oe, ek onthou daai poppies. En die hartseer as die rekkie breek en die poppie lê in stukke, en die planne wat my ma gemaak het om hulle heel te kry. Van haarrekkies as dit beskikbaar is (ons het op 'n plaas ver van alles gebly) tot broekrek, en die sukkel om dit met 'n hekelpen om die hakies en deur die poppie te kry. My seuntjie pop was nie so beweeglik nie, hy was 'n soliede stukkie plastiek, en sy een skoentjie was stukkend waar ek hom gekou het. Sy hare was so krullerige, geel plastiek, en sy broekie was rooi met 'n wit hempie, dis nou voor hy begin verblyk het en hy vleeskleurig geword het. Gertjie. En dan was daar Seunk, die "volwasse" vorm van Seuntjie, ons een buurman se naam. Dit was my geliefde teddiebeer , sonder neus, en met die bruin plastiese hande, ookal heelgemaak waar dit losgetrek het. Wat van jou oupa se naam? As dit mooi en outyds is?
(Hetta)

Santie het gesê...

Dankie vir jou lekker briefie Hetta, en ook vir die foto's wat jy op FB gedeel het.
Ek het nog 'n paar 'makeover' kandidate, onder andere so 'n kleinderige poppie, Betsie. Haar groottoon is afgekou, en meeste van haar haartjies het uitgeval. Ek sla vir haar 'n hoedjie en skoentjies ook moet hekel, voordat sy by Thysie kan sit.