08 Okt. 2012

Oumablokkies van verlange


Kom ek vertel gou vir almal wat dit nog nie ken nie, my blokkieskombers-storie:


So vyf jaar gelede is my manlief Nederland toe om vir 'n jaar daar te gaan werk. Sien, hy het wanderlust, en  ék het dinamiet nodig om my te beweeg. Toe gaan hy, en ek bly. Op daardie stadium het ek oumablokkies begin hekel om al by bietjies op te gebruik.


Met hierdie het ek begin. Ek het begin met 'n kleur, en doodgewoon aangegaan met die volgende as dit op was, ongeag of die ry klaar was.


My verlange na my beterhelfte het so handuit geruk, dat dit in 'n gereelde nagtelike hekelry ontaard het, wat later sommer ook  'n helder-oordag vergryping geword het. Bietjies-wol is opgebruik, en daar is baie bolletjies wol gekoop. Ek weet nie hoeveel nie.  Julle weet mos ek ly aan rustelose hande. Selfs my ma, wat eintlik liewer brei, het begeesterd geraak, en vir my 'n klompie blokkies gehekel. Geen twee blokkies is dieselfde nie.

 




  'n Vriendin het ook vir my 'n paar blokkies gehekel, maar hare lyk almal dieselfde, so ek het net een  gebruik.




14 Rye van 15 blokkies later was die eerste 2 maande en 'n bietjie om. 'n Kombers was klaar, en ek het my man in Nederland gaan haal. Hy het besluit om tog nie 'n jaar te bly nie.  Want hy het ook te veel verlang.







Ek het op die ou end baie meer blokkies gehad as wat ek nodig gehad het vir my dubbelbedkombers, so ek het die begin van nog so bont kombers, as die lus my beetpak, of my man weer vir 'n ruk weggaan!



 Die kombers bly mooi, al word hy hoe gereeld gewas. Ek is nogal verbaas daaroor, want ek het soveel soorte wol gebruik, en nie alles was ewe mooi nie. Om voor die hand liggende redes moet dit gereeld wasmasjien toe!


20 Aug. 2012

Augustus Blues

Ai, ek dink Augustusmaand is die maand waarvan ek die minste hou. Wispelturig, soos 'n vrou. Jy dink net dis nou amper lente, dan val die kwik, en jy gryp klappertand na al die warmgoed wat jy al wou wegpak. En die wind waai, alles is vol stof en ek tel elke nare siekwordding wat ek die winter vrygespring het, op.
Maar net voordat ek windverwaaid in 'n hopie gaan sit, sien ek dit- die eerste groen takkies en bome wat begin bot- beloftes van somer. Ek skep moed, en begin uitsien na groot lente skoonmaak, en vrolike ligte rokke, en voete in sandale. Vir oulaas skil ek lemoene, en eet dit in 'n sonkol, en woel saans knus onder my sagte komberse in, agter my Lief se rug.

Hier is die projek waarmee ek hier besig was:




My vriendin, Ella het vreeslik baie van hierdie vrolike sak gehou, toe hekel ek vir haar ook een. Ek het besluit om vir haar 'n volledige blomtuin te maak met voëltjies


en liewenheersbesies




 en al. Die liewenheersbesie is 'n rooi bobbeltjie, met krale vir kolle, en 'n ronde knopie vir 'n koppie.


Op die oomblik is ek besig om 'n nuwe kombersie vir my somerbed te hekel, met die sagste wol in pastelkleure.


 



11 Jul. 2012

Ek hiberneer

Die koue kom nog doer aan, dan gryp ek al my wolle, my bibmandjie en verskoon myself van die meeste sosiale bedrywighede. Soggens doen ek vinnig alles wat ek moet doen, en maak my dan tuis in 'n sonkol met 'n handwerkie en 'n luister- boek. Op die oomblik luister ek na David Copperfield van Dickens, en werk aan 'n heerlike projek, wat vir nog 'n rukkie geheim moet bly.

Hier is my nes. Die eerlike weergawe, sonder dat ek eers netjies gemaak het. Dis in ons spaarkamer wat eintlik meer dikwels my werkkamer is. As enige- iemand nuuskierig is oor hoe die res lyk, los vir my 'n boodskappie, dan sal ek vir julle wys.



Verlede maand het ek vir almal wat belangstellend gelyk het, mussies gehekel. Ek het nie 'n foto geneem van die eerste een wat ek vir 'n vriendin se dogter, Marli, 11, gehekel het nie, maar hier is die ander. Die twee pragtige dogtertjies behoort aan nog 'n vriendin, Tianca.


Carli (7)

 Mia (omtrent 14 maande)


 
 Tianca sin

 Al drie.


Nina (14,  Marli se sussie)  sin.

Ek het die patroon vir die mussies hier gekry, en veranderinge gemaak soos dit nodig was. Vir Nina se mussie het ek my eie kop gevolg.


 En waarmee ek tans besig is.


Nou gaan ek eers spring om al my middagwerkies te doen en voorbereidings te tref vir aandete. Voordat my Brombeer van die werk af kom en ek weer in die versoeking is om my hande aan die saligheid te belowe.

28 Jun. 2012

'n Baie ou poppie

Jare gelede het een van my dierbare tannies haar ou poppie vir my gegee.

 Genoemde tannie is diep in haar sestigs, so dit sou veilig wees om te reken die poppie kom uit die laat 1940's, of vroeg 1950's. Agter op sy ruggie( dit lyk vir my soos 'n seuntjie) staan "Rosebud Made in England  Patents pending"


Toe ek hom gekry het, was die rekkie wat sy koppie, armpies, en beentjies aanmekaar hou, stukkend. Ek het hom so stukkend weggepak, en toe die anderdag besluit dis nou tyd vir hom om iewers te pronk. Toe prakseer ek 'n nuwe rek.


Ek weet nie of julle kan sien nie, maar sy skouertjie is ook stukkend, en iemand(my Oupa?) het hom probeer regmaak, deur die plastiek te smelt, of so lyk dit. Dit het nie gewerk nie, maar die hakie waarmee die koppie aan die rekkie haak, is heel suksesvol op die manier reggemaak. My rekkie is amateuragtig, en nie styf genoeg nie, so sy kop, arms of bene val gedurig af, maar dit maak hom baie beweeglik, en baba- agtig.


Ek het vir hom 'n broekie

 'n truitjie


en 'n kappie gebrei.


Ek kon nie 'n patroon vir sy grootte vind nie, maar die 'n boere-dogter maak 'n plan, en hy is heel tevrede. Ek het nog nie vir hom die perfekte plekkie nie, hy trek maar oral rond. Die katte hou ook van hom.


 Mei-Mei


 Soekie

 Ek soek nou dringend vir die knapie 'n mooi outydserige naam. Enige voorstelle?



20 Jun. 2012

Van drake en dinge

Hallo daar! Ek's Knersus.


     Wag so bietjie... hoekom sit ek so hoog?!



 Netnou val ek hier af! En ek kan nie eintlik vlieg nie, nie met hiérdie vlerke nie.


 

Dis beter. Vastigheid onder my pote.


Maar nou voel ek so laag.


 Oeps-se-daisy. Op...op...op. Gelukkig het ek vastrap pote.




 Kom ons probeer weer. 
Hallo! My naam is Knersus. Ek is 'n gelukkige voorstedelike draak.


  
Toemaar, moenie bang wees nie. Ek is 'n vegetariër. Ek sal niemand opvreet nie.

  
Kyk. Woltande. Wolnaels. 
Ek het in tant Wolletjies se wolmandjie uitgebroei. 'n Klein dogtertjie vir wie tant Wolletjies baie lief is, het een jaartjie oud geword. Ek het by haar gaan bly om haar op te pas. Ek het haar mooi opgepas en sy vir my.


Ek het nog al my vlerke, al my naels en al my tande. Kyk maar. En ek is nog pienk van plesier. 
My dogtertjie het ook nog al haar naels, en hare, al verloor sy soms van haar tandjies. Sy kry altyd weer nuwes.




Hier is sy. Belinda.  Sy is nou agt jaar oud, en baie baie lief, en baie baie slim. (Julle sal nie haar tandjies kan sien nie, al glimlag sy so mooi. Tant Wolletjies moet liewer brei as foto's neem.)

Ek is nou moeg. Ek gaan nou saam met Belinda en haar Mamma en haar Pappa terug huistoe. Lekker slapies almal daar in blog-land!


04 Jun. 2012

Ek pleit lui

Ek het lank laas met julle gesels. Sien, 'n blog inskrywing behels :
 1) iets om met julle te deel
2) die regte woorde daarvoor
3) en foto's om dit meer opwindend te maak

Met die iets om met julle te deel, het ek geen probleem nie- as daar niks besonders in my lewe gebeur het nie, is daar altyd my ewige wol-woelinge.
 Die regte woorde is ook nie 'n probleem nie. Daar warrel altyd woorde deur my kop, en ek moet net die regtes vang.
Foto's, daarenteen, kan soms so bietjie van 'n tameletjie wees. Sien, ek gebruik my seunskind se kamera (ek het nog nie my eie nie!) want dit is maklik om te gebruik, en lê sommer hier rond, reg vir die gryp, en kliek. Ons kamera, dis nou myne en my Brombeer sin, moet egter sorgvuldig gebêre word na gebruik, en dan weer met ewe veel sorg opgediep word as ek wil foto's neem. Te veel moeite, dus. So, as my seunskind se kamera nou gerieflik binne bereik is, en as die batereie gelaai is, neem ek na hartelus amateur-agtige foto's om vir julle te wys wat gaan aan in my kolletjie son. Die groot uitdaging nou is om die foto's af te laai en blog- vriendelik te maak, en dan die regte woorde te vind. En dit is presies waar my inherente luiheid die stok in die speke is.

Maar hier is ek nou, met al die vereistes van 'n nuwe inskrywing:

Belinda se Poncho

Belinda is my pasella-sus, Stephanie se dogtertjie, en dis heerlik om vir haar iets te brei. 'n Paar jaar gelede het ek vir haar 'n veelkleurige poncho gebrei waarvan sy vreeslik baie hou, toe vra sy asseblief nog een.


(Hierdie is 'n kleiner weergawe van hare; ek vir drie vreskillende dogtertjies sulkes gebrei, met ander afwerkings, maar naastenby dieselfde kleure.)

Sy het die wol self uitgesoek, en ek het dit met  7.5mm naalde gebrei.

 

Ek wou nog vir julle wys hoe om dit te doen, maar toe ek weer sien, was dit kant en klaar:( Skryf maar vir my 'n briefie as julle wil weet hoe om 'n poncho van twee gebreide reghoeke te maak!)

 


Ek het twee blomme gehekel, en op speldjies vasgewerk sodat sy dit kan rondskuif, of op iets anders ook kan gebruik.


En hier is tevrede Belinda, knus en warm.



Hou hierdie blog dop- binnekort verskyn hier 'n storie van 'n draak!

08 Mei 2012

Vir my Ouma op haar 90ste verjaardag


Twee Pond vir 'n Droom




Jy staan voor die winkelier met 2 pond in jou hand. 2 Pond! Jy’t nog nooit so baie geld gehad nie.
 “Koop goedjies wat jy nodig het vir die huis,” het jou nuwe man gesê. Nou wonder jy hoeveel jy met twee pond kan koop.
“Antie, het Antie asseblief vir my bietjie meel? Pa is ... siek, en die kinders het vandag nog niks gehad om te eet nie.”
“Pa, het Pa die goedjies gekoop wat ek nog het?” Jy’t hoopvol gevra, maar jy kon die honger ruik aankom in jou pa se suur asem.
“Susie, ek het ‘n paar goedjies gebring.” Jou broers het hulle ontferm, male sonder tal.

Nou staan jy hier, met jou black Maraaias, en nuwe skoene, met jou hart in jou keel en 2 pond in jou hand. Jy vra bietjie suiker. Hoeveel is oor? Die winkelier keer kleingeld uit. 
     “ Koffie, asseblief”. Daar is nog geld oor. 
Jy kan nie somme maak nie, want jy moes uit die skool uit om jou pa en jou jonger sussies te versorg, na jou mammie se dood. Toe ander meisiekinders van jou ouderdom nog hop scotch gespeel het, en onwillig trousseau borduur het.

Netnou sal jy die gordyntjie, wat jou man vir jou in die hoek van julle kamer gespan het, wegtrek om jou karige klere op te hang. Netnou sal jy ʼn tafeldoekie oor die tafel gooi, en die paraffienlamp daarop staanmaak sodat julle julle eerste maaltyd saam kan eet. Jou nuwe skoonma het ʼn mandjie gepak met oorblykos van die bruiloffees.
Jy wonder wat kan jy nog koop. Meel. Bakpoeier. Sê nou jy vergeet iets belangriks?  Jou ma is hemel toe voordat sy jou behoorlik kon leer huishou.

Eendag sal jy jou huishouding met ʼn ysterhand regeer. Jy sal presies weet wat is nodig om ʼn tuiste te skep. Jy sal jou nes keurig veer met verbete vaardigheid. Niemand sal ooit honger van jou tafel af opstaan nie, en nooit weer sal jy hoef te vra vir aalmoese nie.
Oor 'n jaar en 'n half sal jy ʼn dogtertjie ontvang. Jy sal vier jaar van nou af ʼn seuntjie hê, en wanneer hy twee jaar oud is nog ʼn dogtertjie.  
  Jou oudste kind sal gehoorsaam wees, teruggetrokke, stil. Eendag sal jou geliefde skoonseun met die vonkel in sy oë haar tot die donkerste dieptes aftrek. Jy sal magteloos toekyk en doen wat jy kan. Jy sal haar opdra aan jou Here en Hy sal Sy Hand oor haar hou.
Jou seun sal verknog wees aan jou in so ʼn mate dat jy jou nuwe baba op vreemde skote moet laat sit, omdat hy aandring om op joune te sit. Hy sal eendag die mooi rooi en blou lorrie wat sy pa vir hom gekoop het omdat hy ontroosbaar was toe jy in die hospitaal was, in die straat af gooi en skree: “Ek wil nie ʼn donnerse lorrie hê nie, ek wil my ma hê". Maar hy sal groot word, en sy pa se voorbeeld volg, en sy vrou en kinders sal niks kortkom nie. Hy sal jou op jou oudag soos ʼn kleinood oppas.
Jou jongste kind sal eiewys en rebels wees. Sy sal jou en jou man op julle knieë hou, maar anderkant haar stormjare sal sy met ʼn lang man trou wat haar op die hande dra. Jy sal saam met haar huil omdat sy kinderloos is, en saam met haar juig wanneer sy haar hartskinders van ander ma’s ontvang.

Jy knoop nou die kleingeld sorgvuldig in jou sakdoekie toe, en wag vir die stil man met die groot hande en nog groter hart, om jou te kom haal.
      Eendag sal kanker hom verteer, maar jy sal onwrikbaar staan en hom versorg en bystaan met bo-menslike krag, want jou krag sal direk van Bo af kom, en jy sal vir geen oomblik twyfel nie. Jy sal hom afgee aan die Hemelse Vader, maar jy sal hom nooit vergeet nie.

Terwyl julle met ʼn perdekar, minder as twee pond se kruideniersware, en die kis wat jou pa op Ceylon gemaak het, die toekoms inry, sal jou hart juig oor die meetsnoere wat vir jou in lieflike plekke geval het.
 Eendag sal jy sewe kleinkinders hê, en vier agterkleinkinders. Eendag sal jy jou oudste agterkleinkind, kaalvoet sien trou, met ʼn rooi rok aan, in haar ma se tuin.
Eendag sal jy negentig word, met ʼn helder verstand, en goeie gesondheid, en meer mense wat jou liefhet as waarvan jy ooit kon droom. 
En eendag sal die kleindogter wat jou naam met trots en dankbaarheid dra, oor jou ʼn storie skryf.

Album



My Ma se troudag, 1965. Ouma staan heel regs.

By 'n onthaal in 1970/71, saam met my en Oupa

 
 1974/1975

 Op my troudag- 3 September 1988


Met Anzelle, in 1989

 

 Met Anzelle en Stafan, 1993

 My niggie Soreta se troue, 1999
Saam met al die kinders, kleinkinders, en agterkleinkinders. Soreta het ook nou 'n dogtertjie en 'n seuntjie. My neef, Hennie(voor ny die tafel) en niggie, Elize (regs agter) is ook getroud. 
Daar is trouklokkies in die vooruitsig vir my Sus, Thea(3de van links) en niggie Suzanne(regs langs Ouma)
My oom Boet,is heel links), my Ma, San, is links agter Ouma, en tannie Marie skuins agter Suzanne.

Ek en ouma op haar tagtigste verjaardag

Stefan vat Ouma vir 'n dans op my 40ste verjaardag, 3 jaar gelede


 Met Anzelle se trou verlede jaar