Twee Pond vir 'n Droom
“Koop goedjies wat jy nodig het vir die huis,”
het jou nuwe man gesê. Nou wonder jy hoeveel jy met twee pond kan koop.
“Antie, het
Antie asseblief vir my bietjie meel? Pa is ... siek, en die kinders het vandag
nog niks gehad om te eet nie.”
“Pa, het Pa die
goedjies gekoop wat ek nog het?” Jy’t hoopvol gevra, maar jy kon die honger
ruik aankom in jou pa se suur asem.
“Susie, ek het
‘n paar goedjies gebring.” Jou broers het hulle ontferm, male sonder tal.
Nou staan jy hier, met jou black Maraaias, en nuwe skoene, met jou hart in jou keel en 2 pond in jou hand. Jy vra bietjie suiker. Hoeveel is oor? Die winkelier keer kleingeld uit.
“ Koffie, asseblief”. Daar is nog geld oor.
Jy kan nie somme maak nie, want jy moes uit die skool uit om jou pa en jou jonger sussies te versorg, na jou mammie se dood. Toe ander meisiekinders van jou ouderdom nog hop scotch gespeel het, en onwillig trousseau borduur het.
Netnou sal jy die gordyntjie, wat jou man vir jou in die hoek van julle kamer gespan het, wegtrek om jou karige klere op te hang. Netnou sal jy ʼn tafeldoekie oor die tafel gooi, en die paraffienlamp daarop staanmaak sodat julle julle eerste maaltyd saam kan eet. Jou nuwe skoonma het ʼn mandjie gepak met oorblykos van die bruiloffees.
Jy wonder wat kan
jy nog koop. Meel. Bakpoeier. Sê nou jy vergeet iets belangriks? Jou ma
is hemel toe voordat sy jou behoorlik kon leer huishou.
Eendag sal jy jou huishouding met ʼn ysterhand regeer. Jy sal presies weet wat is nodig om ʼn tuiste te skep. Jy sal jou nes keurig veer met verbete vaardigheid. Niemand sal ooit honger van jou tafel af opstaan nie, en nooit weer sal jy hoef te vra vir aalmoese nie.
Oor 'n jaar en 'n
half sal jy ʼn dogtertjie ontvang. Jy sal vier jaar van nou af ʼn seuntjie hê, en
wanneer hy twee jaar oud is nog ʼn dogtertjie.
Jou oudste
kind sal gehoorsaam wees, teruggetrokke, stil. Eendag sal jou geliefde
skoonseun met die vonkel in sy oë haar tot die donkerste dieptes aftrek. Jy sal
magteloos toekyk en doen wat jy kan. Jy sal haar opdra aan jou Here en Hy sal
Sy Hand oor haar hou.
Jou seun sal
verknog wees aan jou in so ʼn mate dat jy jou nuwe baba op vreemde skote moet
laat sit, omdat hy aandring om op joune te sit. Hy sal eendag die mooi rooi en
blou lorrie wat sy pa vir hom gekoop het omdat hy ontroosbaar was toe jy in die
hospitaal was, in die straat af gooi en skree: “Ek wil nie ʼn donnerse lorrie hê nie, ek wil
my ma hê". Maar hy sal groot word, en sy pa se voorbeeld
volg, en sy vrou en kinders sal niks kortkom nie. Hy sal jou op jou oudag soos ʼn
kleinood oppas.
Jou jongste kind
sal eiewys en rebels wees. Sy sal jou en jou man op julle knieë hou, maar
anderkant haar stormjare sal sy met ʼn lang man trou wat haar op die hande dra.
Jy sal saam met haar huil omdat sy kinderloos is, en saam met haar juig wanneer
sy haar hartskinders van ander ma’s ontvang.
Jy knoop nou die kleingeld sorgvuldig in jou sakdoekie toe, en wag vir die stil man met die groot hande en nog groter hart, om jou te kom haal.
Eendag sal kanker hom verteer, maar jy sal onwrikbaar staan en hom versorg en bystaan met bo-menslike krag, want jou krag sal direk van Bo af kom, en jy sal vir geen oomblik twyfel nie. Jy sal hom afgee aan die Hemelse Vader, maar jy sal hom nooit vergeet nie.
Terwyl julle met ʼn perdekar, minder as twee pond se kruideniersware, en die kis wat jou pa op Ceylon gemaak het, die toekoms inry, sal jou hart juig oor die meetsnoere wat vir jou in lieflike plekke geval het.
Eendag sal
jy sewe kleinkinders hê, en vier agterkleinkinders. Eendag sal jy jou oudste
agterkleinkind, kaalvoet sien trou, met ʼn rooi rok aan, in haar ma se tuin.
Eendag sal jy negentig word, met ʼn helder
verstand, en goeie gesondheid, en meer mense wat jou liefhet as waarvan jy ooit
kon droom. En eendag sal die kleindogter wat jou naam met trots en dankbaarheid dra, oor jou ʼn storie skryf.
Album
My Ma se troudag, 1965. Ouma staan heel regs.
By 'n onthaal in 1970/71, saam met my en Oupa
1974/1975
Op my troudag- 3 September 1988
Met Anzelle, in 1989
Met Anzelle en Stafan, 1993
My niggie Soreta se troue, 1999
Saam met al die kinders, kleinkinders, en agterkleinkinders. Soreta het ook nou 'n dogtertjie en 'n seuntjie. My neef, Hennie(voor ny die tafel) en niggie, Elize (regs agter) is ook getroud.
Daar is trouklokkies in die vooruitsig vir my Sus, Thea(3de van links) en niggie Suzanne(regs langs Ouma)
My oom Boet,is heel links), my Ma, San, is links agter Ouma, en tannie Marie skuins agter Suzanne.
Ek en ouma op haar tagtigste verjaardag
Stefan vat Ouma vir 'n dans op my 40ste verjaardag, 3 jaar gelede
Met Anzelle se trou verlede jaar
6 opmerkings:
Ag ek raak elke keer hartseer as ek dit lees. En ek lees dit oor & oor. Dis so mooi.
Baie dankie dat jy ons ouma se storie vertel het! Sy is voorwaar `n baie sterk vroue en ons is almal baie lief vir haar en dankbaar vir haar 90ste lewensjaar.
Jy het baie talent, REGTIG BAIE dankie niggie!
Elize Jordaan (nou Hattingh)
Selfde hier!
Elize, ek is bly dat ek dit kon vertel. Soms, as iemand 'n mens so na aan die hart le, is dit moeilik om hulle werklik in woorde vas te vang. Dankie dat jy van jou laat hoor het!
Dankie Santie, dis lekker om iets van Ouma te lees. Ek leer die familie se dinge maar so stuk-stuk ken. Dit het trane in my oë laat kom, en ook gehelp om te verstaan waar Ouma vandaan kom.
Susan (die nuwe aangetroude Jordaan)
Bly om jou te ontmoet, Susan, so oor die www! Ja, dit neem maar 'n rukkie om 'n hele nuwe familie te leer ken, veral as baie van hulle so ver is. Welkom van ons kant af- ek hoop ons sal jou nog eendag in lewende lywe ontmoet:)
Plaas 'n opmerking