20 Jun. 2012

Van drake en dinge

Hallo daar! Ek's Knersus.


     Wag so bietjie... hoekom sit ek so hoog?!



 Netnou val ek hier af! En ek kan nie eintlik vlieg nie, nie met hiérdie vlerke nie.


 

Dis beter. Vastigheid onder my pote.


Maar nou voel ek so laag.


 Oeps-se-daisy. Op...op...op. Gelukkig het ek vastrap pote.




 Kom ons probeer weer. 
Hallo! My naam is Knersus. Ek is 'n gelukkige voorstedelike draak.


  
Toemaar, moenie bang wees nie. Ek is 'n vegetariër. Ek sal niemand opvreet nie.

  
Kyk. Woltande. Wolnaels. 
Ek het in tant Wolletjies se wolmandjie uitgebroei. 'n Klein dogtertjie vir wie tant Wolletjies baie lief is, het een jaartjie oud geword. Ek het by haar gaan bly om haar op te pas. Ek het haar mooi opgepas en sy vir my.


Ek het nog al my vlerke, al my naels en al my tande. Kyk maar. En ek is nog pienk van plesier. 
My dogtertjie het ook nog al haar naels, en hare, al verloor sy soms van haar tandjies. Sy kry altyd weer nuwes.




Hier is sy. Belinda.  Sy is nou agt jaar oud, en baie baie lief, en baie baie slim. (Julle sal nie haar tandjies kan sien nie, al glimlag sy so mooi. Tant Wolletjies moet liewer brei as foto's neem.)

Ek is nou moeg. Ek gaan nou saam met Belinda en haar Mamma en haar Pappa terug huistoe. Lekker slapies almal daar in blog-land!


04 Jun. 2012

Ek pleit lui

Ek het lank laas met julle gesels. Sien, 'n blog inskrywing behels :
 1) iets om met julle te deel
2) die regte woorde daarvoor
3) en foto's om dit meer opwindend te maak

Met die iets om met julle te deel, het ek geen probleem nie- as daar niks besonders in my lewe gebeur het nie, is daar altyd my ewige wol-woelinge.
 Die regte woorde is ook nie 'n probleem nie. Daar warrel altyd woorde deur my kop, en ek moet net die regtes vang.
Foto's, daarenteen, kan soms so bietjie van 'n tameletjie wees. Sien, ek gebruik my seunskind se kamera (ek het nog nie my eie nie!) want dit is maklik om te gebruik, en lê sommer hier rond, reg vir die gryp, en kliek. Ons kamera, dis nou myne en my Brombeer sin, moet egter sorgvuldig gebêre word na gebruik, en dan weer met ewe veel sorg opgediep word as ek wil foto's neem. Te veel moeite, dus. So, as my seunskind se kamera nou gerieflik binne bereik is, en as die batereie gelaai is, neem ek na hartelus amateur-agtige foto's om vir julle te wys wat gaan aan in my kolletjie son. Die groot uitdaging nou is om die foto's af te laai en blog- vriendelik te maak, en dan die regte woorde te vind. En dit is presies waar my inherente luiheid die stok in die speke is.

Maar hier is ek nou, met al die vereistes van 'n nuwe inskrywing:

Belinda se Poncho

Belinda is my pasella-sus, Stephanie se dogtertjie, en dis heerlik om vir haar iets te brei. 'n Paar jaar gelede het ek vir haar 'n veelkleurige poncho gebrei waarvan sy vreeslik baie hou, toe vra sy asseblief nog een.


(Hierdie is 'n kleiner weergawe van hare; ek vir drie vreskillende dogtertjies sulkes gebrei, met ander afwerkings, maar naastenby dieselfde kleure.)

Sy het die wol self uitgesoek, en ek het dit met  7.5mm naalde gebrei.

 

Ek wou nog vir julle wys hoe om dit te doen, maar toe ek weer sien, was dit kant en klaar:( Skryf maar vir my 'n briefie as julle wil weet hoe om 'n poncho van twee gebreide reghoeke te maak!)

 


Ek het twee blomme gehekel, en op speldjies vasgewerk sodat sy dit kan rondskuif, of op iets anders ook kan gebruik.


En hier is tevrede Belinda, knus en warm.



Hou hierdie blog dop- binnekort verskyn hier 'n storie van 'n draak!

08 Mei 2012

Vir my Ouma op haar 90ste verjaardag


Twee Pond vir 'n Droom




Jy staan voor die winkelier met 2 pond in jou hand. 2 Pond! Jy’t nog nooit so baie geld gehad nie.
 “Koop goedjies wat jy nodig het vir die huis,” het jou nuwe man gesê. Nou wonder jy hoeveel jy met twee pond kan koop.
“Antie, het Antie asseblief vir my bietjie meel? Pa is ... siek, en die kinders het vandag nog niks gehad om te eet nie.”
“Pa, het Pa die goedjies gekoop wat ek nog het?” Jy’t hoopvol gevra, maar jy kon die honger ruik aankom in jou pa se suur asem.
“Susie, ek het ‘n paar goedjies gebring.” Jou broers het hulle ontferm, male sonder tal.

Nou staan jy hier, met jou black Maraaias, en nuwe skoene, met jou hart in jou keel en 2 pond in jou hand. Jy vra bietjie suiker. Hoeveel is oor? Die winkelier keer kleingeld uit. 
     “ Koffie, asseblief”. Daar is nog geld oor. 
Jy kan nie somme maak nie, want jy moes uit die skool uit om jou pa en jou jonger sussies te versorg, na jou mammie se dood. Toe ander meisiekinders van jou ouderdom nog hop scotch gespeel het, en onwillig trousseau borduur het.

Netnou sal jy die gordyntjie, wat jou man vir jou in die hoek van julle kamer gespan het, wegtrek om jou karige klere op te hang. Netnou sal jy ʼn tafeldoekie oor die tafel gooi, en die paraffienlamp daarop staanmaak sodat julle julle eerste maaltyd saam kan eet. Jou nuwe skoonma het ʼn mandjie gepak met oorblykos van die bruiloffees.
Jy wonder wat kan jy nog koop. Meel. Bakpoeier. Sê nou jy vergeet iets belangriks?  Jou ma is hemel toe voordat sy jou behoorlik kon leer huishou.

Eendag sal jy jou huishouding met ʼn ysterhand regeer. Jy sal presies weet wat is nodig om ʼn tuiste te skep. Jy sal jou nes keurig veer met verbete vaardigheid. Niemand sal ooit honger van jou tafel af opstaan nie, en nooit weer sal jy hoef te vra vir aalmoese nie.
Oor 'n jaar en 'n half sal jy ʼn dogtertjie ontvang. Jy sal vier jaar van nou af ʼn seuntjie hê, en wanneer hy twee jaar oud is nog ʼn dogtertjie.  
  Jou oudste kind sal gehoorsaam wees, teruggetrokke, stil. Eendag sal jou geliefde skoonseun met die vonkel in sy oë haar tot die donkerste dieptes aftrek. Jy sal magteloos toekyk en doen wat jy kan. Jy sal haar opdra aan jou Here en Hy sal Sy Hand oor haar hou.
Jou seun sal verknog wees aan jou in so ʼn mate dat jy jou nuwe baba op vreemde skote moet laat sit, omdat hy aandring om op joune te sit. Hy sal eendag die mooi rooi en blou lorrie wat sy pa vir hom gekoop het omdat hy ontroosbaar was toe jy in die hospitaal was, in die straat af gooi en skree: “Ek wil nie ʼn donnerse lorrie hê nie, ek wil my ma hê". Maar hy sal groot word, en sy pa se voorbeeld volg, en sy vrou en kinders sal niks kortkom nie. Hy sal jou op jou oudag soos ʼn kleinood oppas.
Jou jongste kind sal eiewys en rebels wees. Sy sal jou en jou man op julle knieë hou, maar anderkant haar stormjare sal sy met ʼn lang man trou wat haar op die hande dra. Jy sal saam met haar huil omdat sy kinderloos is, en saam met haar juig wanneer sy haar hartskinders van ander ma’s ontvang.

Jy knoop nou die kleingeld sorgvuldig in jou sakdoekie toe, en wag vir die stil man met die groot hande en nog groter hart, om jou te kom haal.
      Eendag sal kanker hom verteer, maar jy sal onwrikbaar staan en hom versorg en bystaan met bo-menslike krag, want jou krag sal direk van Bo af kom, en jy sal vir geen oomblik twyfel nie. Jy sal hom afgee aan die Hemelse Vader, maar jy sal hom nooit vergeet nie.

Terwyl julle met ʼn perdekar, minder as twee pond se kruideniersware, en die kis wat jou pa op Ceylon gemaak het, die toekoms inry, sal jou hart juig oor die meetsnoere wat vir jou in lieflike plekke geval het.
 Eendag sal jy sewe kleinkinders hê, en vier agterkleinkinders. Eendag sal jy jou oudste agterkleinkind, kaalvoet sien trou, met ʼn rooi rok aan, in haar ma se tuin.
Eendag sal jy negentig word, met ʼn helder verstand, en goeie gesondheid, en meer mense wat jou liefhet as waarvan jy ooit kon droom. 
En eendag sal die kleindogter wat jou naam met trots en dankbaarheid dra, oor jou ʼn storie skryf.

Album



My Ma se troudag, 1965. Ouma staan heel regs.

By 'n onthaal in 1970/71, saam met my en Oupa

 
 1974/1975

 Op my troudag- 3 September 1988


Met Anzelle, in 1989

 

 Met Anzelle en Stafan, 1993

 My niggie Soreta se troue, 1999
Saam met al die kinders, kleinkinders, en agterkleinkinders. Soreta het ook nou 'n dogtertjie en 'n seuntjie. My neef, Hennie(voor ny die tafel) en niggie, Elize (regs agter) is ook getroud. 
Daar is trouklokkies in die vooruitsig vir my Sus, Thea(3de van links) en niggie Suzanne(regs langs Ouma)
My oom Boet,is heel links), my Ma, San, is links agter Ouma, en tannie Marie skuins agter Suzanne.

Ek en ouma op haar tagtigste verjaardag

Stefan vat Ouma vir 'n dans op my 40ste verjaardag, 3 jaar gelede


 Met Anzelle se trou verlede jaar











06 Mei 2012

Vir my pa op sy sewentigste verjaardag

Pa


Deur die ou alkohol-walms
verby die reuk van te veel sigarette
beur Old Spice
en vars grond


jy op jou ouboet se bitter erfgrond
jy wat genadebrood eet
maar uitdeel,
bly uitdeel wat jy kan


en anderkant wanhoop
duskant moedverloor
groei jy geil wortels
en texas grano
en patats (wat jy nog saamgebring het uit die stad)


tussen al die vergeet van name
en plekke 
en mense wat jy eens geken het
onthou jy al die woorde
van Four Walls
en al die akoorde
van eergister se liedjies
wat draai in jou gedagtes.




My pa het ten spyte van sy eie sabotasie 70 gehaal. Hy het 'n paar jaar terug ophou drink, maar gebruik van tyd tot tyd nog te veel pille en hy rook soos 'n skoorsteen. Sy humorsin het ge heel en al behoue gebly, en hy werk nog soos 'n esel. Ek hoop net die windpompie wat hy  nou al twee jaar lank vir my maak is voor hom klaar!

21 Apr. 2012

Die aap uit die mou



Ek het verlede week belowe ek sal wys waat 'n klomp van my hekelblomme groei. Dit groei hier:




rondom  'n gehekekelde sak




Voor

 
 agter

 Dit het bobbels (ek weet nie of daar so 'n woord in Afrikaans bestaan nie) aan die punte van die toetrek toutjie,








en 'n vrolike voering,

 
 sodat klein goedjies nie uitglip nie.

 Die sak is nou Maritza ('n splinternuwe vriendin) sin. Sy het 'n klein ou dogtertjie met krulhaartjies en blou ogies, Lisa, aan wie hierdie handsakkie nou behoort:



Die handsakkie het 'n geheklede bandjie:






en 'n hartjie-knopie wat dit toehou:





Die voëltjie


 en die blommetjie
 kan afhaal, sodat Lisa dit op 'n truitjie of hoedjie of so-iets ook kan sit.  Dis met sulke klein plastiek speldjies vas:

 

Die speldjies is eintlik steek-merkers maar hulle werk uitstekend vir goedjies op kinders se truitjies of mussies ens. want hulle is onder andere nie skerp nie en hulle maak stewig toe.

Dis dan my storie van vandag. Ek is besig met 'n knippery  en 'n stikkery  en 'n breiery (my stoflap lê verlate in 'n laai en my besem sug in die besemkas)  maar daarvan vertel ek julle volgende week.