29 Nov. 2011

Kyk solank hier


Dit was Saterdag 'n blinkskoon, windstil dag. 



 Die koek was iets uit 'n ander wêreld.


En die kaalvoet bruid die mooiste wat ek nog gesien het. Ja, ja, ek weet dis my dogter- maar lyk dit nie of sy uit 'n skildery ontsnap het nie? 

Hierdie foto's is net 'n voorsmakie- sodra ek almal gekry het sal ek  volledig verslag doen! 







18 Nov. 2011

Ek is nog hier



as iemand my al gemis het. Laasweek het ek en my masjien 'n heerlike dag saam spandeer. My meisiekind hou vreeslik baie van bak en kook, toe besluit ek om vir haar ietsie aan mekaar te slaan:


Die aanhaling wat ek daarop borduur het, kom uit een van haar gunsteling boeke, "Emotionally Weird" deur  Kate Atkinson.


 
 







Voordat julle met my raas, omdat ek afdwaal: 
die trourok is klaar, ek moet nog net 'n paar handwerkies daaraan doen. Ek het vanoggend die nate omgekap, en my baadjie gemaak. 




En gou-gou die res van die voorskootmateriaal omgesoom vir 'n nuwe tafellap.





07 Nov. 2011

Ek voel olik.

Niks ernstigs nie, net 'n nare, gemene somerverkoue wat my neus laat water, my kop wollerig laat voel, en my keel krap. 
Ek nies en hoes en proes. Ek kry koue rillings. Dit voel of my oë vol sand is. Ek verlang na my ma. Daarom gaan ek in die middel van die dag in die bed klim. Want ek het soos die oumense sou sê, ek het 'n paar swak longe aan my, en as die verkoue eers in my bors ingetrek het, is dit nag. Ek gaan sommer nou my slapies aantrek, en 'n pilletjie drink. 

Die katte, die bibmandjie



en 'n koppie tee, en 'n heerlike plaatkoekie wag al vir my. 




29 Okt. 2011

En ek het vir eers die skêr ingegooi.

 Mei-Mei is heel tevrede met die resultate, en het aangedring daarop om haar goedkeuring te wys deur op die foto te verskyn.

Gerdi het vanoggend heeltemaal gelukkig gelyk, toe sy dit douvoordag kom haal het (sy was natuurlik bang ek wil nie hierdie baba's van my en my moeder afteken nie; sy weet baie goed hoe weerloos is ek in my nou- net-wakkergeword toestand).
Dis 'n groot kompliment as sy tevrede is- sy is 'n kwaai vrou as dit by haar man, kinders en haar Mark kom!
Julle kan dan van Donderdag af gaan kyk wat nog alles by haar Hartmark (by die Hervormde kerk in Midstream) te kope is. Ek het ook 'n voëltjie hoor fluit dat daar allerhande heerlikhede by die teetuin beskikbaar sal wees, so niemand hoef met 'n droë keel of 'n grommende maag inkopies te doen nie. As iemand meer wil weet, los vir my 'n boodskappie.

Reën




maak nog altyd 'n baldadige blywees in my wakker. Miskien omdat ek nog nie die plaaskind in my ontgroei het nie. Ek wil huppel en sing, en kaalvoet loop in die reën, my tone in die modder inwoel. Die beste wat ek hier in die stad kan doen is om straataf te plas, broekspype opgerol, met my gesig en hart na bo gedraai.
Na gistraand se buitjie voel dit asof die bietjie stowwerigheid in my gemoed ook sommer weg gewas is. Vandag skyn die son dan ook skoner, en ek voel sommer lus om 'n paar blommetjies in die grond te druk ter voorbereiding van die groot okasie. Maar helaas, dit sal moet wag , want my Lief met die groen vingers het 'n afspraak in die middel van vandag en sonder hom is 'n kwekery net 'n winkel vol plante. Ek het hom nodig as ek blomme koop, met sy kennis en entoesiasme en groot liefde vir dinge wat groei en blom. Ek sal die uitstappie dan bêre vir more, al is dit Sondag. Ek sal my leesdag vandag neem.
Van blomme gepraat. Die ander dag het ek voor my my masjien sit en verlep. Dit was warm. Nee, snikheet warm. Die waaier het tevergeefs probeer. Ek moes my Seuna by die skool gaan haal na sy rekeningkunde vraestel. Vir een keer in my lewe het ek nie omgegee om te ry nie- my kar het mos lugversorging. Met die terugkom sien ek dit toe: 'n vrou wat letterlik stop en die rose ruik. Van een bos na 'n ander draal sy. Lig een roos na 'n ander om daaraan te ruik. In die bloedige hitte, op die sypaadjie. Ek het natuurlik my rose kom ruik toe ek tuiskom, en dieselfde aand nog vir julle my mooiste roosfoto's bymekaar gesit: