30 Jun. 2018

Ete vir een

Ek wik en weeg al lank om Poplap met 'n stoflap te ruste te lê, en met 'n nuwe blog te begin, maar uiteindelik het ek besluit Poplap moet bly. Dis hoe julle my ken en liefhet. En dis hoe nuwe lesers my maar ook kan leer ken. 

Die rede waarom ek 'n verandering oorweeg het is eenvoudig- my lewe het onherroeplik verander. Gereelde lesers sal weet dat ek nou meer skryf as huishou, maar wat julle dalk nie weet nie, is dat ek nou 'n heeltemal leë nes het. 

My jongste kind was tot die begin van die jaar nog in die huis, maar hy werk en woon nou in die lieflike Luxemburg. Vir die van julle wat nie weet waar dit is nie, dis 'n klein landjie, op die wêreldkaart 'n driehoekie tussen Duitsland, België en Frankryk. My moederhart is seer, maar hy is baie gelukkig en daarom is ek ook tevrede.

Boonop het my brombeer (vir die van julle wat my nog nie goed ken nie, dis my man) ook 'n beter pos aanvaar in Duitsland, in dieselfde maatskappy waarvoor hy al jare werk. Daar is net soveel meer geleenthede, en hier in Suid- Afrika het hy die plafon bereik. Ek sien nog nie kans om wortels op te trek aan hierdie kant nie. Ek is lief vir my gekompliseerde land, ek is lief vir my huis, vir my goed, al is dit wêreldsgoed, dis mý wêreldsgoed, en ek is lief vir my hond. Ek is lief vir my familie, en vriende, en al is ek hoé lief vir my man en my seunskind, my noointjieskind en haar wederhalf is hier. So, om 'n lang storie kort te maak, ek kan net so min van hom verwag om hier te bly as wat hy van my kan verwag om saam te gaan. Daar sal ek tog ook dikwels alleen wees, omdat hy steeds baie reis vir sy werk. Dan liewer alleen wees hier, tussen my troosgoed. Ek sal gaan kuier en hy sal kom kuier, en ons sal uitvind hoe so 'n pendelhuwelik werk. Maar vir geen oomblik twyfel ek daaraan dat ons steeds lief vir mekaar sal bly nie.

So, ek het alles agterstevoor om gedoen. In plaas daarvan om 'n werk te kry, vir myself te sorg, te trou en kinders te kry, het ek eers getrou en kinders gekry en grootgemaak, toe die werk, en nou, vir die eerste keer bly ek alleen. Dis 'n aanpassing. Ek het nog nooit net vir myself gesorg nie. Net vir myself gekook en net my eie wasgoed gewas nie. Dis nuut, maar dis nie onaangenaam nie. Ek kan immers eet wat ek wil en wanneer ek wil. En as ek lus is om groot te kook, is my kinders net om die draai, en altyd lus vir hulle ma se kos. Ek hoef ook nie my pasella-sus (my skoonsus) en haar dogter twee keer te nooi nie. En as ek lus is vir bak nooi ek iemand vir tee. 



Ek sal jok as ek sê ek voel nooit eensaam, en selfs 'n bietjie verlate nie. Ek verlang na die breë warm rug waarteen ek kan vaskruip as ek koud of bang voel. Ek verlang na iemand wat vir my flou grappies lag, by wie ek my lot kan bekla, wat laatmiddag saam met my voor die televisie kan sit en springmielies eet. Wag, ek klink nou na te veel na Jak de Priester se Sally Williams Nougat liedjie. Ja, ek verlang. Maar ek vergaan nie van verlange nie. Daarvoor het ek te veel lekker dinge wat ek kan doen. 
Skryf.


 Lees.


Handwerk. 



Ek kan knip en plak en inkleur soos toe ek klein was.





 Ek kan teken en verf en ek kan kaste regpak. En as ek werklik nie weet wat om met myself aan te vang nie, kan ek nog steeds afstof. 

Nou  gaan ek Country klanke op RSG luister, en daarna gaan ek lees tot my oë toeval. 

Groete van huis tot huis. 

Naskrif: Ek het die groot skrif gekies vir hierdie inskrywing, want deesdae moet ek mooi korrel as dit te klein is. Laat weet as dit pla. 

29 Mei 2017

Poplap met 'n laptop

Ek moet eintlik hierdie blog verander van Poplap met 'n stoflap na Poplap met 'n laptop, want  ek skryf nou meer as wat ek skoonmaak. Ek stof natuurlik soms nog af, is nog steeds 'n huisvrou in my diepste wese, maar ons kan alles doen wat ons wil, of hoe? Hoekom kan ek nie 'n huisvrou én 'n skrywer wees nie? Daar is vier en twntig ure in my dag, en ek kan meestal kies hoe ek dit wil spandeer. Ek het nie meer weekliks 'n huishulp nie, ek kry net so elke twee, drie weke iemand om te kom help as dit te rof gaan hier.

Huiswerk is vir my meditasie, en dis ook wanneer ek my stories uitwerk. Wanneer ek voor my skootrekenaar kom sit om te skryf, kan ek net die storie download deur my vingers op die sleutelbord. En wanneer ek vashaak, wanneer dinge nie so lekker wil vlot nie, tel ek my handwerk op en woel met wol en naalde knope in my storie los, en wikkel ek los drade vas.

Daar is nou vier van my eie boeke op my boekrak. Hulle is verkygbaar by die meeste boekwinkels en natuurlik by Lapa.

September maand verskyn die vyfde een, en sy gaan só lyk:


Ek sal later vir julle vertel waaroor die storie gaan. Op die oomblik is ek besig met die bladproewe, en ek brei 'n serp as deel van hierdie inisiatief.
My vorige projekte was natuurlik baie meer opwindend. My niggie het 'n spiksplinternuwe babatjie (goed, nie só nuut nie; sy is vier maande oud, maar bitter klein omdat sy op 32 weke gebore is), en ek het heerlik vir haar en haar driejarige sussie gehekel en gebrei. Hulle het Saterdag aand kom kuier, en ek kon darem kans kry om daardie klein lyfie 'n bietjie vas te hou, en my te verkyk aan die perfekte klein mensie met handjies wat nie een om my vinger kan vat nie. En ek het dunnerige vingers! Sy mag miskien net meer as 4kg weeg, maar sy gesels land en sand, glimlag, en beur orent om die wêreld om haar te beskou. Groot sussie is baie hulpvaardig en gelukkig ook gewillig om drukkies te gee.


Die truitjie sal eers oor 'n rukkie pas. Dis 'n maklike patroon, jy kan dit hier op Ravelry vind. 


Hierdie is my staatmaker mussie patrone. Vind die gehekelde enetjie hier, en die gebreides hier.

 Groot sussie se handsakkie se patroon is hier.




Die trop skapies met hulle verwyderbare jassies was binne in die handsakkie, en jy kan die patroon hier vind. Hulle is groot pret om te brei. Daar bly al vir jare enetjie in een van my boekrakke ook.




Ek sal mettertyd deur my foto's soek, en vir julle wys wat ek nog alles gemaak het vandat ek laas hier geskryf het. Nou moet ek eers terug na my wasgoed op die draad, en Die einde van die storie. As daar enige iets is waaroor jy wonder, los gerus vir my 'n boodskap.

Groete van huis tot huis.




03 Feb. 2016

Ek onthou vandag Floraans



 "And the voices in the waves are always whispering to Florence, in their ceaseless murmuring, of love - of love, eternal and illimitable, not bounded by the confines of this world, or by the end of time, but ranging still, beyond the sea, beyond the sky, to the invisible country far away!"
Charles Dickens

Floraans het nesgemaak in my hart. Toe ek uit die stasie uitstap, oor die straat, was dit tickets. Sy het daar gesit, asof sy nog al die jare vir my wag. Sy het skaars omgekyk net gewink en ek het agter haar aangeloop, betower deur haar skoonheid, haar oudheid, haar sjarme, haar Florence wees.

'n Dag en 'n half was te min in Floraans. Ek dink 'n leeftyd in Floraans sal te min wees. Maar ek was daar, en my Brombeer aan my sy, en die herinneringe sal vir ewig bly.


 Ek onthou :
Die Duomo
 
 en oral beelde 

 Die hangmandjies blomme


Vroegoggend son op 'n plein sonder skares


Uffizi met kamers vol skatte:

 
Skilderye 












tot teen die plafonne

en beelde



 Ete en drinke






en goeie geselskap.


En vir oulaas 'n pub vol boeke.





(Ons het honderde foto's geneem by die Uffizi gallerei, maar jy kan self hier na die kunswerke gaan kyk.)

Ek het nie genoeg oor Floraans gesê nie, ek het nie genoeg woorde nie. Eendag sal ek teruggaan, en baie langer bly. Nie vir altyd nie, maar vir 'n rukkie. En dan sal ek terugkom, en vertel.  

Groete van huis tot huis.

























26 Nov. 2015

Ek dink terug aan Rome: Keats en die Spaanse trappe

Toe ek teruggekom het van Rome af, moes ek dadelik skouer aan die wiel sit en my boek klaar skryf. Dis  uitgewers toe, en gelukkig het Cecilia daarvan gehou. Nou wag ek net vir 'n verslag, sodat ek kan begin oorskryf. Intussen het ek oornag weer in 'n huisvrou verander, en ek bak, slag en karring. Nee, darem net by wyse van spreke. Ek bak en kook, pak reg, skrop en was te heerlik. Hierdie jakkals het miskien van hare verander, maar nie van streke nie. Maar ek dwaal af. Waar was ek nog laas? Ah, Rome ... Vandag vertel ek graag van die Keats en Shelley museum. Onthou jy die Babingtons Teekamer waarvan ek hier vertel het? Hierdie Museum is  aan die ander kant van die Spaanse Trappe, net verby die ingang van die Spagna Metrostasie.


"A thing of beauty is a joy for ever:
Its loveliness increases; it will never
Pass into nothingness; but still will keep
A bower quiet for us, and a sleep
Full of sweet dreams, and health, and quiet breathing."


Die aanhaling is uit die eerste strofe van Keats se Endymion. Uit al sy werk vind ek die meeste aanklank hierby. Dit spreek tot my versugting om mooi dinge om my te hê. 

Die besoek aan die Keats and Shelley House het my besonder diep geraak: dit is die huis waarin Keats op die bitterjong ouderdom van 25 aan tuberkulose oorlede is.

'n Skildery van Keats wat in die museum hang.


Dis 'n indrukwekkende versameling memorabilia, briewe, manuskripte en skilderye van John Keats en Percy Shelley wat te sien is in hierdie onpretensieuse gebou digby die Spaanse trappe. Wordsworth, Robert Browning en Elizabeth Barrett Browing, Oscar Wilde en ander word ook hier verteenwoordig.  





'skuus, my fotografie is bedenklik, maar ek wou die oorspronklike plafonne wys.


Ek sal nie uitbrei op die geskiedenis van die museum nie, gaan lees dit hier. Terug na Keats. Hy het in November 1820 Rome toe gekom in die hoop dat die warmer klimaat sy gesondheid sal verbeter, saam met 'n vriend, Joseph Severn, 'n skilder. Hulle het twee vertrekke in die huis gedeel. Severn het Keats getrou verpleeg,  maar vir Keats was dit te laat. Hy is in Februarie 1821 oorlede.


Wat my terugbring na die Spaanse Trappe. Dis wat Keats elke dag gesien het, uit sy kamer. 

 

Hy was te siek om die res van Rome te ervaar.  Iemand met 'n siel wat skoonheid so kon waardeer ... Hartseer, nie waar nie?



 Hierdie is 'n borsbeeld van Shelley. Sy gedig The Indian Serenade is vir my so mooi. Hier is 'n stukkie daarvan:

-Oh lift me from the grass! I die! I faint! I fail!
Let thy love in kisses rain
On my lips and eyelids pale.
My cheek is cold and white, alas!
My heart beats loud and fast;—
Oh! press it to thine own again,
Where it will break at last. 

Percy Shelley was 'n vrydenker, en het baie kontroversie veroorsaak. Hy en sy gesin het in 1818 na Italië geimmigreer, en hulle het in verskeie stede gewoon. Toe hy hoor van Keats se siekte, het hy hom genooi om by hulle huis in Pisa te kom aansterk, maar Keats en sy versorger en vriend, Sevrn was reeds op pad Rome toe. Hy is baie diep geraak deur Keats se dood. Shelley is net voor sy dertigste verjaardag in 1822 aan die kus van Italië dood.


Ek het lank deur die museum gedwaal, en 'n groter gewydheid ervaar as in baie glorieryke kattedrale. Miskien is dit omdat ek so lief is vir boeke, vir die geskrewe woord. Miskien is dit oor die reuk van hout, of die stilte bo-kant die gedruis op die plein daaronder. Wat die rede ook mag wees, ek is bly ek het die absolute Engelsheid in die middel van Rome ervaar. En natuurlik het ek daarna gaan tee drink om my ervaring alleen te sit en herkou.

Spaanse trappe

Ek is die rooi kolletjie op die trappe. Dit was vroegoggend wat ons daar was, voor die mensemassa daarop toegesak het.


Hierdie monumentale stel van 135 trappe is gebou met fondse wat Franse diplomaat\ Étienne Gueffier in 1723–1725 bewillig het om die Bourbon- Spaanse ambesade en die Trinità dei Monti kerk bo aan die Palazzo Monaldeschi daaronder  te koppel. Die trappe sou oorspronklik na die kerk vernoem word, maar dit is op die ou end vernoem na die plein onder die trappe, Piazza di Spagna, wat so genoem omdat die Spaanse ambassade daar naby was. In die sewentiende eeu was die plein Spaanse gebied.



Gaan soek gerus na beter foto's van die trappe. Daar is baie mooies. Net 'n wenk as jy Rome wil besoek: dit is besig. Ek is op verskillende dae by die trappe verby, en daar is altyd massas mense daarom en daarop. Ons moes soms deur die massa beur om aan die anderkant van die plein uit te kom. Dis 'n nagmerrie vir iemand soos ek wat aan kloustrofobie ly. Vroegoggend is dit ongelooflik stil en vreedsaam, en dis heerlik om Rome te sien wakker word.

Dis my storie vir vandag. Daar is nog baie te sê oor Italië, en ek gaan die volgende paar dae vir julle meer vertel en wys. 

Groete van huis tot huis.