30 Jun. 2018

Ete vir een

Ek wik en weeg al lank om Poplap met 'n stoflap te ruste te lê, en met 'n nuwe blog te begin, maar uiteindelik het ek besluit Poplap moet bly. Dis hoe julle my ken en liefhet. En dis hoe nuwe lesers my maar ook kan leer ken. 

Die rede waarom ek 'n verandering oorweeg het is eenvoudig- my lewe het onherroeplik verander. Gereelde lesers sal weet dat ek nou meer skryf as huishou, maar wat julle dalk nie weet nie, is dat ek nou 'n heeltemal leë nes het. 

My jongste kind was tot die begin van die jaar nog in die huis, maar hy werk en woon nou in die lieflike Luxemburg. Vir die van julle wat nie weet waar dit is nie, dis 'n klein landjie, op die wêreldkaart 'n driehoekie tussen Duitsland, België en Frankryk. My moederhart is seer, maar hy is baie gelukkig en daarom is ek ook tevrede.

Boonop het my brombeer (vir die van julle wat my nog nie goed ken nie, dis my man) ook 'n beter pos aanvaar in Duitsland, in dieselfde maatskappy waarvoor hy al jare werk. Daar is net soveel meer geleenthede, en hier in Suid- Afrika het hy die plafon bereik. Ek sien nog nie kans om wortels op te trek aan hierdie kant nie. Ek is lief vir my gekompliseerde land, ek is lief vir my huis, vir my goed, al is dit wêreldsgoed, dis mý wêreldsgoed, en ek is lief vir my hond. Ek is lief vir my familie, en vriende, en al is ek hoé lief vir my man en my seunskind, my noointjieskind en haar wederhalf is hier. So, om 'n lang storie kort te maak, ek kan net so min van hom verwag om hier te bly as wat hy van my kan verwag om saam te gaan. Daar sal ek tog ook dikwels alleen wees, omdat hy steeds baie reis vir sy werk. Dan liewer alleen wees hier, tussen my troosgoed. Ek sal gaan kuier en hy sal kom kuier, en ons sal uitvind hoe so 'n pendelhuwelik werk. Maar vir geen oomblik twyfel ek daaraan dat ons steeds lief vir mekaar sal bly nie.

So, ek het alles agterstevoor om gedoen. In plaas daarvan om 'n werk te kry, vir myself te sorg, te trou en kinders te kry, het ek eers getrou en kinders gekry en grootgemaak, toe die werk, en nou, vir die eerste keer bly ek alleen. Dis 'n aanpassing. Ek het nog nooit net vir myself gesorg nie. Net vir myself gekook en net my eie wasgoed gewas nie. Dis nuut, maar dis nie onaangenaam nie. Ek kan immers eet wat ek wil en wanneer ek wil. En as ek lus is om groot te kook, is my kinders net om die draai, en altyd lus vir hulle ma se kos. Ek hoef ook nie my pasella-sus (my skoonsus) en haar dogter twee keer te nooi nie. En as ek lus is vir bak nooi ek iemand vir tee. 



Ek sal jok as ek sê ek voel nooit eensaam, en selfs 'n bietjie verlate nie. Ek verlang na die breë warm rug waarteen ek kan vaskruip as ek koud of bang voel. Ek verlang na iemand wat vir my flou grappies lag, by wie ek my lot kan bekla, wat laatmiddag saam met my voor die televisie kan sit en springmielies eet. Wag, ek klink nou na te veel na Jak de Priester se Sally Williams Nougat liedjie. Ja, ek verlang. Maar ek vergaan nie van verlange nie. Daarvoor het ek te veel lekker dinge wat ek kan doen. 
Skryf.


 Lees.


Handwerk. 



Ek kan knip en plak en inkleur soos toe ek klein was.





 Ek kan teken en verf en ek kan kaste regpak. En as ek werklik nie weet wat om met myself aan te vang nie, kan ek nog steeds afstof. 

Nou  gaan ek Country klanke op RSG luister, en daarna gaan ek lees tot my oë toeval. 

Groete van huis tot huis. 

Naskrif: Ek het die groot skrif gekies vir hierdie inskrywing, want deesdae moet ek mooi korrel as dit te klein is. Laat weet as dit pla. 

Geen opmerkings nie: