21 Nov. 2018

'n Perfek geleë hertogdom

My seuna het vir ses maande in Luxemburg gewoon en gewerk, net lank genoeg dat ons nog by hom kon gaan kuier voordat hy teruggetrek het hierheen. Ek is bly hy het 'n goeie ervaring gehad daar in die vreemde, maar ek is baie bly hy is terug.

Luxemburg is 'n beeldskone klein landjie, knus tussen België, Duitsland en Frankryk. Die inwonders praat Duits, Frans en Luxemborgies. Ek was net 'n paar dae daar, so ek kan nie veel sê nie, maar ek het die mense hoflik en geduldig gevind, en daar is 'n rustige vreedsaamheid wat my bekoor, maar wat dalk dié wat opwinding soek, sal verveel.

Luxemburgstad 

Die stad is soos die meeste wêreldstede 'n vermenging van nuut en oud. Die ou deel is deurdrenk duer geskiedenis en die geboue is baie kenmerkend- swart dakke en natuurlike kleure, netjies en statig. 
















Vianden

Ons is vir 'n daguitstappie Vianden toe. Die pad wat ons gery het was op 'n paar plekke senutergend- ons het onder andere deur 'n woud gery op 'n smal paadjie met presies genoeg spasie vir een voertuig. Wat 'n mens doen as daar 'n kar uit die ander rigtig kom weet ek nie. Daar is geen plek om pad te gee nie, die bome is aan weerskante is te naby. Maar ons was blykbaar stoksielalleen op daardie pad. En toe kom ons op die juweel af:



Die dorp lê in 'n vallei langs die rivier.





Ons is met kabelstoele (is dit 'n woord? Dis letterlik twee stoele wat aan 'n kabel opkatrol word) op 


 oor die rivier, oor die hoofweg.

 
                                                                          Op op



na die kasteel. 

 

Ek was beangs, en het met bewerige bene bo afgeklim. Maar dit was die benoudheid werd, want die uitsig van bo af is asemrowend. Ons het daar bo iets geëet en is weer af. Dit was minder skrikwekkend. Veral toe 'n vrou met haar groot hond doodluiters by ons verby ry. Nie die vrou of die hond was bang nie. Hulle het dit duidelik al voorheen gedoen.  Ons het nie 'n foto geneem, nie, want nie ek of my beer is dapper genoeg om onnodig oor te leun nie. 



Ek het eers later gelees daar is 'n museum met geskrifte van Victor Hugo (die skrywer van onder andere Les Miserable en The hunchback of Notre Dame). 

En hier is foto's van my en my beer, ons van ons drie met die pragtige dorpie in die agtergrond.




Image may contain: 3 people, including Stefan van der Merwe and Santie van der Merwe, people smiling, eyeglasses, closeup and outdoor


So as jy nog nie daar was nie, weet jy nou hoe lyk die allerlieflike Luxemburg. Van hier af neem ek julle saam na die stad van liefde. Groete van huis tot huis.







 




20 Nov. 2018

Mymering oor 'n reis

Ek is al lankal terug by die huis, en die herinneringe aan my reis vervaag, maar voordat ek volstoom begin met my nuwe boek, wil ek darem die wonderskoonheid van al die plekke deel.

In die drie weke wat ek weg was, het dit herfs geword in Europa, en toe ek terugkom by die huis was die Lente in volle blom. Die beste van twee wêrelde. Maar tog, in my gedagtes het Koos Doep se Najaar in die vreemde bly speel.
 
https://www.youtube.com/watch?v=s2lmjp4RUKM

Ek geniet dit om my grense vir 'n rukkie te skuif, en ek waardeer die geleenthede wat ek kry, maar my hart hunker baie gou weer na my kinders, my huis, my goed, mý wêreld. Ek sal nooit sê nooit nie, maar kanse dat ek ooit sal wíl emigreeg, is baie skraal. Maar terug na die wondere aan die ander kant van die Atlantiese oseaan (dit is mos die Atlantiese oseaan? Help my reg as ek verkeerd is). Ek sal dit in verskillende posts doen sodat julle nie verveeld raak nie:

Frankfurt

Ek begin met Frankfurt, wat vir my so 'n bietjie soos 'n weeskind voel, omdat dit is waar ons dikwels land, maar voordat ons haar 'n kans gee, vertrek ons na 'n volgende bestemming. Langen, waar my brombeer woon, is 'n klipgooi van Frankfurt af, twintig minute per trein (vir nuwe lesers, dis my beterhelfte, en hy is meer dikwels 'n heuningbeer en 'n knuffelbeer, maar die gromdeel het oorgebly uit ons vroeër jare saam, toe hy so ietwat meer grommig was).
Wat my veral beïndruk het, is hoe kompak Frankfurt vir toeriste is. Die meeste besienswaardighede en winkels val binne 'n 2km radius.

 Die hoofstasiegebou



Römer
Die oudste deel van die stadsaal.


Die ou stad






Natuurlik het ek die Goethe huis besoek. Die enkele jaar wat ek op universiteit was,  het ek Duits geneem en ek was verlief op sy gedigte. Watter sentimentele student word nie deur Erlkönig geroer nie? "Er hält im Armen das ächzende kind, erreichtden hof mit Mühe und Not; ine seinem Armen das Kind war tot."
Die huis waarin hy groot geword het en waarna hy dan ook sporadies teruggekeer het, het nie teleurgestel nie. Dis ongelukkig verwoes in die Tweede Wêreldoorlog, maar dit is  gerestoureer en gemeubileer getrou aan hoe dit voorheen was, en is 'n lieflike voorbeeld van hoe wel-af mense in die agtiende eeu geleef het. (Goethe se pa was 'n regsgeleerde en sy ma was die dogter van 'n burgemeester.)  Ek plaas sommer 'n klomp foto's- miskien is jy net so gefassineer deur ander se huise as wat ek is. 








Hier onder is ek in Goethe se ma se sitkamer:




I'll be mother😉. Die sitkamer:






Eetkamer 



 En natuurlik die biblioteek.


 Ek sou baie graag by hierdie lessenaar wou sit terwyl ek my volgende boek skryf. Met pen op papier, natuurlik.


En die hart van die huis, hoewel ek twyfel of die Goethe familie veel tyd daarin spandeer het.





Die ander verrassing wat Frankfurt vir my ingehou het, was die Städel museum

 

Baie groot name is daar te sien, en daar is 700 jaar se kunsskatte onder een dak te sien. Ek wil my verstout om te sê dat dit my gunsteling museum tot dusver is. Miskien omdat dit stiller was, en miskien daarom  vir my ruimer gevoel het as bv die Rijkmuseum in Amsterdam, Akedemia en Ufiizi in Floraans, en die Vatikaan, Dis asof ek nie net die kunswerke gesien het nie, maar dit in my diepste wese ervaar het. Die ou meesters is daar, onder andere Rembrandt Vermeer, en Botticelli. Dan ook Manet, Monet, Renoir. Van Gogh, Picasso, Matisse. You get the picture (haha). Dis 'n fantastiese museum, en as jy kuns lief het en jou in Frankfurt bevind, gaan kyk. Ek het net 'n paar foto's om te wys. en afgesien van die Monet, kan ek nie die besonderhede onthou nie, ek was net te oorweldig.




( Ek kan myself skop dat ek nie 'n aantekening gemaak het van die kunstenaar nie (dis nie een wat ek ken nie), maar hierdie is vir my een van die mooistes. Dis 'n man wat rustig sit en lees, en ek sou so graag 'n afdruk daarvan in my huis wou hang. Maar ek sal terug Städel toe as ek weer vir my beer gaan kuier, en weer kyk.)



Claude Monet, The Luncheon



Dis Frankfurt soos ek dit onthou. Ek kan ongelukkig nie die geluide en geure weergee nie. Maar ek kan sê is ek hou van die atmosfeer, en ek hou van die kos.

Volgende keer neem ek jou Luxemburg toe. Groete van huis tot huis!


06 Sep. 2018

Briefie uit 'n vreemde land.

Ek kuier by my wandelende beer in Duitsland. Om weer saans agter sy rug in te kruip is hemels. Die dorpie waar hy woon, Langen, is 'n klipgooi van Frankfurt af. Die woonstelletjie waarin hy bly is byna byna te klein vir twee, maar hy is 'n mak beer en ek is tevrede as ek 'n plek het waar ek kan lees en hekel, so ons kom heel goed klaar. Ons het die lieflikste uitsig, en elke kwartier lui die kerkklok.



Laasnag toe ek opstaan om 'n draai te loop, hang die sekelmaan so reg in ons venster, asof sy spesiaal vir my geraam is. Ek het gedink ek gaan haar nooit hier sien nie, met die bewolkte weer en die gebou en bome en so.

Hier onder in die straat is 'n supermark, bakkerye, wegneemeteplekke, restaurante en alles wat ons nodig het, en in die straat af die allerlieflikste wolwinkel, Die Wolstation, dus alles wat ek self nodig het. Die ou deel van die dorpie is 'n prentjie, en oral tuimel blomme uit potte. Ek sal nog meer foto's neem, maar hier is solank 'n paar.





Volgende keer deel ek foto's van Frankfurt. Groete van huis tot huis.

22 Aug. 2018

Alleen maar nie eensaam nie

Dis nou twee maande wat ek alleen is, en ek het gedink dat ek meer tyd sal spandeer om te blog, maar dis ongelooflik hoe alledaagse dinge 'n mens se dag vul. Dit het my nie lank geneem om ten volle in huisvrou rat te kom nie, en ek het heerlik in my huis gewerskaf, en selfs 'n bietjie in die tuin ook. Met niemand wat kos vra nie, kan ek eet wanneer ek lus of honger is, en daar is baie min wasgoed.



Die kosmakery vir een kan nog gaan, hoewel so 'n klein potjie kos maar hartseer lyk, maar ai, net my wasgoed op die draad maak my sommer weëmoedig, om nie van die leë yskas te praat nie. Dit en die leë plek langs my in die bed ... Dis om van te huil. Maar ek doen nie, of ten minste nie te gereeld nie. Dit is baie gerieflik om die hele bed te hê vir al my goeters wat gepaard gaan met my lesery. Die boekies om goed in neer te skryf, die gekleurde vlaggies waarsonder ek moeilik 'n goeie boek lees, die penne en potlode en boeke waarna ander boeke lei. As jy 'n begeesterde leser is sal jy dalk verstaan.

O, en ek baie tyd vir my knutselry.



Ek en my nuwe boek gaan waarskynlik soos skepe in die nag by mekaar verby beweeg. Sy word vroeg in September op die rakke verwag, en ek vlieg volgende week Woensdag Duitsland toe. So sommige van julle sal dalk my baba vashou voordat ek kan. Ek weet nie of ek al hier gewys het hoe haar omslag lyk nie:


Die storie gaan oor die mooie Julia, 'n kunstenaar wat uiteindelik die liefde van haar lewe vind, in haar buurman, Wynand. Maar ongelukkig voel sy hy is haar nie beskore nie, omdat hy kinders het. Haar eie ma is jonk oorlede, en 'n baie afsydige en streng stiefma het haar grootgemaak. Sy het haarself belowe dat sy nooit kinders wil hê nie, en nog minder stiefkinders. Haar stiefma se afsterwe krap ou wonde oop, en sy besef hoe min sy van haar eie ma weet. Sy karring aan haar veel ouer sibbe om meer te wete te kom, maar hulle het dramas van hulle en is nie heeltemal geneë om ou koeie uit die sloot te grawe nie. Intussen besef sy ook dat sy al te vas aan Wynand gegroei het om haarself sommer net van hom los te skeur.

Net om julle geheues te verfris, hier is die ander vyf. Is die ontwerpers wat deur LAPA gebruik word nie wonderlik nie?  My boeke is vir my so mooi.


Terug na my voorgenome reis. Ek gaan by die liefde van my lewe (vir amper 30 jaar al!) kuier, en sommer 'n draai maak by my seuna in Luxemburg. Ons gaan ook 'n vinnige draai in Parys maak, en ek sien verskriklik uit daarna om brood en kaas en wyn  in 'n park of langs die rivier te eet, koffie te drink en macaroons te eet, en sommer net die stad te ervaar. Dan is (die gekke) koning Ludwig II se feetjiekasteel Neuscwanstein ook op die agenda, veral nadat ek 'n boek oor Oorstenrykse koningin Sisi wat sy niggie was, gelees het. Verder gaan ek net die tyd saam met my man geniet.

As ek terugkom beplan ek om met nuwe ywer aan 'n nuwe boek te begin werk. Die konsep is daar, en die karakters het aangemeld en ek sien baie uit daarna om meer oor hulle te wete te kom.

Ek hoop jy doen ook gereeld iets wat jou hart laat huppel. As jy vir my aanbevelings het vir Parys, los asseblief kommentaar. Ons is net vir so drie dae daar. In Duitsland bly ons naby Frankfurt, so enige aanbevelings in daardie omgewing sal ook waardeer word.

Groete van huis tot huis.