Dis nou twee maande wat ek alleen is, en ek het gedink dat ek meer tyd sal spandeer om te blog, maar dis ongelooflik hoe alledaagse dinge 'n mens se dag vul. Dit het my nie lank geneem om ten volle in huisvrou rat te kom nie, en ek het heerlik in my huis gewerskaf, en selfs 'n bietjie in die tuin ook. Met niemand wat kos vra nie, kan ek eet wanneer ek lus of honger is, en daar is baie min wasgoed.
Die kosmakery vir een kan nog gaan, hoewel so 'n klein potjie kos maar hartseer lyk, maar ai, net my wasgoed op die draad maak my sommer weëmoedig, om nie van die leë yskas te praat nie. Dit en die leë plek langs my in die bed ... Dis om van te huil. Maar ek doen nie, of ten minste nie te gereeld nie. Dit is baie gerieflik om die hele bed te hê vir al my goeters wat gepaard gaan met my lesery. Die boekies om goed in neer te skryf, die gekleurde vlaggies waarsonder ek moeilik 'n goeie boek lees, die penne en potlode en boeke waarna ander boeke lei. As jy 'n begeesterde leser is sal jy dalk verstaan.
O, en ek baie tyd vir my knutselry.
Ek en my nuwe boek gaan waarskynlik soos skepe in die nag by mekaar verby beweeg. Sy word vroeg in September op die rakke verwag, en ek vlieg volgende week Woensdag Duitsland toe. So sommige van julle sal dalk my baba vashou voordat ek kan. Ek weet nie of ek al hier gewys het hoe haar omslag lyk nie:
Die storie gaan oor die mooie Julia, 'n kunstenaar wat uiteindelik die liefde van haar lewe vind, in haar buurman, Wynand. Maar ongelukkig voel sy hy is haar nie beskore nie, omdat hy kinders het. Haar eie ma is jonk oorlede, en 'n baie afsydige en streng stiefma het haar grootgemaak. Sy het haarself belowe dat sy nooit kinders wil hê nie, en nog minder stiefkinders. Haar stiefma se afsterwe krap ou wonde oop, en sy besef hoe min sy van haar eie ma weet. Sy karring aan haar veel ouer sibbe om meer te wete te kom, maar hulle het dramas van hulle en is nie heeltemal geneë om ou koeie uit die sloot te grawe nie. Intussen besef sy ook dat sy al te vas aan Wynand gegroei het om haarself sommer net van hom los te skeur.
Net om julle geheues te verfris, hier is die ander vyf. Is die ontwerpers wat deur LAPA gebruik word nie wonderlik nie? My boeke is vir my so mooi.
Terug na my voorgenome reis. Ek gaan by die liefde van my lewe (vir amper 30 jaar al!) kuier, en sommer 'n draai maak by my seuna in Luxemburg. Ons gaan ook 'n vinnige draai in Parys maak, en ek sien verskriklik uit daarna om brood en kaas en wyn in 'n park of langs die rivier te eet, koffie te drink en macaroons te eet, en sommer net die stad te ervaar. Dan is (die gekke) koning Ludwig II se feetjiekasteel Neuscwanstein ook op die agenda, veral nadat ek 'n boek oor Oorstenrykse koningin Sisi wat sy niggie was, gelees het. Verder gaan ek net die tyd saam met my man geniet.
As ek terugkom beplan ek om met nuwe ywer aan 'n nuwe boek te begin werk. Die konsep is daar, en die karakters het aangemeld en ek sien baie uit daarna om meer oor hulle te wete te kom.
Ek hoop jy doen ook gereeld iets wat jou hart laat huppel. As jy vir my aanbevelings het vir Parys, los asseblief kommentaar. Ons is net vir so drie dae daar. In Duitsland bly ons naby Frankfurt, so enige aanbevelings in daardie omgewing sal ook waardeer word.
Groete van huis tot huis.
2 opmerkings:
Van al die skrywers in LAPA se stal is jou boekomslae die heel mooiste. So is manlief oorsee vir werk dat jy so alleen is klink dit my? Die deportation memorial agter die Notre Dame is die een plek in Parys wat my bybly ten spyte van al die ander wonderlike goed om te sien.
Baie dankie, dis 'n groot kompliment. Ek wil hulle nog almal raam en teen my knutselkamer se muur hang. Ja, manlief werk in Duitsland, maar ek sien nie kans om saam te trek nie. Nou kuier ons maar so oor die groot blou see.
Plaas 'n opmerking