29 Okt. 2011

Reën




maak nog altyd 'n baldadige blywees in my wakker. Miskien omdat ek nog nie die plaaskind in my ontgroei het nie. Ek wil huppel en sing, en kaalvoet loop in die reën, my tone in die modder inwoel. Die beste wat ek hier in die stad kan doen is om straataf te plas, broekspype opgerol, met my gesig en hart na bo gedraai.
Na gistraand se buitjie voel dit asof die bietjie stowwerigheid in my gemoed ook sommer weg gewas is. Vandag skyn die son dan ook skoner, en ek voel sommer lus om 'n paar blommetjies in die grond te druk ter voorbereiding van die groot okasie. Maar helaas, dit sal moet wag , want my Lief met die groen vingers het 'n afspraak in die middel van vandag en sonder hom is 'n kwekery net 'n winkel vol plante. Ek het hom nodig as ek blomme koop, met sy kennis en entoesiasme en groot liefde vir dinge wat groei en blom. Ek sal die uitstappie dan bêre vir more, al is dit Sondag. Ek sal my leesdag vandag neem.
Van blomme gepraat. Die ander dag het ek voor my my masjien sit en verlep. Dit was warm. Nee, snikheet warm. Die waaier het tevergeefs probeer. Ek moes my Seuna by die skool gaan haal na sy rekeningkunde vraestel. Vir een keer in my lewe het ek nie omgegee om te ry nie- my kar het mos lugversorging. Met die terugkom sien ek dit toe: 'n vrou wat letterlik stop en die rose ruik. Van een bos na 'n ander draal sy. Lig een roos na 'n ander om daaraan te ruik. In die bloedige hitte, op die sypaadjie. Ek het natuurlik my rose kom ruik toe ek tuiskom, en dieselfde aand nog vir julle my mooiste roosfoto's bymekaar gesit:

Geen opmerkings nie: