09 Mrt. 2012

5 Dinge

1) Ek kan lekkerder kos maak as die meeste restaurante. Ja ek weet dis nie vreeslik beskeie om dit te noem nie, maar hierdie is 'n eerlike blog, en feite is feite.


(hierdie is gort risotto met geroosterde groente, pampoensaad en feta.)

Maar ek hou nog steeds daarvan om te gaan uiteet, want
a) dan hoef ek nie agterna op te ruim nie en
b) my man moet bly sit terwyl ons wag vir ons kos, want hy kan nie by Mimmo's of by die Spur gou gaan bossies uittrek, of 'n stuk hout gaan saag nie.

2) Ek sukkel om my aandag by een ding te bepaal. Op enige gegewe tydstip het ek
-  breiwerk, hekelwerk, borduurwerk en masjienwerk. Soms selfs meer as een projek in elke kategorie. 
-  minstens 10 kortverhale in wording, en twee halfgeskryfde boeke.
- 'n hoop boeke in my bedkassie wat ek gelyktydig lees.


 My bedkassie op die oomblik
3)Ek hou van notaboeke, en ek skryf daagliks allerhande dinge neer. Ek het o.a.

-'n Joernaal waarin ek goed skryf wat ek kan lees as ek oud is, of as ek wonder waar is die tyd heen.
-'n Boekie waarin ek aanhalings neerskryf, en stukkies uit boeke wat vir my treffend is. Ek het al 'n paar volgeskryf.

-'n Dankbaarheidjoernaal waarin ek my seëninge tel.

-'n Notaboek waarin ek enigeiets skryf wat in my kop kom. Soms is dit wroeginge, soms net onsamehangende gedagtes, sommer enige-iets wat in my kop kom. Dis soort van terapie. Ek het al 'n hele bondel daarvan. Dis saam vasgebind met 'n nota daarop wat se moenie lees nie, verbrand. En ek weet enige-iemand wat dit waag om dit te lees sal nooit weer dieselfde wees nie.

-'n Boekie waarin ek my vreemde drome neerskryf, maar ek doen dit nie so gereeld nie. Toe ek klein was het my oupa Thys elke liewe oggend vir my gevra wat het ek gedroom. Dan vertel hy vir my wat het hy gedroom, ook.
My drome is, wel,  plain weird. Dis beter om dit neer te skryf as om ander mense daarmee te verveel. Die enigste persone wie ek ken wat lyk of hulle dit wil hoor, is pasella sus Stephanie, en my sussie, Doortjie! My man en dogter verduur dit gelate.  My seun rol sy oë en sê 'Ag vader tog' en verklaar my dan, (kenner op die gebied van die menslike psige wat hy is), as ek klaar vertel het, as 'severely disturbed'.  

-'n Lysieboek waarin ek goed opskryf wat ek moet doen.

-'n Luukse boekie vir gedigte wat vir my mooi is.

En ek dink ek kort 'n boekie waarin ek kan opskryf waarvoor al die boekies is (grappie).


 My skryfboeke

 4) Al die grimering wat besit pas in die een laai. (My liewe vriendin Elsie was erg verbaas hieroor, en toe ek ander daaroor uitvra, het ek besef ek is redelik uniek wat dit aanbetref. Ek vermoed my sus se mooimaakgoed wat sy in haar handsak met haar saamdra, sal nie eers daarin pas nie.)


 My grimering

5) Soms gaan daar weke om wat hierdie poplap nie naby 'n stoflap kom nie. Want ek raak maklik hierin verlore:






Watter 5 dinge oor jouself wil jy met my deel? Toe, ons is almal vriende hier- vertel maar!

4 opmerkings:

Anoniem het gesê...

5 Dinge oor myself:

1)Ek het hopeloos te veel grimering, wat in my hopeloos te veel handsakke moet pas. Saam al die ander baie dinge in my handsak. Vir ingeval ek iewers gestrand is & iets nodig het. Dan het ek dit byderhand in my handsak.
2) Ek het 'n "issue" oor al my drome wat ek droom. En ja dit is die snaakste drome, maar dis maar 'n familie kwaal.
3) Ek leef my totaal & al in, in my musiek. Dis wat veroorsaak dat ek totaal & al te veel cd's het.
4) Ek is totaal & al verslaaf aan resepte boeke. Dink dis moontlik net ek & my Ousus wat resepte boeke uitneem net om te lees. En dan ons die resepte waarvan ons hou op ons eie manier, & glad nie soos wat die in die boek is nie. Maar ek is tans besig om my verslawing te probeer oorwin. Ek het 'n Engel mens in my lewe, wat my 'n skei saak belowe het voor daar nog 'n troue is, as ek met nog een resepte boek by die huis aan kom.
5) En die belangrikste punt. Ek het die beste familie & vriende in die lewe. Dis die mense wat my gemaak het in die persoon wat ek vandag is.

Elsie het gesê...

1) Ek is mal oor vroumensgoeters. Ek het 'n groot laai vol grimeering, allerande kostuumjuwele en baie, baie skoene.
2) Ek ry amper altyd te vinnig. Ek bestuur soos 'n man en hou daarvan om tussen die verkeer deur te vleg, maar ek dink darm ek ry veilig, was nog nooit in 'n ongeluk nie.
3) Boeke- ek lees alles wat voorkom, ek is 'n kompulsiewe leser. Ek lees tot al die "small's" in die koerantjie, en ook somme klomp boeke tergelyk.
4) Ek hou heeltemal te veel van kos. Kos en rooiwyn! Ek is mal oor kook maar my lyf stem nie met my saam nie. Ek wou nog altyd een of ander shef-kurses gaan doen maar ek is bevrees dan gaan ek eers lekker stoel...
5) Wel... van skool af kan ek glad nie spel nie. Nou het ek maar vrede gemaak met die ou swakheidjie en liewer my talente onder 'n ander emmer gaan soek.Dit was toe ook nie onder die handwerkemmer te vinde nie, ek kan myself kwalik daar help en O, die geduld...Nou hou die skoenmaker haar liewer by haar leus en doen die een ding wat ek wel goed kan doen... ek is net maar myself.

Santie het gesê...

Eendag wou ek 'n snesie uit my sussie se handsak haal, toe spring daar 'n meerkat uit. Of was dit 'n Muis? LOL
Elsie, ja, jou spelling laat my nog altyd glimlag. Maar 'n mens verstaan presies wat jy bedoel, so wat maak dit nou eintlik saak?
Julle twee sal (my sussie en Elsie) sal mekaar 'n goeie 'go' gee as ons moet kyk wie het die meeste mooimaakgoed. Regte kraaie met al die blinkgoed. Maar julle is altwee uitstekende voorbeelde vir 'n slonskous soos ek...altyd pragtig versorg, met 'n glimlag daarby!

Anoniem het gesê...
Hierdie opmerking is deur 'n blogadministrateur verwyder.