04 Jun. 2012

Ek pleit lui

Ek het lank laas met julle gesels. Sien, 'n blog inskrywing behels :
 1) iets om met julle te deel
2) die regte woorde daarvoor
3) en foto's om dit meer opwindend te maak

Met die iets om met julle te deel, het ek geen probleem nie- as daar niks besonders in my lewe gebeur het nie, is daar altyd my ewige wol-woelinge.
 Die regte woorde is ook nie 'n probleem nie. Daar warrel altyd woorde deur my kop, en ek moet net die regtes vang.
Foto's, daarenteen, kan soms so bietjie van 'n tameletjie wees. Sien, ek gebruik my seunskind se kamera (ek het nog nie my eie nie!) want dit is maklik om te gebruik, en lê sommer hier rond, reg vir die gryp, en kliek. Ons kamera, dis nou myne en my Brombeer sin, moet egter sorgvuldig gebêre word na gebruik, en dan weer met ewe veel sorg opgediep word as ek wil foto's neem. Te veel moeite, dus. So, as my seunskind se kamera nou gerieflik binne bereik is, en as die batereie gelaai is, neem ek na hartelus amateur-agtige foto's om vir julle te wys wat gaan aan in my kolletjie son. Die groot uitdaging nou is om die foto's af te laai en blog- vriendelik te maak, en dan die regte woorde te vind. En dit is presies waar my inherente luiheid die stok in die speke is.

Maar hier is ek nou, met al die vereistes van 'n nuwe inskrywing:

Belinda se Poncho

Belinda is my pasella-sus, Stephanie se dogtertjie, en dis heerlik om vir haar iets te brei. 'n Paar jaar gelede het ek vir haar 'n veelkleurige poncho gebrei waarvan sy vreeslik baie hou, toe vra sy asseblief nog een.


(Hierdie is 'n kleiner weergawe van hare; ek vir drie vreskillende dogtertjies sulkes gebrei, met ander afwerkings, maar naastenby dieselfde kleure.)

Sy het die wol self uitgesoek, en ek het dit met  7.5mm naalde gebrei.

 

Ek wou nog vir julle wys hoe om dit te doen, maar toe ek weer sien, was dit kant en klaar:( Skryf maar vir my 'n briefie as julle wil weet hoe om 'n poncho van twee gebreide reghoeke te maak!)

 


Ek het twee blomme gehekel, en op speldjies vasgewerk sodat sy dit kan rondskuif, of op iets anders ook kan gebruik.


En hier is tevrede Belinda, knus en warm.



Hou hierdie blog dop- binnekort verskyn hier 'n storie van 'n draak!

2 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Santie

sal jy graag die patroon gee vir die gebreide poncho

groete

Santie het gesê...

Ek sal in my argiewe moet delf vir die patroon, ek brei dit al so lank, ek weet nie meer waar ek dit gekry het nie- dit bestaan uit twee reghoeke, wat dan kort kant aan die ander een se lang kant vasgewerk word. Maar ek sal soek vir die patroon, en die skakel plaas.