26 Jul. 2013

Herinneringe aan Praag

My huishouding gaan aan asof ek nooit weg was nie. Ek is weer geabsorbeer in die alledaagse takies van huisvrou wees; ek het hope naaldwerkprojekte aangepak, sommige klaargemaak, ander weer laat vaar, soos gewoonlik. Ek het 'n hoop boeke gelees, en ek is amper klaar met die oorskryf van my eie boek. Niks het verander nie. Behalwe ek.
Ek het nie maerder geword, of gryser, of slimmer of wyser nie. Uiterlik lyk ek nog soos altyd. Maar ek is nie meer heeltemal dieselfde nie.
Want ek het vir 'n maand lank soggens wakker geword en by die venster uitgekyk, oor Praag.



Ek het in Winceslas Square afgestap



met die Museum as baken,



afgedwaal, betower deur gebou op ou gebou,







en nie geweet watter wonders ek sou vind nie.









Nou sit ek in my bed, en sif deur alles wat ek nog vir die wye wêreld wil wys, maar ek weet daar is soveel wat ek nie kan deel nie nie. Nie die geur van Trdelník nie, 


of die weemoed van 'n treklavier laataand, as dit nog lig is nie.

 Al wat ek kan doen is om my onthou soos 'n kleinood te koester, en te wens dat daar vir elkeen wat my skrywery lees, sy eie 'Praag' sal wees...



Geen opmerkings nie: