29 Mei 2017

Poplap met 'n laptop

Ek moet eintlik hierdie blog verander van Poplap met 'n stoflap na Poplap met 'n laptop, want  ek skryf nou meer as wat ek skoonmaak. Ek stof natuurlik soms nog af, is nog steeds 'n huisvrou in my diepste wese, maar ons kan alles doen wat ons wil, of hoe? Hoekom kan ek nie 'n huisvrou én 'n skrywer wees nie? Daar is vier en twntig ure in my dag, en ek kan meestal kies hoe ek dit wil spandeer. Ek het nie meer weekliks 'n huishulp nie, ek kry net so elke twee, drie weke iemand om te kom help as dit te rof gaan hier.

Huiswerk is vir my meditasie, en dis ook wanneer ek my stories uitwerk. Wanneer ek voor my skootrekenaar kom sit om te skryf, kan ek net die storie download deur my vingers op die sleutelbord. En wanneer ek vashaak, wanneer dinge nie so lekker wil vlot nie, tel ek my handwerk op en woel met wol en naalde knope in my storie los, en wikkel ek los drade vas.

Daar is nou vier van my eie boeke op my boekrak. Hulle is verkygbaar by die meeste boekwinkels en natuurlik by Lapa.

September maand verskyn die vyfde een, en sy gaan só lyk:


Ek sal later vir julle vertel waaroor die storie gaan. Op die oomblik is ek besig met die bladproewe, en ek brei 'n serp as deel van hierdie inisiatief.
My vorige projekte was natuurlik baie meer opwindend. My niggie het 'n spiksplinternuwe babatjie (goed, nie só nuut nie; sy is vier maande oud, maar bitter klein omdat sy op 32 weke gebore is), en ek het heerlik vir haar en haar driejarige sussie gehekel en gebrei. Hulle het Saterdag aand kom kuier, en ek kon darem kans kry om daardie klein lyfie 'n bietjie vas te hou, en my te verkyk aan die perfekte klein mensie met handjies wat nie een om my vinger kan vat nie. En ek het dunnerige vingers! Sy mag miskien net meer as 4kg weeg, maar sy gesels land en sand, glimlag, en beur orent om die wêreld om haar te beskou. Groot sussie is baie hulpvaardig en gelukkig ook gewillig om drukkies te gee.


Die truitjie sal eers oor 'n rukkie pas. Dis 'n maklike patroon, jy kan dit hier op Ravelry vind. 


Hierdie is my staatmaker mussie patrone. Vind die gehekelde enetjie hier, en die gebreides hier.

 Groot sussie se handsakkie se patroon is hier.




Die trop skapies met hulle verwyderbare jassies was binne in die handsakkie, en jy kan die patroon hier vind. Hulle is groot pret om te brei. Daar bly al vir jare enetjie in een van my boekrakke ook.




Ek sal mettertyd deur my foto's soek, en vir julle wys wat ek nog alles gemaak het vandat ek laas hier geskryf het. Nou moet ek eers terug na my wasgoed op die draad, en Die einde van die storie. As daar enige iets is waaroor jy wonder, los gerus vir my 'n boodskap.

Groete van huis tot huis.




3 opmerkings:

amandacl het gesê...

Watter ongelooflike voorreg om grotendeels te besluit hoe ons 'n dag gaan inkleur, Santie. Nie almal nie, maar darem 'n klompie van my dae verloop ook so, afhangende of my werk kom inmeng of nie!

Sien geweldig uit na jou volgende boek.

On two chairs het gesê...

Santie

Hoe verlang ek na ons kuiertjies met 'n pot tee in jou rooi sitkamer en natuurlik Swartwoud koek. Ek sal wat wil gee om dit net nog eenkeer te kon doen. Toe ons in SA was het ek gekies om my ousus te gaan opsoek, sy is bloed van my bloed, eerder as vir jou. Ons tyd was baie beperk. Grootste fout wat ek daardie dag gemaak het.... Ek moes jou gaan sien want nou besef ek dat bloed familie, slegs dit is... Hoe is die ou gesegde, jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Meer as dertig jaar terug het jy my gekies, letterlik! Ek verlang so na ons gesprekke, jou wysheid en raad. Jy ken my en my drome vandat ons jong kinders was...

Vriendin, jy is altyd in my hart en gedagtes! Ek is so trots op jou....jou drome het waar geword, Santie die skryfster!

Mis jou baie hier in die verte
S

Anoniem het gesê...

Wat ‘n motivering! Die diertjies met jassies is kuns skatte. Mevroutjie, u is ‘n inspirasie vir die hedendaagse lui dogter vir wie Huishoukunde’ ‘n vloekwoord is. U kombersies asook koeke ens is verruklik. Dis moeilik om te glo u doen dit alles en kon nog ‘n remenaar bemeester en ‘n bekende skryfster word! Baie baie geluk. Ek sal wou sien dat U raad in die skool sylaapis geinkorpureer word.