06 Sep. 2018

Briefie uit 'n vreemde land.

Ek kuier by my wandelende beer in Duitsland. Om weer saans agter sy rug in te kruip is hemels. Die dorpie waar hy woon, Langen, is 'n klipgooi van Frankfurt af. Die woonstelletjie waarin hy bly is byna byna te klein vir twee, maar hy is 'n mak beer en ek is tevrede as ek 'n plek het waar ek kan lees en hekel, so ons kom heel goed klaar. Ons het die lieflikste uitsig, en elke kwartier lui die kerkklok.



Laasnag toe ek opstaan om 'n draai te loop, hang die sekelmaan so reg in ons venster, asof sy spesiaal vir my geraam is. Ek het gedink ek gaan haar nooit hier sien nie, met die bewolkte weer en die gebou en bome en so.

Hier onder in die straat is 'n supermark, bakkerye, wegneemeteplekke, restaurante en alles wat ons nodig het, en in die straat af die allerlieflikste wolwinkel, Die Wolstation, dus alles wat ek self nodig het. Die ou deel van die dorpie is 'n prentjie, en oral tuimel blomme uit potte. Ek sal nog meer foto's neem, maar hier is solank 'n paar.





Volgende keer deel ek foto's van Frankfurt. Groete van huis tot huis.

Geen opmerkings nie: