20 Nov. 2018

Mymering oor 'n reis

Ek is al lankal terug by die huis, en die herinneringe aan my reis vervaag, maar voordat ek volstoom begin met my nuwe boek, wil ek darem die wonderskoonheid van al die plekke deel.

In die drie weke wat ek weg was, het dit herfs geword in Europa, en toe ek terugkom by die huis was die Lente in volle blom. Die beste van twee wêrelde. Maar tog, in my gedagtes het Koos Doep se Najaar in die vreemde bly speel.
 
https://www.youtube.com/watch?v=s2lmjp4RUKM

Ek geniet dit om my grense vir 'n rukkie te skuif, en ek waardeer die geleenthede wat ek kry, maar my hart hunker baie gou weer na my kinders, my huis, my goed, mý wêreld. Ek sal nooit sê nooit nie, maar kanse dat ek ooit sal wíl emigreeg, is baie skraal. Maar terug na die wondere aan die ander kant van die Atlantiese oseaan (dit is mos die Atlantiese oseaan? Help my reg as ek verkeerd is). Ek sal dit in verskillende posts doen sodat julle nie verveeld raak nie:

Frankfurt

Ek begin met Frankfurt, wat vir my so 'n bietjie soos 'n weeskind voel, omdat dit is waar ons dikwels land, maar voordat ons haar 'n kans gee, vertrek ons na 'n volgende bestemming. Langen, waar my brombeer woon, is 'n klipgooi van Frankfurt af, twintig minute per trein (vir nuwe lesers, dis my beterhelfte, en hy is meer dikwels 'n heuningbeer en 'n knuffelbeer, maar die gromdeel het oorgebly uit ons vroeër jare saam, toe hy so ietwat meer grommig was).
Wat my veral beïndruk het, is hoe kompak Frankfurt vir toeriste is. Die meeste besienswaardighede en winkels val binne 'n 2km radius.

 Die hoofstasiegebou



Römer
Die oudste deel van die stadsaal.


Die ou stad






Natuurlik het ek die Goethe huis besoek. Die enkele jaar wat ek op universiteit was,  het ek Duits geneem en ek was verlief op sy gedigte. Watter sentimentele student word nie deur Erlkönig geroer nie? "Er hält im Armen das ächzende kind, erreichtden hof mit Mühe und Not; ine seinem Armen das Kind war tot."
Die huis waarin hy groot geword het en waarna hy dan ook sporadies teruggekeer het, het nie teleurgestel nie. Dis ongelukkig verwoes in die Tweede Wêreldoorlog, maar dit is  gerestoureer en gemeubileer getrou aan hoe dit voorheen was, en is 'n lieflike voorbeeld van hoe wel-af mense in die agtiende eeu geleef het. (Goethe se pa was 'n regsgeleerde en sy ma was die dogter van 'n burgemeester.)  Ek plaas sommer 'n klomp foto's- miskien is jy net so gefassineer deur ander se huise as wat ek is. 








Hier onder is ek in Goethe se ma se sitkamer:




I'll be mother😉. Die sitkamer:






Eetkamer 



 En natuurlik die biblioteek.


 Ek sou baie graag by hierdie lessenaar wou sit terwyl ek my volgende boek skryf. Met pen op papier, natuurlik.


En die hart van die huis, hoewel ek twyfel of die Goethe familie veel tyd daarin spandeer het.





Die ander verrassing wat Frankfurt vir my ingehou het, was die Städel museum

 

Baie groot name is daar te sien, en daar is 700 jaar se kunsskatte onder een dak te sien. Ek wil my verstout om te sê dat dit my gunsteling museum tot dusver is. Miskien omdat dit stiller was, en miskien daarom  vir my ruimer gevoel het as bv die Rijkmuseum in Amsterdam, Akedemia en Ufiizi in Floraans, en die Vatikaan, Dis asof ek nie net die kunswerke gesien het nie, maar dit in my diepste wese ervaar het. Die ou meesters is daar, onder andere Rembrandt Vermeer, en Botticelli. Dan ook Manet, Monet, Renoir. Van Gogh, Picasso, Matisse. You get the picture (haha). Dis 'n fantastiese museum, en as jy kuns lief het en jou in Frankfurt bevind, gaan kyk. Ek het net 'n paar foto's om te wys. en afgesien van die Monet, kan ek nie die besonderhede onthou nie, ek was net te oorweldig.




( Ek kan myself skop dat ek nie 'n aantekening gemaak het van die kunstenaar nie (dis nie een wat ek ken nie), maar hierdie is vir my een van die mooistes. Dis 'n man wat rustig sit en lees, en ek sou so graag 'n afdruk daarvan in my huis wou hang. Maar ek sal terug Städel toe as ek weer vir my beer gaan kuier, en weer kyk.)



Claude Monet, The Luncheon



Dis Frankfurt soos ek dit onthou. Ek kan ongelukkig nie die geluide en geure weergee nie. Maar ek kan sê is ek hou van die atmosfeer, en ek hou van die kos.

Volgende keer neem ek jou Luxemburg toe. Groete van huis tot huis!


Geen opmerkings nie: