16 Jan. 2013

Ou dinge in 'n nuwe jaar


Julle het seker gedink ek het die stoflap ingegooi, op my besem geklim en gegaan. Ek het so lanklaas iets geskryf! Die laaste paar maande van 2012 was vir my so 'n effense beproewing, want sien, ek het my lang toon gebreek nadat ek in die donker in die kis by die voetenend van ons bed vasgeloop het.


Sien, die een. So 'n geelhout kis van Brombeer se voorgeslagte af.

Ek het dadelik geweet dis nie sommer 'n ou stampie nie. My tone het somer so skuins gestaan, weg van die groottoon af. Die x-strale het dit bevestig. Die toon is mors af, nie net gekraak nie. Dit het te naar gelyk. Kyk hier.  (Net nie op jou nugter maag nie.)
 
 


 Dit was BAIE seer. Dit was blou tot op my voetsool. Kompleet gelyk asof ek in moerbeie getrap het. Die foto's is eers 'n week of twee later geneem.  Kan niks daaraan doen nie, net vasdraai aan die toon langsaan, en so min moontlik gewig daarop sit. Soos julle almal teen die tyd seker vermoed, hierdie poplap is nie baie lig nie nie, en sit nie graag stil nie.
Ses weke het die dokter wat toe op diens was, gesê. Agt weke later gaan huil ek toe by my eie dokter. Ek is het 'n pyn in die toon! Nog steeds! Dis al twee maande! Sy laat neem weer x-stale- dit heg, maar stadig. Geduld, sê sy, is wat ek moet hê, en gee simpatiek vir my nog 'n paar pynpilletjies. Wat nie werk nie.
Maar geduld was toe die antwoord, want ek kan uiteindelik sê, nou, na meer as tien weke, voel dit beter. Die toon lyk nog soos 'n chipolata worsie, maar darem 'n bleke, nie 'n bloue nie. Ek kan met my vol gewig daarop trap sonder om te gil, maar ek kan nog nie strek nie. Vir hoë goed roep ek maar my Seuna, of Brombeer, wat darem nog hier rond is, en heel gewillig is.

Maar net om die treurmare op 'n vroliker noot af te sluit: Kyk wat het ek alles gehekel terwyl ek so rondgesit het.


Dis die bommetjies wat my badkamergordyn geword het. Seuna vind dit hartseer dat ek soveel moeite gedoen het. Hy sê ek moes nie. 'Moeder', sê hy, ' u moes moes nie. Regtig nie'.
Ounooi, wat darem gespaar is van die gebruik van die badkamer sedert sy haar eie nessie het, sê "geen kommentaar".  Ek dink sy is oorweldig deur die absolute baldadigheid van 'n blomgordyn. Ek het die patroon hier gekry.



Verder het ek 'n stel lappies gehekel om onder warm borde op my tafel te sit. Ek het dit met 'n dubbel draad gehekel, ongelukkig uit my kop uit.


Toe het ek vir my 'n katoen truitjie gehekel, uit hierdie boek. Die knope is nog nie aangewerk nie, en die inspekteur is nog nie heeltemal tevrede nie:


Tussendeur het ek in November 'n boek geskryf.   Ek het deelgeneem aan die jaarlikse uitdaging om 'n boek van 50 000 woorde in November te skryf. Dit was 'n ervaring- om te sien dat dit heeltemal moontlik is (teen ongeveer 1600 woorde per dag, wat my so tussen 'n uur en twee ure neem), en om deur al die prosesse te gaan om 'n storie op papier te kry. Uiteindelik het ek 'n storie geskryf met 'n einde! Ek moet dit nog net verwerk, en dan voorle aan uitgewewers.

'n Paar maande gelede het ek begin met 'n kombersie vir die voetenend van my bed, en toe belangstelling verloor. Ek het die blokke opgediep, nog 'n paar gehekel, dit toe aanmekaar gehekel, en fraaie fraiings aangesit.

 

Dis van die sagste wol, Elle se Cuddly, en ek kan nie wag vir 'n koel dag om onder hom te le en lees nie.


Die laaste van my projekte was hierdie pragtige engeltjies- ek kan nie eens onthou hoeveel van hulle ek gehekel het nie. Hulle is so dierbaar, en dis so vinnig om hulle te maak, dat almal wat in Desember by my gekuier het, met 'n engel huistoe is. Daar is darem nog 'n paartjies oor:



Ek het die patroon hier gekry.

Fluit fluit, my storie vir vandag is uit!

08 Okt. 2012

Oumablokkies van verlange


Kom ek vertel gou vir almal wat dit nog nie ken nie, my blokkieskombers-storie:


So vyf jaar gelede is my manlief Nederland toe om vir 'n jaar daar te gaan werk. Sien, hy het wanderlust, en  ék het dinamiet nodig om my te beweeg. Toe gaan hy, en ek bly. Op daardie stadium het ek oumablokkies begin hekel om al by bietjies op te gebruik.


Met hierdie het ek begin. Ek het begin met 'n kleur, en doodgewoon aangegaan met die volgende as dit op was, ongeag of die ry klaar was.


My verlange na my beterhelfte het so handuit geruk, dat dit in 'n gereelde nagtelike hekelry ontaard het, wat later sommer ook  'n helder-oordag vergryping geword het. Bietjies-wol is opgebruik, en daar is baie bolletjies wol gekoop. Ek weet nie hoeveel nie.  Julle weet mos ek ly aan rustelose hande. Selfs my ma, wat eintlik liewer brei, het begeesterd geraak, en vir my 'n klompie blokkies gehekel. Geen twee blokkies is dieselfde nie.

 




  'n Vriendin het ook vir my 'n paar blokkies gehekel, maar hare lyk almal dieselfde, so ek het net een  gebruik.




14 Rye van 15 blokkies later was die eerste 2 maande en 'n bietjie om. 'n Kombers was klaar, en ek het my man in Nederland gaan haal. Hy het besluit om tog nie 'n jaar te bly nie.  Want hy het ook te veel verlang.







Ek het op die ou end baie meer blokkies gehad as wat ek nodig gehad het vir my dubbelbedkombers, so ek het die begin van nog so bont kombers, as die lus my beetpak, of my man weer vir 'n ruk weggaan!



 Die kombers bly mooi, al word hy hoe gereeld gewas. Ek is nogal verbaas daaroor, want ek het soveel soorte wol gebruik, en nie alles was ewe mooi nie. Om voor die hand liggende redes moet dit gereeld wasmasjien toe!


20 Aug. 2012

Augustus Blues

Ai, ek dink Augustusmaand is die maand waarvan ek die minste hou. Wispelturig, soos 'n vrou. Jy dink net dis nou amper lente, dan val die kwik, en jy gryp klappertand na al die warmgoed wat jy al wou wegpak. En die wind waai, alles is vol stof en ek tel elke nare siekwordding wat ek die winter vrygespring het, op.
Maar net voordat ek windverwaaid in 'n hopie gaan sit, sien ek dit- die eerste groen takkies en bome wat begin bot- beloftes van somer. Ek skep moed, en begin uitsien na groot lente skoonmaak, en vrolike ligte rokke, en voete in sandale. Vir oulaas skil ek lemoene, en eet dit in 'n sonkol, en woel saans knus onder my sagte komberse in, agter my Lief se rug.

Hier is die projek waarmee ek hier besig was:




My vriendin, Ella het vreeslik baie van hierdie vrolike sak gehou, toe hekel ek vir haar ook een. Ek het besluit om vir haar 'n volledige blomtuin te maak met voëltjies


en liewenheersbesies




 en al. Die liewenheersbesie is 'n rooi bobbeltjie, met krale vir kolle, en 'n ronde knopie vir 'n koppie.


Op die oomblik is ek besig om 'n nuwe kombersie vir my somerbed te hekel, met die sagste wol in pastelkleure.


 



11 Jul. 2012

Ek hiberneer

Die koue kom nog doer aan, dan gryp ek al my wolle, my bibmandjie en verskoon myself van die meeste sosiale bedrywighede. Soggens doen ek vinnig alles wat ek moet doen, en maak my dan tuis in 'n sonkol met 'n handwerkie en 'n luister- boek. Op die oomblik luister ek na David Copperfield van Dickens, en werk aan 'n heerlike projek, wat vir nog 'n rukkie geheim moet bly.

Hier is my nes. Die eerlike weergawe, sonder dat ek eers netjies gemaak het. Dis in ons spaarkamer wat eintlik meer dikwels my werkkamer is. As enige- iemand nuuskierig is oor hoe die res lyk, los vir my 'n boodskappie, dan sal ek vir julle wys.



Verlede maand het ek vir almal wat belangstellend gelyk het, mussies gehekel. Ek het nie 'n foto geneem van die eerste een wat ek vir 'n vriendin se dogter, Marli, 11, gehekel het nie, maar hier is die ander. Die twee pragtige dogtertjies behoort aan nog 'n vriendin, Tianca.


Carli (7)

 Mia (omtrent 14 maande)


 
 Tianca sin

 Al drie.


Nina (14,  Marli se sussie)  sin.

Ek het die patroon vir die mussies hier gekry, en veranderinge gemaak soos dit nodig was. Vir Nina se mussie het ek my eie kop gevolg.


 En waarmee ek tans besig is.


Nou gaan ek eers spring om al my middagwerkies te doen en voorbereidings te tref vir aandete. Voordat my Brombeer van die werk af kom en ek weer in die versoeking is om my hande aan die saligheid te belowe.

28 Jun. 2012

'n Baie ou poppie

Jare gelede het een van my dierbare tannies haar ou poppie vir my gegee.

 Genoemde tannie is diep in haar sestigs, so dit sou veilig wees om te reken die poppie kom uit die laat 1940's, of vroeg 1950's. Agter op sy ruggie( dit lyk vir my soos 'n seuntjie) staan "Rosebud Made in England  Patents pending"


Toe ek hom gekry het, was die rekkie wat sy koppie, armpies, en beentjies aanmekaar hou, stukkend. Ek het hom so stukkend weggepak, en toe die anderdag besluit dis nou tyd vir hom om iewers te pronk. Toe prakseer ek 'n nuwe rek.


Ek weet nie of julle kan sien nie, maar sy skouertjie is ook stukkend, en iemand(my Oupa?) het hom probeer regmaak, deur die plastiek te smelt, of so lyk dit. Dit het nie gewerk nie, maar die hakie waarmee die koppie aan die rekkie haak, is heel suksesvol op die manier reggemaak. My rekkie is amateuragtig, en nie styf genoeg nie, so sy kop, arms of bene val gedurig af, maar dit maak hom baie beweeglik, en baba- agtig.


Ek het vir hom 'n broekie

 'n truitjie


en 'n kappie gebrei.


Ek kon nie 'n patroon vir sy grootte vind nie, maar die 'n boere-dogter maak 'n plan, en hy is heel tevrede. Ek het nog nie vir hom die perfekte plekkie nie, hy trek maar oral rond. Die katte hou ook van hom.


 Mei-Mei


 Soekie

 Ek soek nou dringend vir die knapie 'n mooi outydserige naam. Enige voorstelle?