10 Sep. 2011

Hierdie week

het ek die snoesgoed weggepak (behalwe natuurlik snoeskat Soekie, sy is 'n vier seisoene kat), en die lente uitgepak.
 Ek het winter uit my gordyne uitgewas, en besluit dis tyd vir 'n hele nuwe-lente kamer. 


 Ja, ja, ek weet die kussings is skewerig, maar ek was haastig, 'k?
En ek soek nog die regte kleur groen oorgooideken vir die voetenend, maar vir eers doen die laken maar diens. Anzelle het dit lentegroen genoem toe sy klein was.





  

Na al my harde werk, het ek by Melanie gaan koffie drink, en kyk wat gee sy vir my huistoe:




Lyk haar aronskelke nie pragtig teen my wit gordyne nie?
Hierdie was oupa Thys se stoel. Ek het die fraiing kleed uit my linnekas opgediep. Dis vir my so 'n mooi groen. Die tafeltjie kom uit my Lief se ouerhuis- dit was eers bruin, maar hy het dit vir my gered.



Ouma Susie het die laslappiekussintjie vir my gemaak. Sy is 89 en nog steeds aan die werskaf.


Kyk hoe guitig pronk Marilyn Monroe so onverwags tussen die ander ou-tannie lappies- sy laat my glimlag.

Die lekker ding van winter

is snoesigheid, daarom is ek so bietjie jammer dis verby.


Wag, al my snoesgoed is nie op die foto nie....




So ja, dis beter!

27 Aug. 2011

Die Vrouemonument

en die Anglo-Boereoorlogmuseum het 'n baie diep indruk op my gemaak. Terwyl ek " 'n Dag in Junie" geskryf het, het ek alles gelees wat ek oor die verwoestende oorlog kon kry, maar om dit te sien, het my ontroer en met 'n diepe dankbaarheid gelaat vir die vrede en vryheid waarin ons tans leef.


President Steyn
deur Jan F. E. Celliers

Dis skoon vir 'n held om te val
aan die voete van wie hy gedien het
skoon vir sy skeidende gees
dat moeders die laaste mog wees
wat sy sterwende oog gesien het

Maak hom 'n graf op die grond
wat sy liefde gewei en geseën het:
dis skoon vir 'n held om te rus
by die voete van wie hy beween het.

President M.T. Steyn, president van die republiek van die Vrystaat, het hom beywer om die Vrouemonument op te rig as nagedagtenis en eerbetoon aan die vele vrou en kinders wat gedurende die Anglo-Boereoorlog
gesterf het. Hy is skielik oorlede op 28 November 1916 hy die dames van die Oranje Vroueveging toegespreek het. Heel gepas is hy dan ook begrawe aan die voete van die vrouemonument.



22 Aug. 2011

Laasnaweek


was ons toe Bloemfontein toe sodat ek die slypskool kon bywoon wat deel was van my prys. Irma Joubert is, buiten die feit dat sy 'n uitstekende skrywer is, ook 'n bekwame leermeester, en 'n warm, sprankelende vrou wat haar skryfgeheime met ons gedeel het. Dit was 'n absolute voorreg om haar te ontmoet. Die lede van die Bloemfontein Skrywersvereniging het gesorg dat ek die dag nog lank sal onthou!
Ons het in De Kat gebly, 'n knus gastehuis, waar ons hartlik deur Sophie ontvang is.
Op die gastehuis se buitemuur. Raai hoekom het ek die plek gekies?
Buiten hulle billike tariewe natuurlik.


'n Pragtige ou huis met hout vloere, vensterrame en die mooiste kandelare. Ons het 'n yslike badkamer gehad met 'n borrelbad groot genoeg vir twee.

Ek was nie te besig nie,

net so effens lui. Laasweek se onverwagse koue het my laat soek na sonkolle, boeke en naaldwerk. Die beste van twee werelde is natuurlik as ek kan lees terwyl ek naaldwerk doen.


Nee, ek kan nie rerig die twee gelyk doen nie (maar my liewe moeder kan brei en lees gelyk, ek belowe, ek het dit baie met my eie oe aanskou). Wat ek kan doen is om audio boeke van die internet af te laai, en dan na voorlesings te luister terwyl ek na hartelus borduur, of kook, of huisskoonmaak. My gunsteling webwerf hiervoor is www.librivox.com As iemand gewonder het, dis waarmee ek die afgelope tyd besig was. Die handwerk wat ek gedoen het sal weldra onthul word.