Toe ek klein was, was oujaarsaand 'n spontane, onbeplanne makietie-aand. Baie dikwels was ons op my pa se grootword-plaas, Doringbult, waar daar altyd familie en vriende bymekaargekom het.
My oupa en ouma, en later Oom Basie, se harte en huis was altyd oop, en almal wat hulle geken het, het 'n plek gehad om heen te gaan. Die mees opwindende ding was vuurbal, wat die grootmense in die veld voor die huis gespeel het. 'n Sak is in 'n bal gerol, met 'n lang draad handvatsel. Dan is dit in diesel geweek, aan die brand gesteek, en heen en weer gegooi. Pragtig op 'n donker aand.
Toe ons getroud is, het my Lief en ek graag Vryburg toe gegaan om oujaar saam met ons ouers wat almal daar gebly het, te vier. Laataand het ons die kinders by baie gewillige oupas en oumas gelos, en die nuwejaar in gaan dans.
Maar dinge verander, en mettertyd het ons die jaar by ons eie huis uitgesien. Almal wat wou kon kom, ons kinders se maats ook. Met vonkelwyn, en musiek het ons een jaar uit en die volgende in gesien, van om en by 1998 af tot nou.
Vanaand gaan ons by passela-sus Christien en haar Engelsman braai. Ek was bietjie hartseer toe ek die lagie-slaai wat al 'n oujaarsaan tradisie geword het, maak omdat ons eie huis vanaand stil en alleen gaan wees. Maar ek is terselfedertyd diep dankbaar vir 'n stil, rustige dag wat vanjaar in my skoot geval het, en ek gryp dit met albei hande aan.
En hier is 'n gedig:
Ballade van die nagtelike ure
deur NP van Wyk Louw
Ons liefde het uitgeblom
tussen elfuur en kwart oor twee-
hier sit ek onder die dagbreek
hier sit ek onder die dagbreek
half-nugter eb verlee
op die koel stoeptreetjies êrens
waar ek 'n blink waterkraan sien,
in die ure van die donker dors
tussen twaalfuur en smôrrens om tien.
Om elfuur was jou liggaam
die honger en dors in my,
as jou skewe papier-kalot
ver deur die danssaal gly.
Om twaalfuur was jy 'n ligte brug,
'n hoë, gevaarlike gang
bo my klein verwildering
tussen pyn en sterwe gehang.
Om eenuur was jou hare
vir my vingers 'n bose strik,
en jou lyf soos swart stil water
en jou asem soos 'n snik.
En nou het die môre my
oor die rand van die glas gemors
op die stoep by die kraan wat blink
in die uur van die donker dors.