12 Okt. 2011

Uiteindelik

Kan ek vir julle wys waaraan ek so geheimsinnig gewerk het: 





'n Hussif. Ek het dit eendag raakgelees in 'n storieboek en gaan opsoek wat dit beteken.  'n Brandende begeerte het in my ontstaan om een te maak. Ek oordryf nie. My arme huismense moes na prente en foto's daarvan kyk. Hulle is onderwerp aan sketse en planne. Ek het  by Die Werksmandjie in gestrompel en uit gehuppel, of andersom, op soek na die regte stukkie materiaal, die regte kleur gare, die regte lint, die regte kantjies. Ek het my baba soos 'n jaloerse ma bewaak, en die katte wat gewoonlik oral mag lê, mag nie binne 'n meter radius daarvan gekom het nie. Dis is in sagte materiaal toegedraai, en na Melanie toe gevat om my vordering te besigtig en te bewonder. As my noointjieskind kom kuier is sy skaars gegroet voordat sy  daarna moes gaan kyk. "Kyk die rosies" het ek gemymer, kyk die ou skoenlappertjies." Maar ek dwaal af.



'n Hussif is 'n naaldwerkstelletjie wat in ou dae vir mans saamgegee is oorlog toe. Hulle moes mos ook maar knope aanwerk en some insit en skeure regmaak. Die soldate het daarna verwys as 'n 'housewife' wat in die volksmond toe 'hussif' geword het. Dit was natuurlik onopgesmuk (ek het een uit die Anglo Boere Oorlog in lewende lywe gesien by die museum by die Vrouemonument in Bloemfontein), maar dames het die handigheid daarvan besef, en vir hulleself ook daarvan begin maak. Eie aan ons vroulike aard, het hulle dit begin versier, en dit het as het ware klein kunswerkies geword. Gaan kyk gerus hier en op een van my gunsteling blogs.



Ek het die vlindertjies van organza lint en krale gemaak.










As 'n mens dit oopvou, lyk dit so:

 Aan die linkerkant is 'n sakkie (van 'n bree stuk katoenkant) vir 'n maatband, lostrekkertjie ens.
 Aan die regterkant 'n plek vir 'n skêrtjie. 'n Lussie met 'n drukkertjie aan keer dat die skêrtjie uitval.














                                                  

In die middel die vingerhoed. Ek het die houertjie gehekel, en die rosies op die punte van die toetrektoutjie borduur.
Dit vou dan nog 'n keer oop
 en daar is ringetjies waaraan sy borduurgare of lint kan vasmaak
 'n naaldeboekie van vilt

 en 'n liewe speldekussintjie.
Onder die skêrtjie is 'n koevertjie vir knopies ens.

Op die agterkant is 'n sakkie vir 'n notaboekie en pen.

Ek het 'n dun stukkie wateersel tussen die lae materiaal gesit om dit effens meer toegeeflik te maak, en organza lint om dit toe te strik. My masjien het vir my die stikwerk gedoen, en die borduurwerk het ek met die hand gedoen. Die mandjie voor-op is gehekel, en toe vasgewerk.







Ek weet nie hoeveel ure ek hieraan spandeer het nie, maar elke stekie was 'n plesier, en die eindproduk baie bevredigend. En dit is vir Ella net so 'n groot vreugde soos vir my!

Ek jeuk om nog een te maak, maar eerste dinge eerste. Die trourok en Gerdie se markgoed wag. (Gerdie is 'n vreeslike innoverende vriendin met matelose energie en ondernemingsgees. Sy hou die 3de tot die 5de November 'n handwerkmark  in die Hervormde Kerk van Midstream. Los vir my 'n boodskap as jy meer van haar Hartmark wil weet.)

3 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Dis so mooi, jy moet 'n baie geduldige mens wees.

Anoniem het gesê...

Ek hoop dat 'n sekere Ousus onthou, dat daar 'n Kleinsus is, wat die einde van die maand verjaar. Sy het darem al 'n breisak, maar nog nie 'n naaldwerk stel nie.

Santie het gesê...

Ek het baie geduld,ja, miskien soms te veel; ek byt vas soos 'n boelhond as ek iets graag wil doen, en aanvaar dit moeilik as ek iets nie regkry nie.Ek het eendag vir 400km van Centurion tot in Vryburg gesukkel om 'n roos te hekel, van 'n voorbeeld lappie van my lankal-oorlede ouma Dorie af. Dit was voordat ek en Google so 'n hegte vriendskap gesmee het:)

Die genoemde Ousus onthou haar Kleinsus verjaar- sy het hope blink planne en visioene van perfekte geskenke!