03 Mrt. 2012

Beloftes maak skuld

Siende dat Anzelle laasjaar op haar verjaardag getroud is, het ek nie vir haar verjaarkoek gebak nie, maar het belowe om dit op 'n later stadium te doen.As daar een ding is wat daardie noointjieskind van my nooit sal vergeet nie, is dit die belofte van koek!
 Die woorde: 'What are little girls made of... sugar and spice and all things nice' is sekerlik met my kind in gedagte geskryf. So, ek het my rekenaar nadergetrek, "Red Velvet Cake" geGoogle, en my resepteboeke gefynkam, uiteindelik my voorskoot aangestrik en 'n koek gebak. Dit was pragtig, en nog lekkerder as wat dit gelyk het. Klam, met 'n sjokolade-smakie, en perfek gerys.



Die grootste gedeeltes van die resep kom uit 'Koeke ter viering van Liefde en Lewe' van Callie Maritz en Mari-Louise Guy.  Ek het die hoeveelheid kakao in die oorspronklike resep vermeerder, omdat ek dit nie kon proe nie, en miskien so 'n bietjie meer kleursel ingegooi. Die Roomkaasversiering kom ook uit hulle boek, en is een van daai resepte wat ek al uit my kop uit ken, so gereeld maak ek dit.


Rooi Fluweel Koek 















Verhit die oond tot 180
Berei 3 laagkoekpanne

Bestanddele:

350g meel
300g suiker
5ml koeksoda
75ml kakao
5ml sout
250ml karringmelk
2 eiers
375ml kookolie
5ml asyn
25ml rooi koekleursel
5ml vanielje

Klits eiers, suiker, olie, karringmelk, koekkleursel, asyn en vanielje saam
Sif kakao, meel, koeksoda, bakpoeier en sout saam
Meng nat en droee bestanddele
Verdeel eweredig in die drie panne
Bak vir so 40 min
(Hier kom nie bakpoeier in nie!)



(Ek het die koeklae in die vrieskas gesit voordat ek dit versier het. Dit help gewoonlik dat die koek nie soveel krummel nie.)

Versier met Roomkaas versiering

250ml Roomkaas
250g sagte botter
280g Versiersuiker
5ml vanielje  

Meng tot glad, versier die dieprooi fluweelkoek daarmee.
 NB die koek op die foto in die resepteboek is ook met rooi roosblare versier. Dis Pragtig, maar maak seker die rose is nie gifstowwe gespuit nie, en dat dit goed gewas is voordat jy dit gebruik.

3 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Volgende keer wil ek asb ook proe! Hoop Anzelle het dit geniet! Groete Tianca

Anoniem het gesê...

Daar word bakpoeier genoem maar nie hoeveel nie. Is dit sodat ons sin nie so lekker soos joune moet kom nie??????

Santie het gesê...

Groot askies vir die bakpoeier- daar is nie bakpoeier in die resep nie, net koeksoda. Ek gaan dit dadelik regmaak. Ek hoop almal sin is so lekker uit as wat ons sin was:)